Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SR belowe om US-studente te dien
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 26/02/2020

​​Lede van die Universiteit Stellenbosch (US) se nuutverkose Studenteraad (SR) vir die 2019–2020 akademiese jaar het by hul inhuldiging en eedaflegging onderneem om hul medestudente sonder vrees of partydigheid te dien.

Die inhuldiging- en eedafleggingseremonie is Dinsdag (26 Februarie 2020) in die Attie van Wijk-ouditorium by die Fakulteit Teologie gehou. Die seremonie, wat ook as 'n formele bekendstelling van die nuwe SR-lede aan die kampusgemeenskap gedien het, is waargeneem deur mnr Nicholas Carroll, hoofregter en voorsitter van die Studentehof, met lede van die SR wat 'n eed afgelê en 'n belofte onderteken het om alle studente sonder vrees of voorkeur te dien – met die waardes van uitnemendheid, deernis en verantwoordbaarheid as hul rigsnoer.

Die nuutverkose SR-voorsitter, Lewis Moboko, het gesê hy stel 'n inklusiewe Universiteit Stellenbosch in die vooruitsig en hoop dat dit teen die einde van hul termyn 'n plek sal wees “waar jou ras, geloof, seksualiteit en geboorteland jou nie sal verhinder om jou volle potensiaal te verwesenlik nie." Hy het gesê hulle is opgewonde as SR en wil graag in nuwe rigtings beweeg.

“Ons skakel met ons studente en personeellede in die proses om uit te vind wat hul aspirasies, hul drome is, wat hulle wil hê die Universiteit Stellenbosch moet wees, en waaroor hulle angstig is namate ons vorentoe beweeg," het hy gesê.

“My aanbod aan julle, mede-Maties, is om saam met my kollegas te werk, van hulle te leer, saam met hulle te lei en om elke individu in ons span te ondersteun om hul grootste potensiaal te bereik. Ek sal my hart en volle toewyding gee, en geen student sal uitgesluit word nie. As die SR is ons hier om te luister en te help," het Moboko gesê.

Hy het ter afsluiting gesê hulle is bereid om hand-aan-hand saam met die bestuur en alle belanghebbers van die Universiteit te werk om Stellenbosch 'n wonderlike plek vir alle studente te maak.

Anele Mdepa, bestuurder van die Kantoor vir Studenteregering, het gesê sy kantoor sien daarna uit om saam met die nuwe SR te werk.

“As mense wat met studenteleiers werk, het ons 'n verantwoordelikheid om hulle goed te leer, en ons is bevoorreg by die US omdat ons goeie waardes het wat ons help om leiding aan ons studente te gee," het hy gesê.

“Ons leer ons studenteleiers beginsels soos verantwoordbaarheid, deursigtigheid en verantwoordelikheid." Volgens hom vorm hierdie beginsels die grondslag wanneer jy tot 'n magsposisie verkies word.

“Deur hulle hierdie beginsels te leer, kan ons die korrupsie wat tans ons land vernietig, uitwis," het Mdepa bygevoeg.

Prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor vir Leer en Onderrig aan die US, het in sy openingsrede ook erkenning gegee aan die werk wat die uitgaande SR van die 2018–2019 akademiese jaar gedoen het om 'n grondslag te lê waarop die huidige SR kan voortbou. “Ek wil ook erkenning gee aan en waardering uitspreek vir die harde werk van die verkiesingsameroepers en hul toewyding om demokrasie by die US te verdiep en vir die finalisering van die verkiesingsproses met die onlangse verkiesing van die voorsitter en ondervoorsitter," het hy gesê. 


Volgens Schoonwinkel verbind die SR deur die aflegging en ondertekening van die eed hulself tot die gestanddoening van die US se waardes en hulle verbind hulle daartoe om saam met die Studenteparlement te werk om verantwoordbaar en deursigtig in die uitvoering van hul amptelike pligte te wees.

Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het gesê die US neem studenteleierskap baie ernstig op, en daarom bied hulle hul ondersteuning, raad en leiding aan die SR gedurende hulle leierskapsreis as SR-lede.

Die SR-ampsdraers vir 2019–2020 is soos volg:

  • Lewis Mboko: Voorsitter
  • Wamahlubi Ngoma: Ondervoorsitter
  • Brandon Murray: Tesourier
  • Fadeelah Williams: Sekretaris
  • Lwazi Phakade: Kommunikasie
  • Chloe Krieger: Studente-welwees
  • Jeff Ngubeni: Transformasie
  • Sifiso Zungu: Leierskap en ontwikkeling
  • Jonathan Stokes: Beleidsbeampte
  • Ntsako Mtileni: Tygerberg SR-voorsitter
  • Tebogo Ndaba: Voorsitter van die senior Primkomitee
  • Ingrid Heydenrych: Voorsitter van die Primkomitee
  • Michael Burke: Ondervoorsitter van die Primkomitee
  • Thembakazi Swartboot: Militêre Akademie-studentekaptein
  • Yanga Keva: Voorsitter van die Verenigingsraad
  • Xoli Njengele: Akademiese Belangeraad

​ Foto deur Anton Jordaan.