Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Regter-president vra vir ‘ekonomiese insluiting’ in stryd vir sosiale geregtigheid
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 24/02/2020

Daar sal “ekonomiese insluiting vir almal" moet wees om die stryd vir sosiale geregtigheid in Suid-Afrika aan te help.

Regter-president Dennis Davis het dit beklemtoon toe hy die inwydingsrede van die jaarlikse Sosiale Geregtigheid-lesing verlede week op Stellenbosch gelewer het. Die lesing het deel uitgemaak van die Universiteit Stellenbosch (US) se vieringe van Wêrelddag vir Sosiale Geregtigheid (20 Februarie 2020). Davis het gepraat oor die onderwerp, “Sosiale geregtigheid en ekonomiese insluiting: Waarheen Suid-Afrika?".

“Die kwessie van sosiale geregtigheid word met dié van ekonomiese uitsluiting verbind. Bestaande patrone van armoede en ongelykheid bedreig ongetwyfeld die moontlikheid van voortgesette demokrasie en die stabiliteit van Suid-Afrika as land. 'n Vars stel idees moet geïmplementeer word om die handhawing van die belofte van herverdeling te verseker en om die waardes en doelwitte van die Grondwet te bereik," het Davis gesê.

1-17.jpg

Davis het ook in sy lesing 'n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om 'n eerlike debat te voer oor 'n verkiesingstelsel wat 'n grondbeginsel “eerder kan versterk as belemmer" wat sosiale geregtigheid en politieke en ekonomiese insluiting bevorder.

Die lesing is deur prof Thuli Madonsela, bekleër van die Leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US, aangebied en die oogmerk is om bewustheid te skep terwyl dit ook vakkundigheid bevorder en regskundigheid oor sosiale geregtigheid verbreed.

Dit maak deel uit van verskeie aktiwiteite wat deur die Leerstoel vir Sosiale Geregtigheid en haar M-plan (Mosa-plan vir Sosiale Geregtigheid) wat in 2018 bekend gestel is. Die Sosiale Geregtigheid M-Plan is 'n sosiale geregtigheid-versneller met die doel om die beëindiging van armoede en die vermindering van strukturele ongelykheid teen 2030 in die hand te werk in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Verenigde Nasies (VN) se strategiese ontwikkelingsdoelwitte.

1-16.jpg

1-13.jpg
Davis het ook Madonsela se M-plan en die werk wat sy reeds in die stryd vir sosiale geregtigheid in die land gedoen het, geloof. Hy het egter gemaan dat probleemoplossing nie net 'n taak vir “grootdenkendes" en mense in magsposisies nie.

“Ons is dit aan ons kinders en toekomstige geslagte verskuldig om almal saam te werk om 'n demokratiese samelewing, gegrond op menswaardigheid, gelykheid en vryheid vir almal wat in hierdie land woon, te skep."

MEER OOR REGTER DENNIS DAVIS

Regter Dennis Davis het by Herzlia skoolgegaan en aan die Universiteit van Kaapstad (UK) en Cambridge studeer. Hy het in 1977 by die UK begin klasgee en is in 1989 in 'n persoonlike leerstoel in Handelsreg aangestel. Tussen 1991 en 1997 was hy die direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Regstudies aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was van 1995 tot 1997 gesamentlik by Wits en die UK aangestel.

Hy is in 1998 as 'n regter in die Hooggeregshof en in 2000 as regter-president van die Mededingingsappèlhof aangestel. Ná sy aanstelling in die regbank het hy voortgegaan om klas te gee in konstitusionele reg en belastingreg aan die UK, waar hy 'n ereprofessor in die reg is.

Davis is ook 'n lid van die kommissie van ondersoek na Suid-Afrika se belastingstruktuur en was 'n tegniese raadgewer vir die Grondwetlike Vergadering waar die onderhandelinge vir Suid-Afrika se tussentydse en finale grondwet geformuleer en voltooi is. Tussen 1993 en 1998 was hy aanbieder van die bekroonde aktualiteitsprogram op TV, Future Imperfect. Hy was ook al 'n besoekende dosent en professor aan die Universiteit van Cambridge, Florida, Toronto en Harvard. 

Fotos deur Henk Oets.