Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
2020 gaan ‘jaar van aksie’ wees by die US
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 21/02/2020

​​​“Ons is besig om vorentoe te beweeg deur van idees oor te gaan na aksie." Met hierdie woorde het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), die eerste personeelbyeenkoms van 2020 geopen.

De Villiers het Donderdag by die byeenkoms in die ouditorium van die Adam Small Teaterkompleks spesifiek na die spesiale datum van die dag, 20-02-2020, verwys en aan die personeel teenwoordig gesê 20-20 visie is nie noodwendig altyd perfek nie, maar ten minste is dit duidelik. “En dit is waarna ons vanjaar strewe – ʼn baie duidelike visie."

Met verwysing na die US-bestuur se eerste groot strategiese vergadering van die jaar, die Institusionele Beplanningsforum (IBF) wat verlede week gehou is, het hy gesê die oorhoofse tema van hul gesprekke by die forum was dat hulle nou daad by die woord moet voeg. “Ons is goed met planne maak, ons het 'n baie stewige strategie in plek, maar ons beweeg nou van planne na aksie."

De Villiers het met die US se ses kern strategiese temas as riglyn, sommige van die opwindendste ontwikkelings by die US aangeraak.

Institusionele hoogtepunte waarna hy verwys het, sluit in:

  • As 'n florerende universiteit, is die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) aangewys as die plek waar die Nobelstigting-simposium in Oktober vanjaar gehou gaan word. Die simposium gaan 'n jaarlikse geleentheid wees, met planne wat reeds tot 2023 in plek is. 
  • Regter Edwin Cameron word op 8 April as die 15de kanselier van die US ingehuldig. 
  • Die US se verbintenis daartoe om 'n transformerende studente-ervaring aan studente te bied, het daartoe gelei dat die bestuur 'n sterk standpunt teen die styging in geslagsgebaseerde geweld op kampus ingeneem het. Die Rektoraat het ses werkgroepe saamgestel.
  • Die US is as 'n stigterlid van die “Global Alliance of Universities on Climate" (GAUC) gekies. Die US is die enigste universiteit in Afrika op die lys. Die Universiteit is ook besig om 'n Skool vir Klimaat, soortgelyk aan die Skool vir Datawetenskap, op die been te bring.
  • Die US het verlede jaar sy Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke bekend gestel, met die navorsingsleerstoel wat deur Standard Bank geborg word. Prof Kanshukan Rajatnam is met ingang 1 Januarie 2020 as direkteur van die skool aangestel.
  • Die aantal navorsingsleerstoele by die US het meer as verdubbel van 23 in 2013 tot 48 in 2019, met nog 'n bykomende ses wat verlede maand bygevoeg is.

Die Rektor het ook die jongste nuus oor die handelsmerkhernuwingsproses wat tans aan die gang is, verskaf.

Volgens De Villiers is die doel van die hernuwing van die US-handelsmerk om institusionele transformasie in die rigting van die gewenste US soos uiteengesit in die Visie 2040, te fasiliteer.

Hy het gesê die eerste stappe is reeds voltooi, en die volgende stap is goedkeuring teen Junie, waarna 'n splinternuwe handelsmerk-handleiding en -gereedskapkis in Augustus sal volg.

Die Universiteit het ook 'n webverfrissingsprojek van stapel gestuur en die Rektor het personeellede aangemoedig om aan die proses deel te neem deur terugvoer te gee via die webverfrissingsopname wat vroeër vandeesweek uitgestuur is.

Nog 'n belangrike besprekingspunt by vanjaar se personeelbyeenkoms was personeelgesondheid en -welstand.

Prof Nico Koopman, in sy hoedanigheid as Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het gesê die US wil 'n voorkeurwerkgewer wees, daarom prioritiseer die instelling die gesondheid en welstand van sy personeel.

“Ons is besig om aan 'n taakspan vir personeelgesondheid en -welstand, onder leiding van dr Pierre Viviers, te werk. Daar gaan ook 'n raadgewende span vir personeelgesondheid en -welstand wees en laastens sal daar 'n simposium oor personeelgesondheid en -welstand wees."

Dr Ronel Retief, die US se Registrateur, het terugvoer oor die nuwe SUNStudent-portaal gegee. Dié stelsel sal teen die begin van 2021 in werking gestel word.

Die US se Hoofdirekteur: Finansies, mnr Manie Lombard, het terugvoer oor die US se nuwe finansiële stelsel, SUNFin, gegee. Dit is 'n nuwe gebruikersvriendelike, webgebaseerde rekenaarkoppelvlak vir die finansiële stelsel. SUNFin sal die sogenaamde “swart skerm" vervang en sal na verwagting teen Januarie 2021 in werking gestel word.

Die volgende personeelbyeenkoms word op 3 Augustus 2020 gehou.

Klik hier​ om die aanbieding af te laai.

Klik hier om die video te kyk.