Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die wêreld slaag nie daarin om aan kinders ʼn gesonde lewe en ʼn klimaat geskik vir hul toekoms te bied nie
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 19/02/2020

ʼn Navorser van die Universiteit Stellenbosch (US) was betrokke by ʼn sleutel-verslag deur ʼn kommissie van navorsers wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), Unicef en The Lancet saamgeroep is en wat bevind het die toekoms van elke kind en adolessent wêreldwyd word direk bedreig deur ekologiese agteruitgang, klimaatsverandering en uitbuitende bemarkingspraktyke wat kinders aan hoogs geprosesseerde kitskos, suikerdrankies, alkohol en tabak blootstel.  

Nie een enkele land beskerm kinders se gesondheid, omgewing en toekoms voldoende nie, lui ʼn verslag van meer as 40 kundiges op die gebied van kinder- en adolessentegesondheid van oor die wêreld heen.

“Kinders moet nie net oorleef nie, hulle moet ook gedy ­­ –­ en lande moet die nodige omstandighede skep wat kinders sal help floreer," sê prof Mark Tomlinson van die US, wat by die samestelling van die verslag betrokke was.

“Die verslag sluit twee indekse in wat die omvang van lande se vordering meet wat betref hul vermoë om te verseker alle kinders is in staat is om te floreer en ʼn gelukkige lewe te lei," verduidelik Tomlinson, Direkteur van die Instituut vir Lewensloopnavorsing aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

“Die een indeks rangskik lande wat betref die mate waarin hul kinders floreer ­– die mate waarin hulle voldoen aan die skep van omstandighede vir kinders om te oorleef én te gedy. Die tweede indeks rangskik lande op grond van die oorskryding van die 2030-teikens vir die verlaging van koolstofuitlatings. Die twee profiele bied ʼn breër prentjie van lande se huidige prestasie om te verseker kinders oorleef en gedy, teenoor die moontlike skade wat hulle toekomstige generasies kinders deur kweekhuisgasuitlatings kan berokken," sê Tomlinson.

“Suid-Afrika is ʼn hoër middeklasinkomsteland wat die 150ste plek op die kindervolhoubaarheidsindeks en die 127ste plek op die floreringsindeks beklee. Vergeleke hiermee is Viëtnam (ʼn laer middelinkomsteland) in die 58ste plek op die floreringsindeks en 85ste op die volhoubaarheidsindeks. Suid-Afrika se posisie op die ranglys is dus ʼn bron van kommer," waarsku Tomlinson.

“Suid-Afrika het oor die laaste dekade betekenisvolle vordering gemaak met die verbetering van kinderoorlewing, asook wat betref die merkwaardige uitbreiding en beskikbaarstelling van anti-retrovirale behandeling vir miljoene MIV-positiewe Suid-Afrikaners. Ons het ook merkwaardige vordering gemaak met die verhoging van lewensverwagting en die aanpak van nuwe bronne van kommer soos vetsug en ander nie-oordraagbare siektes," sê Tomlinson.

“Maar Suid-Afrika is ook die ongelykste land ter wêreld, met aansienlike verskille in toegang tot gesondheidsorg van gehalte (veral in landelike gebiede), tesame met koolstofuitlatings wat ver bo 2030-teikens is (vandaar ons baie lae rangordeplek op die volbouhaarheidsindeks). Huidige pogings soos Nasionale Gesondheidsversekering het ten doel om ongelykheid te verminder en toegang tot gesondheidsorg van gehalte vir alle Suid-Afrikaners te verseker. Ons plek op die rangorde sal verbeter as ons dit kan verwesenlik, tesame met voortgesette omgewingspogings om uitlatings te verminder en die uitbreiding van openbare gesondheidsinisiatiewe soos ʼn suikerbelasting."

Verskerpende klimaatsverandering bedreig elke kind se toekoms

Die verslag sluit ʼn nuwe globale indeks van 180 lande in wat prestasie met betrekking tot die florering van kinders vergelyk. Dit sluit in maatreëls vir kinderoorlewing en -welstand, soos gesondheid, onderwys en voeding; volhoubaarheid, met ʼn plaasvervanger vir kweekhuisgasuitlatings, en billikheid, of inkomstegapings.

Volgens die verslag moet die armste lande meer doen om hul kinders se vermoë om ʼn gesonde lewe te lei te ondersteun, maar bedreig buitensporige koolstofuitlatings – veral van ryker lande ­– die toekoms van álle kinders. As aardverhitting ­– ooreenkomstig huidige vooruitskattings – teen 2100 4°C oorskry, sal dit rampspoedige gesondheidsgevolge vir kinders inhou weens stygende seevlakke, hittegolwe, die toename in siektes soos malaria en dengue-koors, asook wanvoeding.

Die indeks toon dat kinders in Noorweë, die Koreaanse Republiek en Nederland die beste kans op oorlewing en welstand het, terwyl kinders in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Tsjad, Somalië, Niger en Mali die swakste kans het. Maar toe navorsers CO2-uitlatings per capita in berekening gebring het, het die toplande agter geraak: Noorweë beklee die 156ste plek, die Koreaanse Republiek die 166ste en Nederland die 160ste plek. Hul CO2-uitlatings per capita is 210% meer as hul 2030-teiken. Die Verenigde State van Amerika, Australië en Saoedi-Arabië tel onder die tien ergste uitlaters.

“Meer as 2 miljard mense leef in lande waar ontwikkeling deur humanitêre krisisse, konflik en natuurrampe belemmer word. Dit is probleme wat toenemend met klimaatsverandering verbind word," sê minister Awa Coll-Seck van Senegal, medevoorsitter van die Kommissie. “Sommige lande het van die laagste CO2-uitlatings, tog is baie van hulle blootgestel aan die ergste impak van ʼn vinnig veranderende klimaat. Die bevordering van beter omstandighede waarin kinders nasionaal kan oorleef en floreer, hoef nie ten koste van die internasionale erodering van kinders se toekoms plaas te vind nie."

Die enigste lande wat op koers is om CO2-uitlatingteikens per capita teen 2030 te klop terwyl hulle ook betreklik goed vaar (binne die top-70) wat kinderfloreringsmaatreëls vaar, is: Albanië, Armenië, Grenada, Jordanië, Moldova, Sri Lanka, Tunisië en Viëtnam.

Skadelike kommersiële bemarking het kinders ten prooi – met kindervetsug wat 11-voudig toeneem

Die verslag plaas ook die reële bedreiging wat skadelike bemarking vir kinders inhou in die kollig. Volgens statistieke sien kinders in sommige lande in een jaar meer as 30 000 advertensies net op TV, terwyl die blootstelling van jong mense in die VSA aan vaping-advertensies (e-sigarette) met meer as 250% oor twee jaar toegeneem en meer as 24 miljoen jong mense bereik het.

Prof Anthony Costello, een van die Kommissie se outeurs, het gesê: “Selfregulasie in die bedryf het misluk. Studies in, onder vele meer, Australië, Kanada, Mexico, Nieu-Seeland en die VSA, het getoon dat selfregulasie nie kommersiële vermoë om aan kinders te adverteer gekortwiek het nie. Al het die bedryf in Australië byvoorbeeld selfregulasie onderneem, is kinder- en adolessente kykers steeds in net een jaar van sokker, krieket en rugby op TV aan 51 miljoen alkoholadvertensies blootgestel. En die realiteit kan veel erger wees: Ons beskik oor min feite en syfers oor die reuse-uitbreiding van advertensies op sosiale media en algoritmes wat ons kinders teiken."

Kinders se blootstelling aan kommersiële bemarking van gemorskos en suikerdrankies word geassosieer met die koop van ongesonde kos, oorgewig en vetsug, wat roofsugtige bemarking verbind met die verontrustende toename in kinderobesiteit. Die getal vet kinders en adolessente het van 11 miljoen in 1975 tot 124 miljoen in 2016 toegeneem – ʼn 11-voudige toename, met verskriklike individuele en gemeenskapskoste.

ʼn Manifes vir onmiddellike aksie oor kinder- en adolessentegesondheid

Om kinders te beskerm doen die onafhanklike Kommissie-skrywers ʼn beroep op ʼn nuwe globale beweging wat deur en vir kinders gedryf word. Spesifieke aanbevelings sluit in:

1. Staak CO2-uitlatings met die grootste dringendheid om te verseker kinders het ʼn toekoms op hierdie planeet;
2. Plaas kinders en adolessente in die middel van ons pogings om volhoubare ontwikkeling te bewerkstellig;
3. Nuwe beleide en beleggings in alle sektore ten bate van kindergesondheid en -regte;
4. Inkorporeer kinderstemme in beleidsbesluite;
5. Verskerp nasionale regulering van skadelike kommersiële bemarking, gerugsteun deur ʼn nuwe Opsionele Protokol tot die VN-konvensie oor die Regte van die Kind.

Dr Richard Horton, hoofredakteur van The Lancet-joernaalfamilie, het gesê: “Die geleentheid is groot. Die bewyse is beskikbaar. Die instrumente is beskikbaar. Van staatshoofde tot plaaslike regerings, van VN-leiers tot kinders self, vra die Kommissie vir ʼn nuwe era van kinder- en adolessentegesondheid. Dit sal moed en toewyding verg. Dit is die belangrikste toets van ons generasie."

“Van die klimaatskrisis tot vetsug en skadelike kommersiële bemarking, moet kinders wêreldwyd worstel met bedreigings wat ʼn paar generasies verlede ondenkbaar was," het Henrietta Fore, Uitvoerende Direkteur van Unicef, gesê. “Dit is tyd om kindergesondheid opnuut te bedink, kinders aan die bopunt van elke regering se ontwikkelingsagenda te plaas en hul welstand bo enige ander oorwegings te stel."

“Hierdie verslag toon dat die wêreld se besluitnemers vandag se kinders en jeug faal: om hul gesondheid, hul regte en hul planeet te beskerm," het dr Tedros Adhanom Ghebreyesus, Direkteur-generaal van die WGO, gesê. “Hierdie moet ʼn wekroep wees vir lande om in kindergesondheid en -ontwikkeling te belê, verseker dat hul stemme gehoor word, dat hul regte beskerm word en dat ʼn toekoms geskep word wat geskik vir kinders is."