Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Koronavirus: Jongste nuus en Behandeling
Outeur: Dr. Lynne Julie
Gepubliseer: 17/02/2020

Die afgelope weke is inligting rondom die Koronavirus konstant op sosiale media te sien en met goeie rede. Die virus is relatief nuut en daarom verander riglyne daagliks soos wat ons meer inligting oor die virus bekom. Tot nou (12/02) het ons dit wat aan ons bekend is, maar teen volgende week is hierdie inligting dalk reeds verouderd en behoort ons hopelik beter ingelig te wees. 

Die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid gaan steeds voort om die vinnig groeiende ontwikkelings rondom die Koronavirusuitbreking te monitor. Die Wêreldgesondheidsorganisasie voorsien hulle daagliks met die nuutste omstandigheidsnuus en gaan voort om inligting deur te gee indien daar enige hersieningsriglyne ontstaan. Kampusgesondheidsdiens volg die riglyne soos uiteengesit deur die Gesondheidsdepartement en NIOS (Nasionale Instituuut vir Oordraagbare Siekte).

Ons kan bevestig dat daar tot nou geen gemelde geval van die Koronavirus in Suid Afrika is nie.

Koronavirusse is deel van 'n groot familie respiratoriese virusse wat siektes kan veroorsaak wat strek vanaf 'n doodgewone verkoue tot die Midde-Oosterse Respiratoriese Sindroom en die Ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears – In Engels SARS). Bewyse toon voortdurend dat die oorgrote meerderheid van pasiënte wat deur die Koronavirus aangetas word, meestal ligte tot matige boonste lugweg simptome van aard ondervind - soos byvoorbeeld hoes, nies en loopneus. Algemene simptome is meestal koors en griepsimptome.

Die Virus word oorwegend deur besmette druppels in die lug versprei. Die virus is ook vanaf stoelgang gekweek om die moontlikheid van fekale orale verspreiding te ondersoek. Ons gaan daarom voort om algemene inligting met nuwe bewyse vir voorkomende gedrag beskikbaar te stel: vermy kontak met enige persoon wat griepsimptome vertoon; was gereeld hande; moenie nies of hoes in jou hand nie maar maak eerder gebruik van enige ander tipe voorkomende versperring; berei voedsel higiënies voor en moenie halfgaar of rou vleis eet nie.

Aanbevelings vir studente en personeel van Universiteit Stellenbosch wat reis na of terugkeer vanaf China, is om die nodige voorsorgmaatreëls te tref en dadelik by enige gesondheidsorgamptenaar aan te meld indien 'n persoon enige simptome ontwikkel.

 

Die volgende kan gedoen word om die risiko van koronavirusinfeksie te verminder:

  • Was hande met seep en water of alkoholgebaseerde handwasmiddel
  • Bedek die neus en mond tydens hoes of nies met 'n snesie of gebuigde elmboog
  • Vermy nabye kontak met enige persoon wat verkoue- of griepsimptome het
  • Kook vleis en eiers deeglik
  • Vermy onbeskermde kontak met lewende wilde diere of plaasdiere

 

Indien 'n persoon enige van bogenoemde inligting verder wil bespreek, of bekommerd is oor enige moontlike simptome, maak asseblief 'n afspraak by Kampusgesondheidsdiens deur 021 808 3494/6 te skakel.