Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
OPTIMUS-program gee top voorgraadse presteerders 'n hupstoot
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 13/02/2020

Uitnemendheid en prestasies is gevier toe die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) Maandag die top tweede- en derdejaarstudente van die fakulteit by die bekendstelling van die OPTIMUS 2020-program verwelkom het.

Die uitblinkers wat die skemeronthaal bygewoon het, sluit 34 tweedejaars in wat gekies is om deel van die program vir 2020 te wees, asook 35 derdejaarstudente uit die 2019-jaargroep.

Die OPTIMUS-program voorsien voorgraadse toppresteerders van akademiese verrykings-, leierskaps- en professionele ontwikkelingsgeleenthede. Dié holistiese ko-kurrikulêre program fokus ook op aspekte soos netwerkgeleenthede; sosiale impak; die ontwikkeling van 'n globale uitkyk en innovering.

Sedert die ontstaan van die OPTIMUS-program in 2016 word daar jaarliks voorsiening gemaak vir altesaam 33 tot 35 top akademiese presteerders – baie van hulle het meer as 80% in hul eerste studiejaar behaal – uit al die departemente van die fakulteit. Hulle is gevra om hulself vir twee jaar te verbind, naamlik die tweede jaar van hul studie en die eerste kwartaal van die derde studiejaar.

Volgens dr Sharon Malan, koördineerder van die OPTIMUS-program, was die doel van die geleentheid om te sorg dat tweede- en derdejaarstudente mekaar beter kan leer ken en om inspirasie te put uit hul akademiese advokate, d.w.s.  fakulteitsakademici wat help om die studente te ontwikkel as leiers op hul gebied.

Die program is ontwikkel deur prof Ronel du Preez, visedekaan (onderrig en leer), wat 'n inisiatief vir voorgraadse akademiese uitblinkers wou skep.

In haar openingsrede het Du Preez die studente daaraan herinner dat hulle die begunstigdes van iets baie spesiaals is.

“Deur 'n stimulerende omgewing te skep glo ons dat ons julle holisties kan ontwikkel om vir groot beurse en uitruilprogramme te kwalifiseer en om as toekomstige denkleiers te dien. Ons wil mettertyd ook 'n groep alumni vestig, sodat julle met mekaar in verbinding kan bly en jul kontakte tot julle voordeel kan benut," het sy gesê.

Hylton Hollander en Stephen Burgess van die fakkulteit het ook waardevolle advies en lesse met die studente gedeel in hul praatjie getiteld, “Dit is my verhaal: Wat ek wens ek op 20 geweet het".

Burgess, van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, het gesê hy wens hy het sy geleenthede as 'n twintigjarige student beter benut.

Hy het die studente versoek om seminare by te woon, vir meer klasse in te skryf, hul horisonne te verbreed deur allerhande boeke te lees en om meer vrae te vra.

Hollander, 'n dosent in die Departement Ekonomie, het die studente gewaarsku om nie oormatig behep te wees met doelwitte nie, maar om tyd te maak vir dinge soos stokperdjies en slaap.

"Leer ook om mislukking te aanvaar, laat dit toe om jou leer en groei te beïnvloed," het hy bygevoeg.

Dané Odendaal, 'n tweedejaarstudent in aktuariële wetenskap, het gesê sy hoop dat die program netwerkgeleenthede vir haar sal skep.

“Ek het groot drome vir my toekoms, maar ek weet nie hoe ek daardie drome gaan bewaarheid nie. Ek dink (die program) sal my help om mense soos bedryfsleiers en diegene wat baie meer weet as ek te leer ken, sodat hulle my kan help om te kom waar ek wil wees," het sy gesê.

Thandeka Mchune, 'n derdejaarstudent in bestuursrekeningkunde, het gesê dat haar betrokkenheid by die program haar selfvertroue 'n hupstoot gegee het.

“Ek is basies 'n introvert en baie bang om nuwe mense te ontmoet. Deur die klem op die vorming van netwerke te plaas, het die program my egter in staat gestel om gereeld met mense te gesels," het sy gesê.

Mchune het gesê die akademiese ondersteuning wat sy ontvang het, het haar ook gehelp om die regte loopbaankeuses te maak.

Die studente sal binnekort aan 'n pretdag ter bevordering van spangees en samehorigheid by die Stellenbosch Sportakademie deelneem.

Op 24 Februarie sal drie ander fakulteitsverteenwoordigers, Roelof Baard, Lucas Steyn en Pierre Erasmus, studente adviseer oor sake soos hoe om jou eerste huis te koop en jou verband te betaal, hoe om geld te belê, asook idees oor finansiële beplanning.

  • ​Foto deur Anton Jordaan: Die nuwe inname vir die OPTIMUS-program bestaan uit 34 tweedejaar- uitblinkerstudente.