Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing fokus op die denkwyse van verkragters
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 11/02/2020

Niemand word in die oggend wakker en sê die volgende nie: "Vandag wil ek iemand verkrag". Daar is baie eksterne faktore wat daartoe bydra om iemand so iets te wil laat doen – en dit sluit stres en sosiale isolasie in.

Dit is die sterk standpunt wat dr Lihle Qulu, 'n senior-dosent in die Afdeling Mediese Fisiologie, inneem. Sy doen tans navorsing oor die neurologiese en fisiologiese effekte van verkragting.

Qulu, wat 'n PhD in neurowetenskap het, het verlede jaar in Julie by die Universiteit Stellenbosch aangesluit.

Hierdie jaar, in samewerking met die Universiteit van KwaZulu-Natal, gaan sy en 'n span navorsers 'n navorsingsprojek doen op gevangenes wat tronkstraf uitdien nadat hulle aan verkragting skuldig bevind is. Dit sal plaasvind in die Westville-Gevangenis buite e'Thekwini en sal fokus op die onderliggende faktore wat aanleiding gee tot verkragting. Hierdie navorsing volg na uitgebreide navorsing wat Qulu gedoen het met rotte waarin sy hulle optrede geassesseer het in paringsituasies met en sonder toestemming, en waar voorlopige bevindings daarop dui dat isolasie aggressiewe gedrag aanwakker, asook seksuele aggressie teenoor rot-wyfies.

Qulu se aanvanklike belangstelling is aangewakker deur 'n besoek aan Duitsland waar sy akademici teëgekom het wat navorsing oor verkragting gedoen het. “Ek wou aanvanklik sosiale stres bestudeer het, maar terwyl ek in Duitsland was, het ek begin kyk na die statistieke, en het ek uitgevind dat SA die grootste aantal verkragtings ter wêreld het.

“In Duitsland het hulle 'n dieremodel van verkragting  bestudeer, en hulle het rotte daarvoor gebruik. Ek het teruggekom en dieselfde tipe ding begin doen by die UKZN. Party van ons bevindings in die diere-model het daarop gedui dat 'n normale dier sou verseg om te verkrag…. maar wanneer daardie dier sosiaal geïsoleer word, het dit 'n groot impak gehad. Dit het die vlakke van kortisol (die sogenoemde "angshormoon") wat afgeskei word,  gedisreguleer, en die oksitosien (die "liefdeshormoon") wat seksuele optrede vir die dier moontlik maak deur die wyfie seksueel te oorwin.

“Ons het gevind dat sosiale isolasie aggressiewe gedrag aanmoedig, en wanneer die dier dan blootgestel word aan 'n nie-ontvanklike wyfie, sal hy dan die nie-ontvanklike wyfie oorrompel as hy aan sosiale isolasie blootgestel is.

“Ons het gekyk na die basiese vlakke van aggressie wat teenwoordig was voor die blootstelling aan sosiale isolasie, en daar was geen aggressie hoegenaamd nie. Nadat ons sosiale isolasie bygevoeg het, het ons gevind dat daar 'n toename in aggressiewe gedrag was, asook in seksuele oorrompeling, en dis neurochemies bevestig waar ons verhoogde vlakke van kortisol en verlaagde vlakke van oksitosien in diere gevind het."

In verband met die navorsing tydens die komende jaar, het Qulu die volgende te sê gehad, “Ons sal 'n vraelys gebruik en ook fisiologiese monsters neem, soos byvoorbeeld van sputum, om die vlakke van kortisol in gevangenes na te gaan. Ons sal ook kyk na die agtergronde van die gevangenes met wie ons werk – dit sal die volgende insluit: vroeë blootstelling aan stres, hoe hulle grootgemaak is, of beide ouers tydens hulle grootmaakjare teenwoordig was, of hulle tuis enige vorm van bevestiging ontvang het, of daar geweld in die huis was, en watter tipe moederlike band hulle ervaar het.

“Ons wil probeer om die agtergrond vir die redes tot verkragting te probeer verstaan, om te kyk na die onderliggende faktore voor mans besluit om iemand te verkrag – en om te kyk of die reaksie op isolasie wat ons in diere gesien het, ooreenstem met die gedrag van die gevangenes. Ons wil sien watter rol hulle grootmaakproses gespeel het in die misdade wat hulle gepleeg het.

Qulu is gebore in die Lamontville-woonbuurt naby Durban, en is grootgemaak deur haar ma en haar suster. Sy het in Wentworth skoolgegaan en het toe gestudeer by die Universiteit van Zululand waar sy 'n BSc-graad in Biochemie verwerf het, gevolg deur 'n honneursgraad by die Universiteit van KwaZulu-Natal (Durban-Westville) in 2009. Sy het as onderwyseres gewerk by die Lamontville Hoërskool vir vyf jaar voor sy besluit het dat sy gefassineer was deur neurowetenskap en dat sy verder in daardie veld wou gaan studeer.

Sy het toe voortgegaan om haar MSc-graad in Mediese Wetenskappe (cum laude) deur die UKZN (Durban Westville) te verwerf, en dit is toe gevolg deur 'n PhD in Mediese Wetenskappe deur UKZN (Durban-Westville) in 2016.

Haar passie vir neurowetenskap – en om die brein te bestudeer – is grootlike geïnspireer en aangemoedig deur die Dekaan van die Skool van Laboratoriumgeneeskunde en Mediese Wetenskappe by UKZN, professor Musa Mabandla, wat ook vir haar 'n akademiese pos aangebied het, en ook opleiding en reisgeleenthede oorsee vir haar gefasiliteer het.

“Die brein is die enjin van ons gedrag, die enjin van absoluut alles. Dit maak nie saak hoe mooi 'n motor is nie, as die enjin nie ordentlik werk nie, sal die motor nie loop nie. Die brein is die grootste wonderwerk op aarde – die rekenaar, die netwerk wat oorloë begin, hulle beëindig, en die wêreld voortdryf – en tog skenk ons so min aandag daaraan."

Qulu sê een van die grootste dryfvere vir haar werk is die oortuiging dat Suid-Afrika sedert apartheid geestesgesondheid erg afgeskeep het. “Daar is geen regstelling in die veld van geestesgesondheid nie. Jy kan nie verwag dat mense wat soveel geweld, verkragting en die verwydering van pa's uit die huislike omgewing deurgemaak het, in 'n vrye omgewing kan inbeweeg sonder enige sielkundige nagevolge nie.  Daar is eenvoudig nie genoeg sentrums wat na geestesgesondheid omsien nie – en heeltemal niks in die townships self nie.

“Synde self in 'n township groot te geword het, en eerstehands die geweld en die misdaad daar gesien het, weet ek mense tree nie buite die normale manier op tensy 'n insident of 'n ondervinding die manier waarop hulle veronderstel is om hulle te gedra disreguleer nie. Ek wil graag bewustheid bevorder oor hierdie kwessie; om die regering te vra wat hulle sal doen om ons as 'n nasie by te staan, aangesien dinge net erger sal word as hulle dit nie doen nie."

Qulu hou daarvan om strand toe te gaan en om tyd saam met haar famile deur te bring. Sy is ook baie nou betrokke by haar gemeenskap. “Noem my me Oksitosien. Ek glo baie sterk daaraan dat liefde baie dinge kan oplos."


Onderskrif: Dr Lihle Qulu

Foto-erkenning: Wilma Stassen