Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nagraadse skool verwelkom PhD-studente van 2020
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 06/02/2020

​Die Nagraadse Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het Dinsdag 'n nuwe groep PhD-studente by 'n funksie in Stellenbosch verwelkom.

Die skool is gestig as deel van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) se navorsingstrategie en is die tuiste van 'n voltydse, residensiёle doktorsgraadprogram. Die eerste voltydse PhD-studente het in 2014 met hul drie jaar lange navorsingsprojekte begin. Die inisiatief is die jaar daarna uitgebrei om ook 'n Nagraadse Skool vir Personeel in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe in te sluit.

Die skool bied finansiёle hulp en 'n gedeeltelik gestruktureerde ondersteuningsprogram om studente in staat te stel om 'n PhD-graad binne drie jaar te behaal. Die nagraadse skool vir personeel bied 'n soortgelyke ondersteuningsprogram wat personeel van die fakulteit die geleentheid gee om vir vier tot vyf jaar deeltyds aan hul PhD-grade te werk.

Hoewel die meeste voltydse studente uit Afrikalande afkomstig is, het studente uit Sjina, Oostenryk, Nederland, Duitsland en die Verenigde Koninkryk ook al by die skool studeer.

Prof Ingrid Woolard, dekaan van die EBW-fakulteit, het aan die nuwe studente gesê dat die skool beoog om goed aangepaste en suksesvolle PhD-gegradueerdes te lewer.

“Dié reis gaan nie net oor die lewering van proefskrifte nie, maar ook oor die lewering van die bes moontlike gegradueerdes, uitblinkernavorsers en die skep van uitstekende loopbane vir julself. Ja, jou proefskrif is belangrik en een van die mooiste dinge wat jy ooit sal skep, maar dit is nie alles nie. Ons skool bied ongelooflike geleenthede vir ontwikkeling; maak dus die beste daarvan," het sy gesê.

Die bestuurder van die skool, dr Jaco Franken, het gesê: “Ons probeer sowat tien studente per jaar inneem. Dis 'n redelik volhoubare getal om deur middel van donateursfondse te finansier en om aan studieleiding te gee.

“Ons het vanjaar 'n kandidaat uit Duitsland, twee Suid-Afrikaners en ses uit Afrikalande, naamlik Ghana, Zimbabwe, Kenia en Uganda."

Sedert 2014 het 69 studente by die skool ingeskryf. Hiervan is 35% Suid-Afrikaners en die res afkomstig van 17 lande regoor die wêreld. Altesaam 31 studente het tot dusver hul PhD-grade ontvang.

Volgens Franken ontvang die skool kry elke jaar sowat 200 aansoeke.

“Dit (die geskarrel na plekke) is uiters mededingend en 'n groot rede waarom die program so suksesvol is. Deur die beste studente te kies, skep ons 'n uitstekende omgewing waarin hierdie studente kan werk. Hulle is ook in staat om invloedryke kontakte vir die res van hul lewens te maak."

Twee van die nege studente wat vir die 2020-program aanvaar is, het verduidelik waarom hulle die skool gekies het en waaroor hul doktorale studies handel.

Die Duitse student Carolin Welser, wat voorheen 'n deel van haar BCom-studies aan die US voltooi het, het gesê dis die kwaliteit van die onderrig en ondersteuning wat 'n mens ontvang wat haar oorreed het om by die skool aansoek te doen. Sy sê die navorsingsvoorstel vir haar proefskrif handel oor korporatiewe sosiale verantwoordelikheid en die uitwerking daarvan op verbruikersgedrag.

Christer Anditi, 'n gegradueerde van die Universiteit van Nairobi, Kenia, het gesê haar proefskrif sal gevolge van geslag op energie-innovasies ondersoek.

“Die rede waarom ek dit gekies het, is omdat innovasies oor die algemeen misluk. Veral energie-innovasies slaag nie daarin om mense te help wat dit die nodigste het nie. Een van die faktore wat nog nie volledig ondersoek is nie, is geslag. My doel is om uit te vind hoe ons geslag die beste kan benut as deel van 'n innovasieproses om die aanvaarding van energietegnologieë te bevorder."

Die sukses van die nagraadse skool het plaaslike en internasionale donateurs se aandag getrek met die gevolg dat die Millennium Trust en die German Academic Exchange Service die skool steun.

  • Foto deur Anton Jordaan: Studente van die Nagraadse Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe saam met die dekaan, prof Ingrid Woolard (in 'n swart rok in die voorste ry), hul studieleiers en dr Jaco Franken, bestuurder van die skool (in die agterste ry met 'n blou hemp en baard).