Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS vier 20 jaar se studentesukses
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 04/02/2020

​Die SciMathUS- (Science and Mathematics at University of Stellenbosch) universiteitsvoorbereidingsprogram vier vanjaar, in die jaar 2020, sy 20ste bestaansjaar.

Die SciMathUS-program het Maandag, 3 Februarie 2020 sy 20ste groep studente, ouers en voogde in die Endlersaal op die kampus van die Universiteit Stellenbosch welkom geheet. Vanjaar is net 100 studente uit 1 200 aansoeke aanvaar om deel te wees van die program.

Die program, wat aangebied word deur die US se Sentrum vir Pedagogie in die Fakulteit Opvoedkunde (SUNSEP), bied aan studente uit opvoedkundig benadeelde omstandighede van regoor die land 'n tweede kans om te kwalifiseer vir toegang tot hoër onderwys. Deur die program kan hulle hul Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae in spesifieke vakke verbeter om hulle in staat te stel om heraansoek te doen vir universiteitsprogramme.

Sedert die program van stapel gestuur is, het SciMathUS reeds meer as 1 500 studente die geleentheid gegee om met behulp van die program toegang tot die Universiteit te kry. 

Om in aanmerking geneem te word, moes studente graad 12 met 'n minimum gemiddeld van 60% (Lewensoriëntering uitgesluit), geslaag het, en moes hulle ook 'n minimum van 45% in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, of 45% in Rekeningkunde behaal het.

Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het in sy verwelkomingstoespraak by die geleentheid gesê die studente het die regte keuse gedoen om vir hierdie program aansoek te doen.

“Nou dat ons vir julle toelating gegee het, verwag ons van julle om sukses te behaal. Julle is op die regte plek om jul drome te bewaarheid. Dit is belangrik om beheer te neem oor jul toekoms. Ons het aan julle die dosente en mentors verskaf, nou moet julle die werk doen," het hy gesê.

Ter motivering van ouers en voogde, het prof De Villiers opgemerk: “Ek en my vrou het drie kinders deur universiteit gehelp en uit ons ervaring het ons geleer dit is belangrik om te bly belangstel in jou kind se ontwikkeling.

“Bly op hoogte van die goed waarby jou kinders betrokke is," het hy bygevoeg.

Prof De Villiers het aan die studente gesê hulle is 'n baie spesiale groep omdat hulle die 20ste SciMathUS-inname in die program se 20ste bestaansjaar in die jaar 2020 is.

Die programbestuurder by SciMathUS, me Nokwanda Siyengo, het gesê hulle is baie trots op die program. “En dit is net danksy ons studente se sukses. Julle het dit gemaak; moet dit nie vanselfsprekend aanvaar nie.

“Ons verwag toewyding van julle. Julle sal moet aanvaar hoe ons dinge hier by SciMathUS doen, en dit is moontlik dat julle nie daarvan gaan hou nie, maar dit is vir jul eie beswil."

Sy het bygevoeg dat hulle by SciMathUS probeer om die verskillende uitdagings waarmee studente te kampe het wanneer hulle tuis saam met hul gesinne woon, te verminder. 

“Ons bied verblyf aan ons studente, asook twee eters per dag en psigososiale ondersteuning vir diegene wat dit nodig het," het Siyengo gesê.

'n Voormalige SciMathUS-student wat nou 'n mediese dokter by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad is, dr Lethabo Hlongwane, het aan die groep gesê sy was ook eens op 'n tyd in hul skoene. “Ek was ver van die huis af en het soos 'n mislukking gevoel nadat ek in 2012 nie toelating gekry het om medies te gaan studeer nie.

“Ek het die geleenthede wat na my kant toe gekom het terwyl ek hier was, met albei hande aangegryp. Sonder hierdie program sou ek nie gekom het tot waar ek vandag is nie," het sy gesê.

Die nuut-aangestelde Direkteur van SUNSEP, dr Benedict Khoboli, het gesê SciMathUS werk sonder ophou om te verseker dat studente uit opvoedkundig benadeelde omstandighede hul hoogste akademiese potensiaal bereik.