Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US dra by tot doktorale onderrig en navorsingsopleiding in Afrika
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 17/01/2020

Die Afrika Doktorale Akademie (ADA) streef al vir meer as 'n dekade lank daarna om uitnemendheid in doktorale onderrig regoor Afrika te koördineer en te bevorder.

Die ADA is binne Universiteit Stellenbosch Internasionaal, wat deel uitmaak van die Afrikasentrum vir Akademieskap (ASA) aan die Universiteit Stellenbosch, (US) gesetel en is ideaal geposisioneer om die US se netwerke in Afrika te versterk en uit te brei.

Tot op hede het die ADA meer as 4 500 afgevaardigdes uit 53 lande (meestal uit Afrika, maar ook uit ander dele van die wêreld) verwelkom.

Volgens die ADA se programbestuurder, Corina du Toit, poog die ADA ook om die US as Afrika se voorste navorsingsuniversiteit te posisioneer en die Universiteit se reputasie as een van die voorste instellings vir doktorale produksie in Afrika uit te bou.

“Tot op hede is ons die enigste akademie in die SAOG-streek (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) wat net op doktorale ontwikkeling fokus. Deur middel van 'n netwerk van aanbieders van die US, Suid-Afrika, Europa en Noord-Amerika bring ons kundigheid en nuwe kennis van regoor die wêreld na Afrika," sê Du Toit.

Die ADA se prestigeprogram is die tweejaarlikse, twee week lange doktorale skole wat elke jaar in die somer (Januarie) en winter (Junie–Julie) gehou word en bied hoë-impak navorsings- en metodiek-opleiding, asook opsies in akademiese gereedheid en loopbaanontwikkeling.

Sedert die onstaan van die ADA in 2009, bied vooraanstaande akademici week lange kursusse vir doktorale kandidate aan oor 'n verskeidenheid onderwerpe, insluitende doktorale voorbereiding, sleutelkonsepte in metodiek, akademiese skryfvaardighede, die gebruik van kwalitatiewe en kwantitatiewe instrumente (SPSS, R, MAXQDA en ATLAS.ti), opname- en onderhoudmetodes, die publikasie van artikels en hoe om voor te berei vir 'n navorsingsloopbaan (insluitende opleiding in doktorale begeleiding).  

In ooreenstemming met die US se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word, het die Universiteit die afgelope tien jaar bilaterale en multilaterale verhoudinge met talle van Afrika se voorste instellings en akademiese netwerke gesluit.

Die ADA bied ook sedert 2016 gesamentlike doktorale skole in samewerking met universiteitsvennote in Uganda, Kenia, Tanzanië, Malawi en Namibië aan met behulp van befondsing van die Carnegie Korporasie van New York.

“Hierdie doktorale skole by ons vennote het aan die ADA die geleentheid gegee om met verskeie universiteite saam te werk en kapasiteitsontwikkelingsgeleenthede na gelang van die behoeftes van die tuisuniversiteit aan te bied. Die program is onlangs tot 'n aparte program wat sy aan sy met die ADA loop, uitgebrei, en 'n hele aantal gesamentlike skole word vir die volgende drie jaar beplan.

“Ons wil aan studente die geleentheid gee om by die beste te leer en terug te neem na hul tuisuniversiteite. Ons wil ook aan studente 'n netwerkgeleentheid vir samewerking en die bou van verhoudinge bied," sê Du Toit.

Vanjaar se Somer Doktorale Skool is van 6 tot 17 Januarie by die US gehou. Prof Thuli Madonsela, bekleër van die Leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US, was die spreker by die afsluiting van die somerskool. Sy het in haar toespraak op die onderwerp, “Africa's renewal through research for justice and development" gefokus.

Sy het die belangrikheid van navorsing wat “die vasteland van Afrika sal dien" en wat sal help om maatskaplike geregtigheid te bevorder, beklemtoon.

Sy het ook gesê dit is belangrik dat mense wat oor die nodige vaardighede en kennis beskik, in Afrika moet bly en die vasteland moet help. “Ongeag Afrika se uitdagings, kan navorsing gebruik word om Afrika te help om die vasteland te word wat dit kan wees. Dit is elkeen se verantwoordelikheid om verandering te bewerkstellig en om ons vasteland op die regte spoor te plaas," het Madonsela gesê.

Vir verdere inligting oor die ADA, klik hier. ​

​Foto deur Refiloe Nkhasi.