Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Uiters simboliese' Kanseliersete by Goldfields-koshuis
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 13/12/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy laaste gradeplegtigheidsweek van die jaar afgesluit met ʼn Kanseliersete op 13 Desember 2019 wat vir die eerste keer by die Goldfields-koshuis gehou is.

“Dit is uiters simbolies dat hierdie geleentheid – ʼn hoogtepunt op die Universiteit se kalender – hier plaasvind. Hierdie koshuis is in 1987 gebou om swart, bruin en Indiërstudente te akkommodeer, omdat die Groepsgebiedewet destyds nog in plek was en hulle nie saam met wit studente op die res van die kampus gehuisves kon word nie. Dit is moeilik om te glo, maar dit is hoe dit onder apartheid was," “het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, aan die gehoor gesê.

Die US hou ʼn Kanseliersete twee keer per jaar vir nuwe ontvangers van eredoktorsgrade, doktorsgrade, die Kanseliersmedalje en Kanselierstoekennings. Tydens sy gradeplegtighede in Desember het die US weer ʼn rekordgetal kwalifikasies toegeken – 5 857 grade, diplomas en sertifikate. Dit het ingesluit 154 doktorsgrade, waarvan die helfte aan swart, bruin en Indiërstudente toegeken is.

“Toegang tot die Universiteit en al sy koshuise is lankal ten volle geopen, en ek is bly om te kan sê dat ons studente- en personeelliggame steeds meer divers en geïntegreerd word, hoewel ons pogings in dié verband voortduur. Maar hierdie koshuis verdien erkenning as ʼn baken op ons reis na inklusiwiteit," het prof De Villiers gesê.

IMG_5423.JPG

“Dit het deur die jare baie studente gehuisves wat hul merk in die samelewing sou maak – uitblinker-'Goldies' soos ons eie prof Mohammad Karaan en dr Leslie van Rooi (foto regs), Francois Groepe, wat 14 jaar lank in die raad van die Reserwebank gedien het, die Springbok-rugbyspeler Breyton Paulse, en die aktrise June van Merch, om maar net ʼn paar te noem.

“Die eerste koshuishoof was prof Willie Esterhuyse, wat ʼn belangrike rol sou speel in Suid-Afrika se politieke oorgang as fasiliteerder in die onderhandelingsfase voordat daar amptelike samesprekings was. Een van die verhale wat destyds vertel is, is dat prof Esterhuyse vir Thabo Mbeki ontvang het. Natuurlik het die studente daarvan gehoor, en ook die geleentheid gekry om met die man te praat wat later President van Suid-Afrika sou word.

“ʼn Koshuishoof wat later gekom het, was Pieter Kloppers, wat steeds in Studentesake is. Hy sê sy ervaring hier by Goldfields het hom hoop vir die toekoms gegee en die grondslag gelê vir baie van die innoverende werk wat in Studentegemeenskappe gedoen word."

Prof De Villiers het uitdagings uitgewys wat inwoners van Goldfields ervaar het.

“Diegene wat destyds as studente hier gebly het, onthou dat hulle hier op die rand van die kampus gemarginaliseer en geïsoleer gevoel het, selfs opsygeskuif en onderhewig aan diskriminasie. Ons moet dit toegee, soos ons in ons Eeufeesjaar in 2018 erken het dat daar foute in ons geskiedenis was. Daarvoor het ons diepe berou."

Die Kanseliersete het plaasgevind in die nuwe eetsaal van Goldfields, wat sedert die begin van die jaar in gebruik is.

“Die Koshuis het besluit om dit 'Sada Oms' te noem, ʼn Khoisan-frase wat 'Ons Huis' beteken," het prof de Villiers verduidelik. In ʼn vroeëre onderhoud het die huidige koshuishoof, Renee Hector-Kannemeyer, aan Matie Media gesê die naam “spreek van transformasie en eer die eerste nasies".

Prof De Villiers het soos volg afgesluit: “Welkom hier in Sada Oms, ons huis, in Goldfields, ons koshuis, by die Universiteit Stellenbosch, wat aan almal behoort, en nie aan ʼn spesifieke groep nie."

In sy kommentaar op die geleentheid het Van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie aan die US, gesê: “Ek kan nie ophou praat oor hoe belangrik hierdie Kanseliersete was nie. Ek is baie seker ander Goldies voel ook so. Om te dink dat ons gemeenskap aan die buitewyke van die kampus (en daarmee bedoel ek meer as net die fisiese ligging van die koshuis) die middelpunt van ons Universiteitsgemeenskap geword het, was ʼn diep simboliese daad."

HEELBO: Gaste arriveer by die Kanseliersete, van links, prof Wim de Villiers, dr Ronel Retief, prof Ronelle Carolissen, prof Linus Opara, prof Usuf Chikte, me Ellen Tise en mev Masoodah Chikte.