Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-studie bevind beroepsgeneeshere kan nie enige heer dien nie
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/12/2019

Wanneer beroepsgeneeshere moeilike besluite oor beroepsgesondheid en veiligheid in die werksplek moet neem, kan hulle nie lojaal aan óf die werkers óf die werkgewer wees nie omdat dit hul optrede en hul oordeel kan beïnvloed.

“Omdat onpartydigheid, integriteit, betroubaarheid en professionele onafhanklike van beroepsgeneeshere vereis word, kan hulle nie enige lojaliteit jeens óf werkgewers óf werknemers toon nie," sê ʼn beroepsgeneeskundekonsultant van Sasolburg, dr Gerhard Grobler. Hy het Vrydag (13 Desember 2019) sy doktorsgraad in Toegepaste Etiek by die negende seremonie van die Universiteit Stellenbosch se Desember-gradeplegtigheid ontvang.

Grobler het in sy studie, wat die eerste van sy soort in Suid-Afrika was, 'n morele ontleding van die kennelike belangebotsing in die beroep van bedryfs- of beroepsgeneeshere gedoen. Hy sê dubbele lojaliteit, of ten minste 'n vermoede dat lojaliteit aan een van die partye die beroepsgeneesheer se oordeel kan beïnvloed, het die afgelope tyd 'n probleem geword en skep etiese onduidelikheid. Die kwessie van dubbele lojaliteit steek veral kop uit wanneer werkers aan diens beseer word.

Grobler, wat reeds 38 jaar se praktiese ervaring in beroepsgeneeskunde het, sê maatskappye of organisasies stel beroepsgeneeshere aan om na die gesondheid en veiligheid van werkers om te sien. Hierdie werkers is blootgestel aan werkloosheid, gereelde afleggings, swak openbare gesondheidsorg wat besig is om in duie te stort, nienakoming van beroepsgesondheid- en veiligheidswetgewing in die groot informele sektor en die ondoeltreffendheid van die kantoor van die Ongevallekommissaris.

“Beroepsgeneeshere speel in belangrike rol om te verseker dat werkers die gesondheidsorg, vergoeding of verwante voordele wat hulle toekom, ontvang. Dit verg soms onwankelbare persoonlike toegewydheid van leiers in beroepsgesondheid om te voorkom dat individuele sake nie in die stelsel verlore raak nie.

“Hul oordeel moet op wetenskaplike kennis en tegniese bevoegdheid gegrond wees en hulle moenie enigiets doen wat hul integriteit en onpartydigheid onder verdenking plaas nie. Hulle kan nooit toelaat dat enige belangebotsing hul aanbevelings en uitsprake beïnvloed nie.

“Beroepsgeneeshere kan nie bekostig om enige heer te dien nie. Hul rigsnoer is om die gesondheid en veiligheid van alle werkers en van enigeen wat die risiko van siekte of besering loop wat met die ongeskiktheid van werkers verband hou – ongeag laasgenoemde vlieëniers, hamerbooroperateurs of personeel by 'n slagpale is, te dien."

Grobler voeg by dat beroepsgeneeshere mediese dokters is wat werkers, werkgewers, vakbonde, relevante owerhede en die samelewing as goeie rentmeesters van die gesondheid en veiligheid van werkers kan vertrou.

Hy sê terwyl professionele onafhanklikheid, onpartydigheid, regverdigheid, geloofwaardigheid en gesonde oordeel noodsaaklike deugde is, kan lojaliteit 'n hindernis wees omdat dit belanghebbers kan aanmoedig om te poog om beslissings wat deur 'n beroepsgeneesheer gegee is, te verander.

“Dit is te verstane dat werkgewers sal dink dat hul beroepsgeneesheer die belange van pasiënte sal beskerm. Aan die ander kant is dit weer te verwagte dat werkers sal dink dat die beroepsgeneesheer, wat in diens van die maatskappy staan en deur hulle betaal word, na die sakebelange van die werkgewer sal omsien.

“Indien werkers of werkgewers ondervind of vermoed dat 'n beroepsgeneesheer partydig teenoor een party is of toelaat dat lojaliteit sy oordeel beïnvloed, sal al sy besluite bevraagteken word.

Volgens Grobler word die rol en bydrae van beroepsgeneeshere nie genoeg waardeer in Suid-Afrika nie, veral nie deur dokters in private praktyk nie.

“Sommige dokters in private praktyk sien dikwels op hierdie rigting neer. Hul siening is 'waarom sal 'n intelligente dokter kies om 'n salaris te verdien deur vir 'n baas in 'n nywerheidsomgewing te werk?'; en 'hoekom kies hulle die werkgewer – wat volgens my pasiënte onsimpatiek en onredelik is – se kant?'."

Omdat hy al baie nou saam met talle beroepsgeneeshere, beroepsgesondheid- en beroepsveiligheidpraktisyns gewerk het, sê Grobler hy verstaan hoe hulle voel en die probleme waarmee hulle te doen kry en moet oorkom.

“Hopelik sal my navorsingstudie bewustheid en hervorming rakende die etiese uitdagings van beroepsgesondheid stimuleer, veral in die lig van die siening dat die vakrigting net die belange van groot ondernemings beskerm."

Grobler voeg by dat dokters wat beroepsgeneeskunde beoefen, minder ervare beroepsgeneeskundiges, nie-mediese praktisyns in beroepsgesondheid en -veiligheid asook akademici wat die etiek van beroepsveiligheid onderrig by sy navorsing kan baat vind.

  • ​​​​Foto: Dr Gerhard Grobler by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Gerhard Grobler

Beroepsgeneeskundekonsultant

Sasolburg

Sel: 083 6254085

E-pos: gerhardgrobler6@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za