Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maatskaplike Werk akademici wen top ASASWEI toekennings
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 09/12/2019

Twee akademici van die Departement Maatskaplike Werk het weggestap met die top pryse by die Vereniging van Suid-Afrikaanse Opvoedkundige Instellings vir Maatskaplike Werk (beter bekend in Engels as Association of South African Social Work Education Institutions, ASASWEI) se toekenning-seremonie wat onlangs in Kaapstad gehou is. Die twee wenners was prof Lambert Engelbrecht, voorsitter van die Departement Maatskaplike Werk, en me Priscalia Khosa, 'n  junior lektor in dieselfde departement, onderskeidelik vir Navorser van die Jaar en Opkomende Akademikus van die Jaar.

Nominasies is landwyd in Suid-Afrika ontvang en is geëvalueer deur plaaslike assessore sowel as diegene van die Vereniging van Skole vir Maatskaplike Werk in Afrika (ASSWA), Kanada, Indië, Italië, Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State. 

Khosa, genomineer as die Opkomende Akademikus van die Jaar, is in die nominasie beskryf as “'n jong akademikus wat hardwerkend, produktief en konsekwent was in haar akademiese uitsette" en “die potensiaal het om spoedig te ontwikkel tot 'n gevestigde akademikus in maatskaplike werk."

“Haar groeiende navorsing-trajek is standhoudend en lofwaardig. Hoewel steeds 'n junior lektor oorskry haar algemene prestasie in voorgraadse en nagraadse onderrig, en haar erkenning op institusionele en nasionale vlak haar posvlak," sê Engelbrecht.

Khosa is aangestel by die Departement Maatskaplike Werk in 2017 en voltooi tans 'n PhD in die departement, met Engelbrecht as haar studieleier. Haar navorsing fokus op toesighouding oor maatskaplike werk, spesifiek die toesig-beleide. Weens die internasionale relevansie van haar navorsing is sy genooi om 'n boek-hoofstuk oor haar onderwerp by te dra tot die beoogde Routledge International Handbook on Social Work Supervisionwat volgende jaar gepubliseer word. 

Sy het reeds 'n aansienlike bydrae gemaak tot kurrikulumontwikkeling en die bevordering van opleiding in maatskaplike werk deur verskeie akademiese artikels en referate wat sy aangebied het. Dit sluit in 'n artikel getitel Inducting first year social work students: Reflections on a discipline-specific approach to academic development sowel as 'n artikel waarvan sy die medeskrywer was oor 'n dekolonisering-projek van die Departement Maatskaplike Werk aan dIE US getitelAuthentication of an academic culture in a Social Work programme offered at a South African university: A value-driven approach towards a decolonised curriculum.

Toe Khosa gevra is hoe dit gekom het dat sy as maatskaplike werker by die akademiese wêreld betrokke geraak het, sê sy: “Ek wou nog altyd 'n akademiese loopbaan gevolg het." 

“Terwyl ek gewerk het, het ek geregistreer vir 'n deeltydse MA-graad by Wits Universiteit en toe ek my graad behaal het, het ek 'n kontrakpos by Wits aanvaar. Ek het die risiko geneem in die hoop dat 'n deur in die akademiese wêreld uiteindelik vir my sou oopgaan. Ek het ook geweet dat, deur te werk by Wits, ek 'n voet in die deur so kry. Ek het uiteindelik 'n drie jaar kontrak gekry."

Terwyl sy gekonsentreer het op navorsing oor middel-misbruik en die onderrig van maatskaplike werk in die verlede, fokus haar huidige navorsing op maatskaplike werk toesig.

“Ek het nie hierdie toekenning verwag nie, maar ek was hoopvol," sê Khosa. “Ek het nie besef hoe groot dit was voordat ek die seremonie bygewoon het nie. Toe hulle my CV lees en alles noem wat ek gedoen het, het ek gedink, ek is daardie persoon nie. Dit was oorweldigend en ek was verstom."

“Dit het aan my getoon dat enigiets moontlik is. Natuurlik is dit nie maklik nie, want as jong akademikus moet jy nog jou voete vind en moet jy ook ander verantwoordelikhede as vrou nakom. Dit beteken nie dat jy dit nie kan doen nie, jy moet net bykomende ure insit, en dis wat ek doen. Dus wil ek ander jong akademici aanmoedig om te glo dat dit gedoen kan word."

Engelbrecht is 'n Assosiaat-professor in die Departement Maatskaplike Werk en word hoog aangeskryf plaaslik sowel as internasionaal vir sy navorsing oor die effek van neo-liberalisme op die lewering van maatskaplike werk. Oor die jare het hy 'n beduidende bydrae gelewer tot die beroep van maatskaplike werk terwyl hy vir baie jare gefokus het op die toesig en bestuur van maatskaplike werkers en studente. Sedertdien het hy wyd gepubliseer oor onderwerpe verwant aan bestuur, toesighouding en maatskaplike ontwikkeling. Hy het ook wye ondervinding van die voorpunt van maatskaplike werk, aangesien hy gewerk het as bestuurder en toesighouer in die bedryf.

Tans het hy meer as 100 geakkrediteerde navorsingsuitsette op sy kerfstok en dien op verskeie akademiese vaktydskrifte se redaksies of as adviserendebestuurslid. In 2016 het hy die toekenning vir prestasie in navorsing ontvang van die Nasionale Vereniging van Maatskaplike Werkers (WC). In 2017 is die Stals Prys aan hom toegeken deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy internasionaal bekroonde publikasies wat bydra tot die wetenskap in Suid-Afrika. In 2018 is hy gegradeer as 'n internasionaal bekroonde navorser deur die Nasionale Navorsingstigting (NRF), wat die hoogste navorsingsgradering is wat nog ooit deur 'n voltydse akademikus in maatskaplike werk in Suid-Afrika ontvang is.

In 2019 alleen het hy ses artikels gepubliseer in hoë-profiel internasionale vaktydskrifte, het hy twee boeke geredigeer (Management and Supervision of Social Workers: Issues and Challenges within a Social Development Paradigm, en Contemporary Practices in Social Work Supervision: Time for New Paradigms?), sewe boekhoofstukke geproduseer, deelgeneem aan agt konferensies, was hy studieleier van ses PhD en ses MA studente, en het hy drie internasionale lesings gelewer as hoofspreker, terwyl hy boonop vier kursusse aangebied het in die Departement. Hy is aktief betrokke in Fakulteit-komitees en studente-gemeenskapsaktiwiteite, waaronder sy aanstelling as die Akademiese Hoof van die Wimbledon-kluster van die US.

Oor die erkenning sê Engelbrecht: “Ek erken met dankbaarheid al die maatskaplike werk akademici, praktisyns, studente en diens-gebruikers in Suid-Afrika en elders wat saamgewerk het, en steeds saam met my werk, om maatskaplike werk as 'n akademiese en praktyk-gebaseerde beroep in Suid-Afrika, Afrika en die res van die wêreld te bevorder. Die prestasies is nie myne nie: ek het dit bereik danksy al hierdie mense wat deelneem aan my navorsing, my ondersteun, en van wie ek kon leer."

Foto: Prof Lambert Engelbrecht, Voorsitter van die Departement Maatskaplike Werk (naasregs), en me Priscalia Khosa (links), 'n junior lektor in dieselfde departement, wat onderskeidelik aangewys is as die Navorser van die Jaar en die Opkomende Akademikus van die Jaar deur die Vereniging van Suid-Afrikaanse Opvoedkundige Instellings vir Maatskaplike Werk (ASASWEI). Hulle het die toekennings ontvang van die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, me Lindiwe Zulu (naaslinks) en die President van die Vereniging van Skole vir Maatskaplike Werk in Afrika (ASSWA), Prof Gidraph  Wairire, van die Universiteit van Nairobi, Kenia (regs).