Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Ek hoop dis nou die einde van die saak' - Rektor verwelkom Fourie-verslag
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 02/12/2019

​Die onafhanklike ondersoek deur oudregter Burton Fourie is afgehandel en die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het sy verslag vanmiddag (2 Desember 2019) aanvaar (klik hier vir die volledige verslag). Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het soos volg gereageer in ʼn videoboodskap :

 


“Ek is geheel en al van alle blaam onthef. Die ondersoek het bevind ek het nié die Konstitusionele Hof-uitspraak in die saak oor die Universiteit Stellenbosch se Taalbeleid probeer beïnvloed deur regter Edwin Cameron te nader om hom vir ons Kanselierskap beskikbaar te stel nie. Dit was inderdaad my verantwoordelikheid om die beste moontlike kandidate vir hierdie senior posisie te help kry.

“So, ek verwelkom hierdie bevinding, soos ek ook die ondersoek verwelkom het. Ek het uit die staanspoor gesê ek het nié met die regsproses ingemeng nie, en het in goeder trou opgetree. ʼn Onafhanklike ondersoek het dít nou bevestig.

“Ek hoop dis nou die einde van die saak, en dat ons as Universiteitsgemeenskap kan aanbeweeg.

“Beide die Hooggeregshof én die Konstitusionele Hof het nou bevestig ons Taalbeleid is grondwetlik geregverdig. En ʼn onafhanklike ondersoek het bevind ons het niks verkeerd gedoen nie.

“Ons bly verbind tot die gebruik van Afrikaans en Engels as onderrigtale ter bevordering van inklusiwiteit en meertaligheid.

“Dis tyd dat almal dít aanvaar sodat ons met onverdeelde aandag kan doen waarvoor ons hier is – om die beste moontlike universiteit vir almal in ons land te wees.

“Ons sien uit na ons gradeplegtighede volgende week, waar duisende studente en personeellede se harde werk beloon sal word. Ons is trots op ons Universiteit en sy mense.

“Baie dankie aan almal wat my in hierdie tyd ondersteun het. Dankie ook aan almal wat die Universiteit ʼn nasionale bate help maak.

“Dis byna die einde van die jaar. Ons almal verdien ʼn blaaskans. Sterkte met die laaste stukkie van die jaar. Ek hoop almal rus lekker en kom vol ywer terug vir 2020."