Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Howe moet sosiale geregtigheid bevorder – Madonsela
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 12/11/2019

Kan die howe beter vaar in hul rol om geregtigheid, veral sosiale geregtigheid, deur administratiewe reg te bevorder?

Dit was een van die sleutelkwessies wat prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg aan die Universiteit Stellenbosch (US), Maandag (11 November 2019) probeer beantwoord het in haar intreerede, getiteld Judicial review through a social justice lens, in die Adam Small-teaterouditorium.

Madonsela het gesê die howe het hulself uitstekend van hul taak gekwyt as die primêre beskermers van die Grondwet en van die samelewing deur die land by tye van 'n ramp te red.

“Dit was veral die geval waar mense die Grondwet as 'n swaard ter bevordering van menseregte gebruik het, in besonder maatskaplike en ekonomiese regte soos die reg tot onderwys, die reg tot behuising en sekerheid van verblyfreg vir plaas- en ander bewoners asook inwoners van informele woongebiede."

Volgens Madonsela het die howe 'n kritieke rol om te speel om te help om huidige ongeregtighede reg te stel, omdat “sosiale ongeregtigheid 'n groot bedreiging vir demokrasie, regsorde, maatskaplike kohesie en uiteindelik vrede inhou.

“Ek glo nie dat net die uitvoerende en wetgewende arms van die regering alleen ongeregtigheid, veral maatskaplike ongeregtigheid, sal kan uitwis nie. Dit is almal se taak, insluitende die howe.

“Die howe kan in hierdie verband slegs deur regskundigheid en deur die regte invloed uit te oefen, 'n bydrae lewer. Die hele hofstelsel – van die hof vir klein eise tot die Konstitusionele Hof – moet met regskundigheid in ooreenstemming met die visie en etos van die Grondwet deurdring word."

Ter beklemtoning van sommige van die regbank se tekortkominge, het Madonsela gesê die regskundigheid is nie altyd konsekwent nie en soms staan dit onverskillig teenoor die omstandighede van gewone mense, wat die versterking van maatskaplike en ekonomiese ongelykhede tot gevolg het.

“Die oorhelling na rasionaliteit as die toetssteen met baie vloeibaarheid in interpretasie hou 'n gevaar in vir administratiewe reg se bydrae tot die bevordering van grondwetlike opdragte rakende maatskaplike geregtigheid."

Madonsela het voorgestel dat regterlike hersiening onder meer menswaardigheid, ondersteun deur die waarde van Ubuntu, moet bevorder. Maar terselfdertyd moet dit ook individue en die samelewing se belange, gegrond op gedeelde menslikheide en gelykheid van menseregtegeregtigheid balanseer.

Vir die pad vorentoe, sê Madonsela, moet ons poog om 'n administratiewe hof en 'n elektroniese hulpbronstelsel vir regters van die administratiewe hof te vestig. Sy het bygevoeg dat gewone Suid-Afrikaners ook opgevoed moet word oor “administratiewe geregtigheid, die implikasies daarvan vir hulle en hoe om maatskaplike en ander vorme van verantwoordbaarheid as hefboom aan te wend om administratiewe geregtigheid te bewerkstellig en demokrasie vir hulle en vir almal te laat werk."

  • ​Foto: Prof Thuli Madonsela lewer haar intreerede. Fotograaf: Anton Jordaan