Veertien jaar
gelede het prof Quinette Louw haarself in die Universiteit Stellenbosch (US) se
geskiedenisboeke ingeskryf toe sy die instelling se heel eerste medeprofessor
in fisioterapie geword het. In 2010 het haar professorskap gevolg – weer eens
‘n eerste. Vandag is sy uitvoerende hoof van die Departement Gesondheid en Rehabilitasiewetenskappe
en die Afdeling Fisioterapie. Daarby is sy in 2018 aangewys as bekleër van die Suid-Afrikaanse
Navorsingsleerstoel (SARChI) in Innoverende Rehabilitasie.
Reeds sedert haar
studentedae in die negentigs spandeer Louw baie tyd daaraan om verskillende
soorte pyn wat verband hou met spiere en die skelet te ondersoek en te kan
behandel. Dié soort pyn sal tipies op hul ergste wees as iemand ‘n beseerde
liggaamsdeel, byvoorbeeld ‘n knie, rug of skouer, beweeg.
Rugpyn is die
onderwerp van haar praatjie as deel van die Forward with Research Impact-lesingreeks
van die Afdeling Navorsingsontwikkeling. Dit vind op 13 November om 13:00 in
die US Museum in Ryneveldstraat op Stellenbosch plaas.
In 2018 was Louw
die enigste navorser uit Afrika wat genooi is om insette en data te lewer vir
‘n reeks oorsigartikels in die mediese vaktydskrif The Lancet oor die
wêrelwye voorkoms van rugpyn. Dit het oor die afgelope 25 jaar verdubbel, en
het ‘n impak op die ekonomie omdat mense al te dikwels van die werk af afwesig
is.
“Rugpyn kom meer
in laer inkomste lande as in hoër inkomste lande voor. Ons verstaan nog nie
heeltemal hoekom dit so is nie,” merk Louw op. “Dit bly ‘n probleem om die
toestand te bestuur. Die effektiwiteit van baie metodes wat gebruik word kan
bloot nie met die nodige bewyse gestaaf word nie.”
Sy sien te dikwels
hoe pasiënte onnodig lank medikasie gebruik wat geen werklike invloed het op
hul pynvlakke of die oorsake van hul ongemak nie. Vir Louw lê die oplossing
veel eerder in die gebruik van transdissiplinêre rehabilitasietegnieke wat op
die kern van die probleem fokus.
Alles oor
beweging
Louw het in
Richmond in die Noord-Kaap in ‘n onderwyshuis grootgeword. As tienjarige het sy
saam met haar gesin na Kaapstad verhuis, en in 1991 as een van Bishop Lavis
Sekondêr se uitblinkers gematrikuleer.
Vir 13 jaar van haar
lewe het Louw ballet en kontemporêre dans gedoen. Sy onthou nog hoe die
beweging en vloei wat daarmee gepaard gegaan het, by haar geresoneer het. Op
advies van 'n familievriend het sy na skool 'n BSc in Fisioterapie aan die
Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gaan studeer en dit in 1994 behaal.
“Dit gaan oor
beweging,” vat sy die beroep in ‘n paar woorde op.
Na universiteit
het sy waardevolle praktiese ervaring opgedoen in 'n
gemeenskapsgesondheidsentrum in Athlone. Louw, wat haarself as 'n 'ewige
student' beskryf, het daarna haar 'n meestersgraad aan die Universiteit van
Suid-Australië in 1998 voltooi. 'n Dosentpos aan UWK het gevolg. Dit het ruimte
gelaat dat sy haar eie privaatpraktyk kon opbou, en sodoende haar kliniese
vaardighede skerp kon hou.
Louw het in 2004
haar PhD voltooi, weer aan die Universiteit van Suid-Australië. Die meeste van
haar navorsing oor die biomeganika van kniebeserings is in Suid-Afrika gedoen.
In 2005 het sy by
die Universiteit Stellenbosch aangesluit as medeprofessor. Sy is voor die taak
gestel om die navorsingsprofiel en nagraadse program van die Afdeling
Fisioterapie uit te bou. Dit was in ‘n tyd waarin die finansieringsmodelle van
universiteite begin verander het, en ‘n al groter klem begin plaas is op navorsingsuitsette
tesame met onderrig- en opleidingsverpligtinge.
In 2005 is die
eerste van Louw se twee kinders ook gebore. Haar seun, nou reeds ‘n tiener, is
‘n begaafde klassieke pianis, en haar tienjarige dogtertjie is 'n ywerige
bakker met 'n talent vir die ontwerp en versiering van koeke.
“Vir die eerste
tien tot 12 jaar van my loopbaan aan die US moes ek 'n navorsingsprofiel opbou.
My strategie was om die uitsette wat danksy elke bietjie befondsing gelewer is,
te optimaliseer. Vir elke sent wat ons ontvang het, het ons 'n uitset gelewer. Sodoende
kon ons ons navorsingsuitsette vermeerder, en ook strategiese netwerke met medewerkers
in Duitsland, Ierland en Australiese bou,” sit Louw haar strategie uit. “Aan
die begin het ons so een of twee artikels per jaar gepubliseer. Deesdae is dit
by die 35 per jaar. Met die nuwe Leerstoel hoop ek ons sal dit kan opstoot na
50 toe.”
In die loop van
veertien jaar het Louw reeds 76 nagraadse studente uit 15 lande in Afrika, die
Midde-Ooste, Europa en die VSA suksesvol help gradueer. Saam bied hulle ‘n waardevolle
poel kundigheid tot fisioterapie. Vier van haar studente is al as die Fakulteit
Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se top nagraadse presteerders aangewys.
Louw se kantoor
is naby die Biomeganika Fasiliteit op die Tygerbergkampus. Dié is in 2008
geopen en word sedertdien gebruik deur 'n multidissiplinêre span megatroniese
en industriële ingenieurs, mediese spesialiste en ander mense wat in die
gesondheidsektor werk. Dit funksioneer deesdae as deel van die Universiteit se Sentrale
Analitiese Fasiliteit.
Louw floreer op
die uitdagings en geleenthede wat 'n akademiese omgewing soos die Afdeling
Fisioterapie bied, en die kans om daagliks van haar kollegas en studente te leer.
Sy glo dis belangrik om gereed te wees as ‘n geleentheid hom sou voordoen, en
om binne transdissiplinêre spanverband te werk.
"Ek’t dit
nog altyd goed reggekry om my navorsing op Afrika te fokus, plaaslike kwessies te
ondersoek en te kyk watter strategieë vir ons sal werk en vir ons haalbaar sal
wees,” reken sy.
Skoolmeubels
Louw is baie
realisties oor 'n loopbaan in navorsing: "Dit vat lank om jou profiel op
te bou en onderwerpe te kan begin ondersoek wat ‘n impak het. En daarby ook om
toegang tot wesenlike befondsing te kry."
'n Koerantknipsel
teen haar kantoormuur gee ‘n oorsig oor ‘n projek wat Louw hoop nog kinders se
lewens sal kan help verander. KUZE is 'n bekostigbare, aanpasbare en robuuste
skoollessenaar en -stoel wat baie gesondheids-en sosiale voordele inhou. Dit
laat leerders toe om te sit of te staan en werk. Dit is die gevolg van jare se
navorsing oor goeie postuur, ergonomie en die invloed van ‘n statiese leefstyl
wat Louw en mede-US-navorsers dr Sjan-Mari Brown en Dominic Fisher uitgevoer
het.
Louw sê dit is
"baie opwindend" om te sien hoe navorsing in iets baie tasbaar omvorm
kan word, iets meer as net "navorsingsuitsette op 'n grafiek". Die
prototipe is getoets in skole in Gugulethu en Kensington en word sedertdien in ‘n
paar skole gebruik.
Dit word nog nie
verkoop nie, want die span het eers onlangs besluit om in die kommersialisering
van die prototipe te belê. ‘n Aansoek om ‘n internasionale patent is in 2018
ingedien met die ondersteuning van Innovus, die US se interaksie en
innovasie-maatskappy.
'n Duitse uitruilstudent
doen tans eksperimente om te kyk of die gebruik van die KUZE leerders se
konsentrasievermoë verbeter. Dit sou ‘n goeie motivering wees om meer
soortgelyke stukke meubels in klaskamers te kry.
Volgende fase
Die afgelope paar
jaar was Louw betrokke by 'n aantal nasionale projekte. Dit sluit die opstel
van broodnodige nasionale riglyne oor die rehabilitasie van beroertepasiënte in.
Dié word tans getoets by Baragwanath hospitaal in Soweto, voordat dit deur die
Nasionale Departement van Gesondheid onderskryf kan word. Die
Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sal van hierdie riglyne gebruik om minimum pakkette vir rehabilitasie in lae-en
middelinkomstelande te ontwikkel. Dit vorm deel van die WGO se Rehab 2030-projek
wat die insluit van rehabilitasiemetodes as 'n sleutelgesondheidstrategie
voorstaan.
In 2018 is
aangekondig dat Louw die bekleër van die SARChI-Leerstoel in Innoverende Rehabilitasie
sal wees. Sy het ten tyde van die aankondiging dit as "die verwesenliking
van 'n langtermyndoelwit en die toppunt van haar loopbaan" beskryf.
Sy sien die
leerstoel as bewys dat navorsing oor pasiënte se rehabilitasiebehoeftes ernstig
op institusionele, nasionale en regeringsvlak geneem word. Dit onderskryf ook
die behoefte aan meer studies daaroor, en die gebruik van rehabilitasie as 'n
strategie om die gesondheid van Suid-Afrikaners te verbeter. Die Leerstoel se werksaamhede
fokus op die insameling van wetenskaplike en kliniese bewyse oor watter transdissiplinêre
rehabiltasiemetodes koste-effektief gebruik kan word om mense se funksionering
te verbeter – of dit is na ‘n beroerte, ‘n ongeluk of weens chroniese siektes is.
Louw glo dis
belangrik om verhoudings met die Departemente van Gesondheid,
gemeenskapsgroepe, nie-regeringorganisasies en klinici te versterk in ‘n poging
om navorsing te doen wat die grootste moontlike impak op mense se lewens kan
hê.
Louw, wat reeds
sedert 2006 ‘n lid van die US Senaat is, voeg daarby: “Navorsers produseer
navorsingsuitsette. Om egter regtig die lewens van mense aan te raak en ‘n
betekenisvolle verandering teweeg te bring het jy vennote nodig wat dit kan
implementeer en gebruik.”