Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se LaunchLab is top universiteitsinkubator in Afrika
Outeur: Innovus
Gepubliseer: 08/11/2019

​Die Universiteit van Stellenbosch se LaunchLab is Woensdag, 6 November, aangewys as die top universiteitsinkubator in Afrika vir 2019/2010. Die toekenning is gemaak deur  by UBI Global, die Stockholm-gebaseerde intelligensie maatskappy en gemeenskap wat bekend is vir hoë-gehalte intelligensie, assessering en kartering van besigheidsinkubasie. 

UBI Global het hul lys van top besigheidsinkubators en versnellers bekend gemaak in die World Benchmark Study 2019 – 2020 en vrygestel tydens die World Incubation Summit 2019 in Doha, Qatar. Qatar Development Bank het vanjaar se byeenkoms geborg.​

Die US en Nedbank LaunchLab het uitmuntend gevaar om waarde toe te voeg vir nuwe ondernemings en vir die plaaslike ekosisteem. Ook die algehele aantreklikheid van die program in sy geheel het die beoordelaars by UBI Global beïndruk.

“Ons beoordeel inkubasiepgramme regoor die wêreld volgens 'n streng, gedrewe data-benadering," sê Holger Meyer, Navorsingsdirekteur by UBI Global. “Ons Wêreld-maatstafstudie vir 2019 - 2020 stem ooreen met die veelvuldige fasette van die internasionale ekosisteem vir inkubasie. Dit  illustreer ook die belangrikste uitdagings en geleenthede wat die deelnemende programme in die gesig staar."

Brandon Paschal, die waarnemende Uitvoerende Hoof by LaunchLab sê: “Sodra ons 'n onderneming onderwerp aan die produktiefste maatskappy vir tegnologie-oordrag in Suid-Afrika (Innovus), weet ons dit gaan 'n suksesverhaal wees. Daar kom voortdurend nuwe innovasies uit die Universiteit van Stellenbosch waarmee ons kan werk. Voeg nou die talentvolle entrepreneurs hierby en jy het die resep vir 'n impakvolle inkubasie. Ons is geweldig trots of vir 'n tweede keer hierdie toekenning te ontvang en hopenlik kan ons volgende keer die eerste universiteitsinkubator wees wat op die wêreldranglys verskyn."

Vanjaar is 364 programme van 78 lande regoor die wêreld gekies nadat die data wat van die programme ontvang is, ontleed en geverifieer is.

Vir die volledige lys, kliek hier: ubi-global.com/rankings

"LaunchLab is geëerd om hierdie toekenning te ontvang en vir die tweede keer benoem te word as die top-uitdager in Afrika. Afrika het die talent en dryfkrag om ekonomiese groei en sosiale verandering na die kontinent te bring. Die ongelooflike groep entrepreneurs wat ons elke dag na omsien, is skeppers van wêreldklas-innovasie en die rede waarom ons hierdie toekenning ontvang het," sê Paschal.