Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekroonde studente aangemoedig om nuwe goed te doen
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 04/11/2019

​Altesame 92 studente van die Universiteit Stellenbosch is Woensdagaand (30 Oktober 2019) ter viering van uitnemendheid by die jaarlikse Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie vereer.

Die kollig het dié aand op studente wat op verskeie gebiede – van akademie, sport en kultuur tot sosiale impak en ko-kurrikulêre vlak – uitgeblink het, geval. Prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig aan die US, het in sy openingsrede gesê studente speel 'n belangrike rol in die handhawing van 'n uitnemende, florerende en inklusiewe kultuur by die US.

Hy het gesê die doelwit van die aand was om erkenning aan uitnemendheid te gee. “Die mededinging was straf en vanaand ontmoet julle hoogsverdienstelike studente. Ons wil studente wat 'n positiewe verskil aan die US gemaak het, beloon. Hierdie studente gaan waarskynlik 'n betekenisvolle bydrae tot ons Suid-Afrika lewer."

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor end Visekanselier, het gesê die Rektorstoekennings is een van sy persoonlik hoogtepunte op die US-kalender. “Ons erken vanaand uitnemendheid; dit is vir ons 'n eer en 'n voorreg om hierdie pad saam met julle te stap," het hy gesê.

Die geleentheidspreker, dr Nthabiseng Moleko, het die SR-toekenning vir Uitnemende Alumni ontvang.

Die voormalige Suid-Afrikaanse president het Moleko in 2017 as 'n kommissaris in die Kommissie vir Geslagsgelykheid aangestel. Sy dien tans as ondervoorsitter van die kommissie. Moleko was ook die eerste swart Suid-Afrikaner om as 'n fakulteitslid by Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool (USB) aangestel te word. Sy doseer tans Ekonomie en Statistiek.

Moleko het in haar toespraak aan die presteerders gesê: “Julle almal hier vanaand is leiers.

“Ons land het 'n ander tipe leierskap nodig, 'n leierskap wat bekommerd is oor en belangstel in ons land se ontwikkeling. Ons het leiers nodig wat alle Suid-Afrikaners sal bedien; ons het etiese leierskap nodig – die tipe leierskap wat sal verseker dat ons verlede nie herhaal word nie."

Sy het byvoeg dat regstelling nodig is in 'n land soos Suid-Afrika.

Volgens Moleko rus die verantwoordelikheid om Suid-Afrika te herstel, nie net op die regering nie, maar ook op diegene wat oor die geld en hulpmiddels beskik om dit te doen.

“Ons het dringend leiers nodig wat 'n ander agenda sal voorhou, ons het 'n nuwe stelsel nodig – met inklusiwiteite en 'n nuwe klas denkers. Dit geld vir jonk en oud, aangesien ons gesien het hoe ou stelsels faal, terwyl die uitkoms daarvan duidelik in die toestand waar in ons gemeenskappe hulself bevind, te siene is.

“My boodskap aan julle vanaand is dít: Moenie bang wees om iets te doen wat nog nooit vantevore gedoen is nie; ons het alternatiewe metodes en stelsels van doen nodig in hierdie land."

Sy het gesê klein projekte by twee of drie skole gaan nie die toestand waarin ons land is, regstel nie. “Apartheid is nasionaal geïmplementeer en toegepas, dit was groot. Dit beteken ons moet op dieselfde vlak, of selfs op 'n groter skaal, goed doen, die goed moet die sleg oorskadu," het sy gesê.

Moleko het 'n honneursgraad in Sakestudie (Ekonomie) aan die Universiteit van Kaapstad en 'n MPhil in Ontwikkelingsfinansiering aan die USB behaal. Sy het in April haar doktorsgraad in Ontwikkelingsfinansiering aan die USB voltooi.

Sy is ook 'n skrywer en 'n ywerige digter. Sy het reeds drie boeke die lig laat sien: Career Guidance and Technical Training: A solution for youth unemployment en twee bloemlesings (Abundant Living en Been Chasing Destiny). Sy is sedert 2010 met behulp van beroepsvoorligting en digkuns aktief by jeugontwikkeling in veral landelike gebiede en townships betrokke.