Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUs groet klas van 2019
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 18/10/2019

​“Die 10-maande lange ondervinding by die SciMathUs-program (Wetenskap en Wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch) het my hele vyf jaar op hoërskool oortref," het Taariq Willemse by SciMathUs se afsluitingsplegtigheid vir 2019 wat vroeër vandeesweek by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) gehou is, gesê. 

Willemse was een van 100 studente wat gekies is om aan die 2019 SciMathUs-program deel te neem.

“Ek kan met trots sê dat ons nou intelligent en vol kennis is. Yster slyp yster en ek kan bevestig dat my swaard nou skerper is as ooit tevore. Ons het in soveel opsigte gegroei en daarvoor wil ek graag die personeel en ons mentors bedank. Hierdie program verander beslis lewens en dit het aan ons 'n tweede kans gegee," het Willemse bygevoeg.

Die program, wat deur die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogiek (SUNSEP) aangebied word, gee studente uit agtergeblewe opvoedkundige agtergronde oor die hele land 'n tweede kans om vir hoër onderwys te kwalifiseer. Ná voltooiing van die SciMathUS-program besluit sommiges selfs om hulle tersiêre opleiding aan die Universiteit Stellenbosch (US) te deurloop.

Phumeza Gova, 'n voormalige SciMathUs-student en nou 'n mentor wat aan die einde van die jaar haar BSc-graad in Geologie en haar Nagraadse Sertifikaat in Opvoeding (PGCE) ontvang, het ook paar afskeidswoorde met die studente gedeel.

“Ek voel geëerd dat die verantwoordelikheid om as mentor vir hierdie jongmense op te tree, aan my toevertrou is. Dit was nogal uitdagend, maar ons word nie deur daardie worstelinge gedefinieer nie."

Gova het gesê sy hoop die studente sal al die kennis met hulle saamneem, aangesien hulle eendag soortgelyke programme se donors sal wees.

Nokwanda Siyengo, programbestuurder vir SciMathUS, sê dit was wonderlik dat voormalige studente die huidige studente as mentors kon lei. Volgens Siyengo het dit gehelp omdat hulle feitlik eweknieë was en dus dinge kon bespreek en mekaar kon touwys maak.

SciMathUs-fasiliteerder dr Elza Lourens het gesê dit was hul 19de SciMathUs-groep sedert die program in 2001 ingestel is.

“Julle was 'n uitstekende groep studente. Ek verwonder my altyd aan jul krag en hoe julle jul plek by die Universiteit volstaan. Ons beste wense vergesel julle op jul onderskeie reise van lewenslange leer. Ons sal by jul gradeplegtigheide wees om julle aan te moedig. Gaan uit, leef dit uit en maak dit julle werklikheid," het sy aan die studente gesê.

Prof Mbulungeni Madiba, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, het in sy toespraak by die geleentheid die studente aangemoedig om by sy fakulteit aan te sluit. Hy het ook aan befondsers die versekering gegee dat hul belegging baie goed aangewend is.

Die volgende studente, wat hul punte drasties verbeter het, is ook vereer en gevier:

  • Amelia Adams: Rekenaargeletterdheid – 92%
  • Norma-Jean Daniels: Akademiese geletterdheid – 82%
  • Craig Verhoog en Onthathile Motlhasedi: Albei 82% in Rekeningkunde
  • Kabelo Tlhabira: Natuurwetenskap – 92%
  • Keneilwe Mataboge: Wiskunde – 94%