Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Akademiese Diplomasie bevorder die implementering van Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD) in Afrika
Outeur: Afdeling Navorsingsontwikkeling | Division for Research Development
Gepubliseer: 16/10/2019

​Op 10 Oktober 2019 is 'n belangrike samewerkingsooreenkoms tussen die Universiteit Stellenbosch (via die Development and Rule of Law Program), die Pan-Afrika-Parlement (PAP) en die Duitse Omgewingsagentskap (Umweltbundesamt) onderteken. Met hierdie Memorandum van Verstandhouding betree die Universiteit Stellenbosch (US) die gebied van akademiese diplomasie en beleidsontwikkeling. Professor Eugene Cloete (Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies) en Professor Oliver Ruppel (Direkteur, Development and Rule of Law program) het namens die Universiteit die ooreenkoms onderteken.

Namens die PAP, is die memorandum onderteken deur sy President, die Reg Eerbare Roger Nkodo Dang. Die PAP is 'n liggaam van die Afrika Unie wat tot stand gebring is om die volle deelname van Afrika in die ontwikkeling en ekonomiese integrasie van die kontinent te verseker met die verdere doel om vrede, veiligheid, stabiliteit en die beginsels van menseregte en demokrasie in Afrika te bevorder en om goeie bestuur aan te moedig. Ter ondersteuning van hierdie mandaat, sal die US Development and Rule of Law Program (DROP), wat in 2012 tot stand gebring is, saam met die PAP werk in die konteks van die implementering van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD's), veral ten opsigte van beleidsontwikkelingprojekte. Die fokus hier is op die versoening van die spanning tussen omgewingsvolhoubaarheid, ekonomiese ontwikkeling en menslike welsyn met die oog op kritiese regs, politieke, ekonomiese en sosiale ontwikkelinge in Afrika. DROP is verbonde aan die SU se Waterinstituut en die Fakulteit Regsgeleerdheid. Die aktiwiteite daarvan is transdissiplinêr van aard, met 'n sterk regs- en sosio-politiese fokus op klimaatsverandering, geregtigheid, volhoubaarheid en transformasie.

Die twee vennote, PAP en DROP, word ondersteun deur die Duitse Omgewingsagentskap (UBA) wat Duitsland se sentrale federale owerheid vir omgewingsake is, onder toesig van die Duitse Federale Ministerie vir die Omgewing, Natuurbewaring en Kernveiligheid (BMU). Dr Harald Ginzky, 'n Direkteur van die UBA het die memorandum sterk aangemoedig tussen die drie partye wat saamwerk in VOD-diplomasie en beleidsontwikkeling tot voordeel van die Afrika-kontinent en wyer.

Die hoofdoel van die nuwe vennootskap is om die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD) van die Verenigde Nasies 2030 se volhoubaarheidsagenda effektief te implementeer. As 'n eerste projek werk die vennote saam oor die kwessie van neutraliteit van gronddegradasie (VOD-teiken 15.3) en volhoubare grondbestuur op die vasteland. Die projek word finansieël ondersteun deur die Duitse Ministerie van Ontwikkelingsamewerking (BMZ), deur die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ). Die doel is om 'n modelwetgewing vir volhoubare grondbestuur in Afrika te ontwikkel. Professor Eugene Cloete het tydens die geleentheid genoem dat DROP en die US saam met UBA baanbrekerswerk in Afrika in terme van SDG-diplomasie doen en beleidmakers nie-voorskriftelike, maar hoogs gekwalifiseerde beleidsadvies bied.

Vir meer inligting, besoek:

https://drop.sun.ac.za/