Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
JT Morrison-medalje vir beste MSc-student in Toegepaste Wiskunde
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 16/10/2019

Die 2018 John Todd Morrison-medalje vir die beste MSc-student in Toegepaste Wiskunde in die US se Fakulteit Natuurwetenskappe is toegeken aan Jacoline van Jaarsveld, 'n oud-leerling van Hoërskool Tygerberg.

Haar MSc-projek, met die titel “Predicting the effect of biofilm growth on the pressure drop over a biofilter" het reeds tot die publikasie van twee navorsingsartikels en 'n aanbieding by 'n internasionale konferensie gelei.

Jacoline sê sy het oorspronklik nie eens geweet daar bestaan 'n vak soos Toegepaste Wiskunde nie, en het in haar eerstejaar op ingenieurswese besluit weens haar voorliefde vir Wiskunde. Na haar eerstejaar het sy besluit om haar kursus na 'n BSc in Toegepaste Wiskunde te verander.

“Op skool en as voorgraadse student het ek nooit 'n A-gemiddeld behaal nie. Ek het eers begin presteer toe ek begin opgewonde raak oor dit wat ek besig was om te leer," vertel sy.

Sy is vol lof vir haar dosent en studieleier, Dr Sonia Fidder-Woudberg, wat haar oor 'n tydperk van drie jaar vir haar BScHons- en MSc-graad begelei het: “Sy het my ondersteun en ongelooflik baie tyd aan my bestee. Ek het haar moeite verskriklik baie waardeer!"

Sy is ook dankbaar teenoor haar ouers, Martin en Sonja van Jaarsveld, wat haar toegelaat het om self te kies wat sy wil studeer: “Hulle was baie geduldig met my, want dit was nie altyd maklik nie. Ek sou dit nie sonder hul ondersteuning kon gedoen het nie."

Jacoline werk tans as datawetenskaplike by die Simera Groep, 'n Suid-Afrikaanse ingenieursmaatskappy wat in 2010 gestig is en spesialiseer in databestuursisteme en simulasies.

By Simera doen sy data-analise en data-visualisering, maar wil uiteindelik in masjienleer spesialiseer: “Ek wil deel wees van 'n span waar ek my kennis en ondervinding in die voorbereiding en manipulering van data kan gebruik," sluit sy af.

Gedurende 'n funksie op 21 August 2019 het die Toegepaste Wiskunde Afdeling ook hul beste voorgraadse studente vir hul harde werk beloon. Die beste eerstejaar student vir 2018 was Emma Nel met 'n gemiddeld van 95%. Die beste tweedejaar student was Jacobie Mouton (99.5%) en die beste derdejaarstudent was Fred de Villiers (90.25%). Die beste BScHons-student, Esmari Maré (87%), is tans besig met haar MSc in Toegepaste Wiskunde. Elkeen van die studente het 'n sertifikaat en 'n boek, geskenk deur Cambridge University Press South Africa, ontvang.

Awards applied maths 2019_small.jpg

Meer oor die John Todd Morrison-navorsingsmedalje

Prof John Todd Morrison in in 1891 by die Victoria Kollege (voorloper van vandag se US) aangestel as dosent in Fisika en Chemie. Vanaf 1906 tot 1923 beklee hy die leerstoel in Toegepaste Wiskunde, en daarna, tot met sy aftrede in 1934, die leerstoel in Fisika. Die John Todd Morrison-navorsingsmedalje word jaarliks toegeken aan die beste MSc-student wat in Fisika of Toegepaste Wiskunde met lof gradueer.