Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet Ingenieurswese-wenner van Toekennings vir Voortreflike Onderrig
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 16/10/2019

​As een van die 2019-wenners van die jaarlikse Universiteit Stellenbosch (US) Toekennings vir Voortreflike Onderrig, vind hy groot bevrediging daarin om te sien hoe sy studente ontwikkel, sê dr Karel Kruger, 'n dosent aan die US se Departement Meganiese Megatroniese Ingenieurswese.

Volgens Kruger, wat 'n toekenning in die “Ontwikkelende Opvoeder"-kategorie ontvang het, het hy in 'n huishouding waar albei sy ouers onderwysers was, grootgeword. Dit het beteken dat onderwys altyd 'n permanente plek in sy lewe sal hê.

Die toekennings, wat in 2017 bekendgestel is, gee erkenning aan US-dosente in twee kategorieë, “Uitgelese Opvoeder" en “Ontwikkelende Opvoeder" en word gegrond op hul ondervinding en leierskap op die gebied van onderrig en leer.

Deelnemers moes 'n portefeulje indien wat hul denke oor en bewys van vier hoofonderdele uiteengesit het: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moes ook 'n aanduiding gee van die lesse wat hulle op hul reis om uitnemende opvoeders te word, geleer het.

“Ek gee sedert my aanstelling in 2016 by die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese formeel klas. Ek het egter sedert ek my voorgraadse studies in 2010 voltooi het, informeel klas gegee as studieleier en mentor vir kleingroepe," sê Kruger.

Hy sê hierdie erkenning is opbouend, maar hy beskou egter nie hierdie tipe erkenning as 'n motivering om na uitnemendheid as opvoeder te streef nie.

“Ek word nog altyd deur my passie vir studenteontwikkeling aangevuur. Hierdie toekenning is 'n bevestiging van die belangrikheid van leer en die fasilitering van studenteleer binne die Universiteit Stellenbosch. Dit inspireer my om aan te hou om my bydrae tot onderrig en leer by hierdie instelling te verbeter," voeg hy by.

Hy beskryf die toekenning as 'n verteenwoordiging van die ondersteuning van die onderrig- en leergemeenskap by die US, wat hom inspireer en hom die vertroue gee om voor te gaan om sy onderrigfilosofie en -inisiatiewe te ontwikkel.

Kruger sê hy hoop dat hy met sy passie om met jongmense te werke, 'n opgewondenheid en passie vir leer by sy studente sal vestig en hy wil hulle aanmoedig om waarde in kennis deur die toepassing daarvan te vind.

Kruger beskou die voltooiing van sy doktorsgraad en sy aanstelling as die grootste hoogtepunte in sy akademiese loopbaan. “Dit was terselfdertyd 'n angswekkende en opwindende ondervinding om my eerste lesing aan te bied. Nog 'n hoogtepunt is die erkenning wat ek deur my onderrigtoekenning ontvang het."

Hy sê hy het sy grootste uitdaging gedurende die eerste drie jaar wat hy sy PhD deeltyds gedoen het, beleef toe hy sy nuwe aanstelling as 'n voltydse akademiese personeellid en die geboorte van sy dogter gelyktydig moes hanteer.

“Die onderrig- en leer-gemeenskap by die Fakulteit Ingenieurswese het my in my loopbaan as dosent nog altyd deurlopend ondersteun. Hierdie mense het vir my raad en rigting in al my ondernemings en inisiatiewe gegee en dit is hulle wat my vir hierdie toekenning benoem het. Daarvoor is ek oneindig dankbaar," sê hy.

*Bogenoemde kandidaat sal sy toekenning by 'n prysuitdelinggeleentheid aan die einde van die vierde kwartaal ontvang.

Vir verdere inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig, skakel dr Karin Cattell-Holden by 021 808 3074 of stuur 'n e-pos na kcattell@sun.ac.za.