Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteitswyn blink uit met ‘n dubbel-goue Veritastoekenning
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 14/10/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) se wynmaker en keldermeester, Riaan Wassung, kan met reg trots voel na afloop van die 29ste Veritas Vertex-toekennings. Sy Die Laan Merlot Reserve 2017 was die enigste Merlot onder die 1491 inskrywings by vanjaar se kompetisie om 'n dubbelgoue medalje te ontvang.

Om 'n dubbelgoud-toekenning te kon ontvang, moes 'n wyn minstens 93 uit 100 op die beoordelaars se puntestaat behaal het.

Die Veritas-toekenningsgeleentheid word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging aangebied. Vanjaar is 76 dubbelgoud-medaljes (aan 29 produsente) en 198 goue medaljes toegeken.

'n Dubbelgoud is die hoogste toekenning wat 'n wyn wat in die Universiteit se Welgevallen Kelder gemaak is, al by hierdie gerekende kompetisie behaal het. Vier ander wyne wat vanjaar deur die kelder ingeskryf is, het 'n silwer medalje ontvang, en 'n vyfde het 'n brons medalje gekry.

Die Welgevallen Wynkelder maak deel uit van die US Fakulteit Agriwetenskappe. Die US is die enigste Suid-Afrikaanse universiteit wat wingerd- en wynkunde as studieveld aanbied. Daarby lewer die US ook deur verskeie verwante inisiatiewe 'n belangrike bydrae op navorsingsgebied.

“Die wyn het 'n baie mooi intense rooi kleur, goeie ekstraksie en 'n mooi balans. Die tannienstruktuur is vol en kompleks, met tipiese rooibessie- en cassisgeure op die neus," brei Wassung oor Die Laan Merlot Reserve 2017 uit.

Daar is nog sowat 800 bottels daarvan in voorraad, wat teen R150 elk verkoop word. Kontak Wassung by winesales@sun.ac.za of 021 808 2925 of besoek die Welgevallen Kelder tydens werksure. Dis geleë tussen Paul Roos Gimnasium en Coetzenburg op Stellenbosch. Vir meer inligting, besoek www.facebook.com/DieLaanWines.

  • Foto: Welgevallen Wynkelder se wynmaker en keldermeester Riaan Wassung (links) saam met Christo Pienaar, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging. Foto: Veritas