Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-studente en gevangenes studeer saam as deel van Ubuntu-projek
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 10/10/2019

Studente van die Universiteit Stellenbosch (US) en Brandvlei Korrektiewe Sentrum naby Worcester het Dinsdagoggend (8 Oktober 2019) hul bevoegdheidsertifikate ontvang nadat hulle die land se heel eerste interdisiplinêre kortkursus wat in die tronk aangebied is, voltooi het.

Dié inisiatief, wat die Ubuntu-kortkursus genoem word, is die resultaat van 'n vennootskap tussen US en die Departement Korrektiewe Dienste. Die US se Afdeling vir Sosiale Impak en die Fakulteit Regsgeleerdheid het die projek befonds.

Die geakkrediteerde kursus van 14 weke lank het in Maart afgeskop en altesaam 30 US-studente en gevangenes van die Brandvlei Korrektiewe Sentrum naby Worcester by die gevangenis bymekaar gebring vir 'n weeklikse drie uur lange klas.

Die doel van die kursus is om sosiale geregtigheid te bevorder en leer weer te humaniseer deur middel van samewerking, gemeenskapsbou en verbondenheid tussen mense.

Die kursus is interdissiplinêr van aard en ondersoek die tema “Is ek omdat ons is? Die ondersoek van self en gemeenskappe" vanuit die perspektiewe van die reg, letterkunde, geskiedenis en ekonomie.

Die kursusfasiliteerders was US-akademici drs Mary Nel van die Fakulteit Regsgeleerdheid, Chet Fransch en Daniel Roux van die Departement Geskiedenis en Engels onderskeidelik, en Debra Shepherd van die Departement Ekonomie.

Die kursus is die inisiatief van Nel, akademiese direkteur van die Ubuntu-kortkursus en senior dosent in die Departement Publiekreg, wat geïnspireer is deur soortgelyke inisiatiewe vir gevangenesopvoeding in die Verenigde Koninkryk en die VSA. Dié inisiatiewe is 'Learning Together' (by Cambridge Universiteit), en 'Prison-to-College Pipeline' (John Jay College for Criminal Justice in New York).

“Die kursus het daarin geslaag om die persepsies van diegene agter tralies te verander deur mense uit 'n verskeidenheid van agtergronde bymekaar te bring om saam in 'n veilige leeromgewing te leer. Om saam te leer, was bevrydend vir ons intellek," het Nel gesê.
Sy het bygevoeg dat sy graag wil sien dat die inisiatief na ander universiteite uitgebrei word en dat daar aangehou word om hindernisse die hoof te bied en stereotipes uit te daag.

Andile Nelani, streekskoördineerder van onderwys en opleiding by die Departement van Korrektiewe Dienste, het gesê rehabilitasie is die verantwoordelikheid van die samelewing en het die Universiteit Stellenbosch bedank vir die rol wat dit gespeel het in die rehabilitasie van die Brandvlei-studente.

“Ons as korrektiewe fasiliteit is nie toegerus nie en het nie die tyd en ruimte om programme soos hierdie in te stel nie. Ons word gedwing om vindingryk te wees met eksterne vennote soos die US. Ons hoop dat ons deur hierdie inisiatief ander gemeenskapsgroepe kan betrek wat ook tot rehabilitasie kan bydra. Ons wil hê dat hierdie fasiliteit vir leer en ontwikkeling bekend moet staan in plaas van slegs as 'n korrektiewe fasiliteit,'' het Nelani gesê.

Awande Mshontana, 'n kursusganger van Brandvlei Korrektiewe Sentrum, het gesê die interdissiplinêre aard van die kursus het hulle toegerus om histories bewus te wees en oorredende regsargumente te voer. Die kursus het hulle ook gehelp om hul verborge talente te ontdek, patriargie teen te werk en feminisme te ondersteun.

“Ek glo dat hierdie kursus tot verantwoordelike wetsgehoorsame burgers sal lei," het hy gesê.

Prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel in sosiale geregtigheid by die US Fakulteit Regsgeleerdheid en voormalige openbare beskermer van Suid-Afrika, het 'n woord van bemoediging gelewer.

Sy het Nel en haar span bedank vir die gees van Ubuntu asook die menslikheid waarmee die projek aangepak is. Sy het gesê dat kennis mense nie noodwendig verander nie, maar “mense doen die regte ding wanneer kennis hulle getransfomeer het."

  • Foto: V.l.n.r. is dr Debra Shepherd van die US Departement Ekonomie en een van die vier kursusfasiliteerders; US-studente Kaylan Weppelman en Kelly-Robyn Morey; Siya Malashe, Brandvlei-kursusganger; dr Mary Nel van die US Departement Publiekreg en akademiese direkteur van die Ubuntu-leergemeenskap; Corné Claassen en Keketso Jabari, beide Brandvlei-kursusgangers.