Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoëvlak-bespreking oor landbounavorsing by US, ander SA universiteite
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 13/09/2019

'n Hoëvlak-byeenkoms van leidende rolspelers in die landboubedryf het Woensdag 11 September besin oor hoe toekomstige landbounavorsing aan en verwante vennootskappe met die Universiteit Stellenbosch (US) en die Suid-Afrikaanse akademie in die breë moet lyk. Die byeenkoms is aangebied deur die US Fakulteit AgriWetenskappe, in samewerking met AgriSA. 

Meer as 70 hoëvlak-verteenwoordigers van by die 60 bedrywe, besighede en assosiasies binne die Suid-Afrikaanse landbousektor het die voldag-sessie bygewoon. Industrieleiers het die geleentheid gehad om aanbiedings te maak oor hul onderskeie sektore, die strategie waarvolgens hulle navorsing aanpak en uit te lig watter ontwikkelende probleme hulle graag wou hê kundiges moes aanspreek. Onder hulle was verteenwoordigers van agribesighede, die veevoer-, wyn- en bosboubedrywe, vleis- en graanprodusente en die sagtevrugtebedryf. Die diereproduksiesektor is verteenwoordig deur leiers in die produksie van grootvee, kleinvee, vark, melk, wol en wildboerdery.

Paneellede is gevra om verslag te doen oor hoe hulle tans vennootskappe en navorsing binne hul onderskeie bedrywe, organisasies, besighede of dienssektore hanteer, en veral ook in terme van hul verhouding met die US. In 'n volgende sessies het paneellede kans gekry om toekomstige uitdagings binne navorsing en innovasie uit te lig. Sluimerende en ontluikende kwessies soos klimaatsverandering, 'n groter steun op tegnologie en maniere om steeds winsgewend te wees te midde van omgewingsprobleme soos droogtes en die uitbraak van siektes en peste is uitgewys. Talle het verwys na die konsep van Sentrums van Uitnemendheid en konsortia waarin kundigheid gekonsentreer word ten einde beter uitsette te verkry. Verskeie sprekers het universiteite uitgedaag om studente te lewer wat buite die konteks van 'n handboek probleme kan oorweeg, hul kennis kan toepas en oopkop is oor nuwe idees. 'n Behoefte is ook uitgespreek vir kortkursusse waardeur mense in die bedryf opgeskerp kan bly oor nuutste tendense, en die deel van inligting wat uit navorsingsprojekte spruit.

Die paneelsessies is gelei deur dr Pieter Prinsloo van Agri SA en prof Danie Brink, dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe. Onder die paneellede was Richard Krige (Wintergraan Trust), Theuns Laas (Rooivleis Produsente Organiasasie), Francois Strydom (SENWES), Piet van Zyl (York Timbers), Nick Dicey (HORTGRO), De Wet Boshoff (Vereniging vir Veevoervervaardigers, AFMA), Gerard Martin (Winetech), Sean Walsh (Kaap Agri), dr Vaughan Hattingh (Citrus Research International), dr Marinda Visser (Graan SA), Francois Siebrits (Suid-Afrikaanse Vereniging vir Varkprodusente), Giovanni Sale (Sappi) en André Schreuder (Villa Crop).

“Ek weet ons stel onsself oop vir kritiek deur die aanbied van so 'n dag van introspeksie. Dis egter vir my belangriker om te weet wat die US beter, anders en meer vernuwend kan doen om die landboubedryf in die breë te bevorder. Daarom wou ons die stemme en menings van belangrike rolspelers in die bedryf hoor," het prof Danie Brink, dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe, na afloop gesê.

Volgens Brink is kwessies soos befondsingstekorte, die dilemma van praktiese teenoor meer fundamentele navorsing en die opleiding van studente wat hul plek in die industrie kan volstaan nie uniek aan 'n toonaangewende universiteit soos die US nie. Hy reken Suid-Afrikaanse universiteite ervaar groot uitdaging op politieke, ekonomiese, omgewings- en tegnologiese gebied. Daarom was akademici van ander instellings soos die Universiteite van die Vrystaat, Rhodes en Pretoria en die Landbounavorsingsraad ook verteenwoordig.

“Suid-Afrikaanse akademici het saam 'n kollektiewe verantwoordelikheid om 'n sukses te maak van die navorsingswerk wat binne die landbousektor gedoen moet word, en self ook volhoubaar en relevant te wees," het hy gesê. “Ten midde van ʼn afname in befondsings vanuit staatsgeledere raak eksterne vennootskappe toenemend belangrik. Ons moet leer hoe om meer te doen met wat ons reeds het, en slimmer werk daarmee."

Ook teenwoordig was prof Eugene Cloete, die US se vise-rektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies, asook senior fakulteitspersoneel uit agriwetenskappe, ekonomiese en bestuurswetenskappe, ingenieurswese en natuurwetenskappe. Dié strategiese skuif was in lyn met verskeie aanbieders se voorspelling dat die antwoorde vir talle bedryfskwessies nie noodwendig net in die tradisionele landbouwetenskaplike dissiplines opgesluit lê nie. Te midde van die Vierde Industriële Revolusie speel tegnologiese ontwikkelings speel rekenaarwetenskaplikes, verbruikerstudies, logistieke kenners en ingenieurs 'n toenemend belangrike rol.

Omri van Zyl, hoof-uitvoerende bestuurder van AgriSA, het die dag beskryf as 'n “eerste geleentheid waar akademici en die privaatsektor bymekaar kon kom om te praat oor navorsing en ontwikkeling en die gapings wat bestaan."

“Dis fundamenteel belangrik dat die Suid-Afrikaanse landbousektor mededingend bly, en hierin speel navorsing en ontwikkeling 'n belangrike rol," het hy bygevoeg.

Hy reken die produktiwiteit van die sektor as 'n geheel kan verhoog word indien die privaatsektor en navorsingsinstellings beter belyn en 'n strategiese aanslag met betrekking tot navorsingsuitsette en industriebehoeftes gebruik word.

“Dit kan ook die diepte wat in ons bedrywe, produsente en besighede beskikbaar is verbeter," reken hy.

In sy samevatting het prof Mohammad Karaan, voormalige dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe en lid van die Nasionale Beplanningskommissie die onderskeie belangegroepe uitgedaag om nie slegs krities te wees nie. Hulle moet ook vernuwend dink oor toekomsgerigte opleidings- en navorsingsvennootskappe wat ondersteunend tot landbou-ontwikkeling in Suid Afrika is.

Die Fakulteit AgriWetenskappe in breë:

  • Dis die toonaangewende landboufakulteit in Afrika, en tel onder die wêreld se Top 50.
  • 99% van alle akademici beskik oor 'n doktorsgraad.
  • Dit bestaan uit 11 departemente, 2 sentrums en drie institute, en beskik oor twee proefplase.
  • Vanjaar is daar 1550 ingeskrewe voorgraadse studente, 570 nagraadse studente en 240 PhD-studente in die fakulteit.

Foto: Hoëvlak-verteenwoordigers van by die 60 bedrywe, besighede en assosiasies binne die Suid-Afrikaanse landbousektor by​ die voldag-sessie. Fotograaf: Anton Jordaan

Vir medianavrae:
Prof Danie Brink

Dekaan: Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch

(021) 808 4737

db@sun.ac.za