Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Senaatkomitees stel voor dat US globale navorsingskode aanvaar
Outeur: Corporate Communication Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 04/09/2019

​Twee senaatkomitees het aanbeveel dat die Universiteit Stellenbosch (US) amptelik die ‘globale gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm is aan hulpmiddels’ (Global Code of Conduct for Research in Resource-Poor Settings - www.globalcodeofconduct.org) by sy volgende Senaatvergadering in November 2019 aanvaar. Die Senaat se Navorsingsetiekkomitee het verlede week (30 Augustus 2019) hierdie aanbeveling by sy geskeduleerde vergadering gemaak. Dit volg na ‘n soortgelyke aanbeveling deur die Navorsingskomitee van die Senaat by sy vergadering op 14 Augustus 2019.

Dié globale gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm is aan hulpmiddels is in 2018 as verwysingsdokument vir die Europese Unie se Horizon 2020-navorsings- en innovasieprogram aanvaar.

Die Senaat van die Universiteit Stellenbosch het die uitwerking van die navorsingsartikel, Age- and education-related effects on cognitive functioning in Coloured South African women, by sy geskeduleerde vergadering op 31 Mei 2019 bespreek nadat die US in die spervuur beland het toe die artikel in ’n internasionale wetenskaplike vaktydskrif, Aging, Neuropsychology and Cognition, verskyn het. Die redakteurs en uitgewers van die vaktydskrif het agterna die artikel in samewerking met die skrywers herroep – ’n stap wat heelhartig deur die US gesteun is.

Die Universiteit Stellenbosch het in ’n verklaring erken dat die betrokke artikel aanstoot gegee het en die menswaardigheid van talle Suid-Afrikaners aangetas het. Die US het onvoorwaardelik om verskoning gevra vir die erge trauma, pyn en woede wat dit vir lede van die algemene publiek, die Stellenbosse gemeenskappe, belanghebbers van die Universiteit en die US se kampusgemeenskap veroorsaak het.

INSTITUSIONELE INISIATIEWE

Die Senaat en sy subkomitees het in Mei al hul steun toegesê aan ’n gefokusde en gesamentlike langtermyn-institusionele reaksie op die kwessies wat die artikel en die verwante reaksie uitgelig het, byvoorbeeld tussenkomste op die US se kampusse om toepaslike temas soos die rol van ras in wetenskaplike navorsing en die transformasie van die US se institusionele kultuur aan te spreek.

In ’n mosie wat eenparig by die Senaat se vergadering in Mei aanvaar is, is spesifieke Universiteitstrukture die taak opgelê om na sekere konkrete voorstelle om te sien. Die volgende twee sake is na die Akademiese Beplanningskomitee (ABK) van die Senaat verwys:

  • Dat oorweging daaraan geskenk sal word om ’n moduleprogram oor antirassisme, demokrasie en kritiese burgerskap vir alle eerstejaarstudente aan te bied.
  • Dat akademiese departemente soos Gender- en Kritiese Rasstudies by die US ingestel word.

Die ABK het op ’n opname besluit om vas te stel watter van hierdie tipe initiatiewe reeds by die US aangebied word.

Ander voorstelle deur die Senaat het ingesluit dat:

  • “oorweeg word om ’n kampuswye meganisme wat toegewy word aan die transformering van navorsing en wetenskap” by die US te skep.
  • “’n reeks kortkursusse vir alle personeellede deur die Navorsingskantoor aangebied word” oor onderwerpe soos “die gebruik van menslike kategorieë in navorsing en wetenskap”. Navorsingsintegriteit word reeds in bestaande kortkursusse gedek, maar die moontlikheid van voorgeskrewe opleiding in navorsingsetiek word oorweeg. Intussen sal bestaande opleidingsinisiatiewe uitgebrei word om groter bewustheid te skep.

Die Navorsingskomitee van die Senaat het ook verdere aanbevelings by sy vergadering in Augustus gemaak:

  • Dat ’n proses geskep word sodat alle sosiale impakprojekte aan die US ’n etiese oorsig deurloop.
  • Dat lede van die navorsingsetiekkomitees, personeel en studente verpligte opleiding, insluitende bewusmakingsinisiatiewe oor etiese gedragskodes en die US se beleide en prosesse, ontvang.
  • Dat institusionele bewusmaking oor die risiko’s verbonde aan onetiese optrede in navorsing moet plaasvind met behulp van aanlyn- opleidingsprogramme en inisiatiewe.

ONDERSOEK

Gelyklopend met genoemde institusionele inisiatiewe is daar ’n breedvoerige ondersoek aan die gang na alle aspekte van die gepubliseerde artikel en prosesse wat gerig word deur die US se Beleid vir Verantwoordelik Navorsingsoptrede, asook die US se prosedure vir die ondersoek na bewerings van die verbreking van navorsingsnorme en -standaarde. Ná ’n aanvanklike ondersoek, het die US se navorsingsintegriteitsbeampte prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, versoek om ’n formele ondersoekkomitee aan te stel om spesifieke beweringe en prosesse te ondersoek.

Hierdie ondersoek sal na verwagting teen die einde van September 2019 voltooi wees en sodra al die prosesse afgehandel is, sal die uitslag bekendgemaak word.

WÊRELDWYE NAVORSINGSTANDAARDE

“Hoewel ’n enkele stuk navorsing geensins die gehalte, etiek en waardes van die US se uitstekende navorsingsprogram kan weerspieël nie, het die voorval ernstige gesprekke op ons kampusse ontlok oor hoe individue en gemeenskappe tydens navorsingsprojekte oor hulle behandel word – nie net aan die US nie, maar by alle Suid-Afrikaanse universiteite, en ook reeds vir ’n geruime tyd deur akademici die wêreld oor,” sê prof Cloete.

“Verbeterde wêreldwye navorsingstandaarde is reeds meer as ’n dekade lank op die internasionale navorsingsagenda. Gemeenskappe in Afrika het inderdaad ’n betekenisvolle rol gespeel om die uitbuiting van kwesbare gemeenskappe uit te lig. Dit het tot die samestelling van die globale gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm is aan hulpmiddels gelei. In 2018 is dit by ’n werksessie van die Europese Parlement aangekondig dat die TRUST* globale gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm is aan hulpmiddels ’n verwysingsbron vir die Europese Unie se Horizon 2020-navorsing- en innovasieprogram gaan word. Senaatkomitees en verskeie ander strukture het aanbeveel dat die US dié gedragskode aanvaar en dit sal by die volgende senaatvergadering in November 2019 vir amptelike goedkeuring ter tafel gelê word,” het prof Cloete bygevoeg.

Prof Doris Schroeder, die hoofskrywer, het die TRUST* gedragskode soos volg beskryf: “[Dit is] Die opwindende hoogtepunt van 14 jaar se gesprekke oor ‘etiese aflaaiing’. In 2004 het lede van Suid-

Afrika se San-gemeenskap vir die eerste keer aan my verduidelik hoe navorsers hulle uitgebuit laat voel het. In 2007 het verteenwoordigers van sekswerkers in Nairobi my van hul uitdagings vertel.”

Twee van die San-leiers van die Kalahari wat tot hierdie inisiatief bygedra het – mnr Andries Steenkamp en mnr Mario Mahongo – is ongelukkig voor die bekendstelling van die gedragskode oorlede.

OPKOMENDE GELEENTHEID – 16 SEPTEMBER 2019: INTREEREDE DEUR PROF JONATHAN JANSEN

Onderwerp:

Van ‘die sedelike toestand van die kleurling’ tot ‘the cognitive functioning of coloured women’: ’n Eue van navorsing oor bruin mense aan die Universiteit Stellenbosch

“Hoe verduidelik ’n mens die opkoms (of selfs die heropkoms) van ras-essensialistiese navorsing in die 21ste eeu? Meer spesifiek, waarom is daar steeds ’n navorsingsbeweging wat volhou dat daar ’n inherente verhouding tussen ras en begaafdheid, ingesteldhede en kennelike sosiale gedragsuitkomste is? Hierdie lesing volg 100 jaar se essensialistiese navorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US) (1919–2019) met behulp van ’n omsigtige studie van proefskrifte, in-huis vaktydskrifte, kommissies en alleenstaande publikasies wat fokus op die bestudering van bruin mense op Stellenbosch en die breër Wes-Kaap. Deur op ’n wye reeks vakgebiede, insluitende antropologie, sosiologie, dierkunde, maatskaplike werk, sielkunde en geneeskunde, te steun, sal die lesing bewys dat die onlangs-gepubliseerde en kontroversiële US-artikel oor bruin vroue se kognitiewe funksionering nie ’n uitsondering is nie, maar net nog ’n publikasie is in ’n tradisie van rassistiese determinisme wat institusionele navorsing nog elke dekade sedert die onstaan van die Universiteit gekleur het. Om sulke kennis in die bloedstroom te verander, is ’n baie ingewikkelder taak as wat dit is om die voorwaardes van etiese beoordeling te verander.”


16 September 2019 @ 18:00–19:00

Plek: Wiskunde-Wetenskap/Bedryfsielkunde-gebou – lesingsaal 1005

Merrimanlaan 36 Stellenbosch

Die aantal sitplekke is beperk, dus is dit noodsaaklik om bywoning te bevesitg: Celeste Mockey by tel 021 808-2783 of cmockey@sun.ac.za.

Die lesing kan ook via regstreekse stroomuitsending gevolg word by: http://blogs.sun.ac.za/inaugural-lectures/event/prof-jonathan-jansen/#

Bykomend agtergrondinligting:

*TRUST was ’n pluralistiese projek wat daarop gemik was om die voldoening aan hoë etiese navorsingstandaarde wêreldwyd te kweek en om die praktyk van “etiese aflaaiing” of die toepassing van dubbele standaarde in navorsing teen te werk deur saam met kwesbare bevolkings toerusting en meganismes te ontwikkel vir die verbetering van strukture vir navorsingsoorsigbestuur. Die TRUST-projek het in Desember 2018 ten einde geloop. Die TRUST-konsortium is egter nog steeds betrokke by pogings om “etiese aflaaiing” wêreldwyd te verminder. Besoek: Global Code of Conduct

Hierdie wêreldwye gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm is aan hulpmiddels werk etiese aflaaiing teë deur:

  • die verskaffing van leiding regoor alle navorsingsvelde;
  • die verskaffing van duidelike, kort verklarings in eenvoudige taal om die grootste moontlike toeganklikheid te verseker;
  • op navorsingsamewerkings wat taamlike magsongelykhede, asook ongelykhede in hulpbronne en kennis meebring, te fokus;
  • ’n nuwe raamwerk gegrond op die waardes van regverdigheid, respek, omgee en eerlikheid te gebruik; en
  • die aanbieding van ’n wye reeks leermateriale en gepaardgaande inligting om die gedragskode te ondersteun.

Diegene wat die gedragskode toepas, sal navorsers en befondsers van navorsing wees wat gekant is teen dubbele standaarde in navorsing en langdurige billike navorsingsverhoudings tussen vennote in laer- en hoër-inkomste-omgewings gegrond op regverdigheid, respek, omgee en eerlikheid. 

www.globalcodeofconduct.org