Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oproep vir volgende generasie om onwaarhede te ontbloot
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 21/08/2019

Die bekroonde skrywer, redakteur, satirikus en rubriekskrywer, me Marian Thamm, het 'n beroep op die opkomende generasie gedoen om te help om onwaarhede te ontbloot. Sy het Maandagaand (19 Augustus 2019) die agtste jaarlikse Frederick van Zyl Slabbert (FVZS)-erelesing by die Universiteit Stellenbosch (US) gelewer.

Die onderwerp van haar lesing was Navigating Your Way in a World Filled with Untruths. Sy het ook die talle jongmense in die gehoor aangemoedig om te help om die samelewing 'n beter plek vir toekomstige generasies te maak.

“Die manier om ons pad deur 'n wêreld propvol onwaarhede te vind, is om na die waarheid te soek. Ons moet ook ons demokratiese instellings versterk deur te verseker dat ons media vry en verantwoordbaar is en 'n etiese kode onderskryf," het Thamm gesê.

Thamm is assistentredakteur van die Daily Maverick, n topverkoperskrywer, komediant en kommentator. Sy het ook verskeie topverkoperboeke geskryf, insluitende Hitler, Verwoerd, Mandela and Me en Alison Botha se storie, I Have Life.

Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het Tamm geloof vir haar ongelooflike werk. Hy het ook gesê dat geleenthede soos die FVZS-lesing uiteindelik sal help om studente te bemagtig om aktiewe burgers van die samelewing te word.

“Sedert ons die FVZS Instituut vir Studenteleierskapontwikkeling in 2011 in die lewe geroep het, het dit die lewens van duisende studente verryk wat baatgevind het by die kortkursusse, reeks gesprekke en ander aktiwiteite wat by die Instituut aangebied is. Nie net Stellenbosse studente nie, maar ook studente van ander plaaslike en internasionale universiteite, het baatgevind. Ons hou Van Zyl as 'n rolmodel aan studente voor omdat hy gehelp het om brûe oor klowe te bou – nie net in ons land nie, maar ook by sy alma mater," het De Villiers gesê.

Wyle dr Frederik van Zyl Slabbert was 'n hooggeagte politikus, sakeleier, kritiese denke en Kansellier van die US. Die jaarlikse FVZS-erelesing poog om kritiese en uitdagende gesprekke oor ons land en die vasteland te stimuleer. Die geleentheid word deur die US se Sentrum vir Studenteleiers en Strukture (SSLS) FVZS Instituut vir Studenteleierskapontwikkeling aangebied en word deur die Konrad Adenauer-stigting geborg.

Mnr Henning Suhr, inwonende verteenwoordiger by die Konrad Adenauer-stigting, het die stigting te opgewondenheid om die afgelope paar jaar by die FVZS-lesing betrokke te wees, uitgespreek.

“Die stigting ondersteun al vir baie jare die jaarlikse lesing van die FVZS Instituut vir Studenteleierskapontwikkeling. Dit is 'n uitstekende platform om so 'n onderwerp wat relevant is tot die eintlike debat in die land, te bespreek," het Suhr gesê.

Hy het ook gese hy is baie bly dat die spreker vanjaar vir die The Daily Maverick werk, aangesien die publikasie se slagspreuk 'Defend Truth' is – iets wat Suhr glo baie belangrik in ons samelewing is.

“Dit is belangrik om na die ingewikkelde waarheid, eerder as die gerieflike of dikwels onware klankgreep te streef. Die Konrad Adenauer-stigting werk wêreldwyd om demokrasie te bevorder en persvryheid te verstewig," het Suhr verder gesê.

Thamm het ook in haar lesing die belangrikheid van 'n vrye pers beklemtoon. Sy glo dit is elke burger se demokratiese reg om persvryheid te help verseker en om die verspreiding van waninligting uit te wis.

“Waninligting is spesifiek ontwerp om openbare skade aan te rig, om die gemeenskap te verdeel, om vertroue in die media te skend en om die demokratiese proses te ondermyn. Soek diegene op wat self die waarheid soek en beskerm die Grondwet wat die grondslag van ons demokrasie in Suid-Afrika is," het Thamm gesê.

Vir meer inligting oor die FVZS Instituut, klik hier

Fotos deur Henk Oets.