Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Roxanne wil hoop bring deur die onderwys
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 20/08/2019

​Matie-alumna Roxanne Botman studeer tans verder in die Verenigde Koninkryk en wil graag eendag 'n leier in die onderwystegnologiebedryf word. Maar tussendeur haar studie volg Roxanne (die dogter van wyle prof Russel Botman, voormalige Rektor van die Universiteit Stellenbosch) in haar pa se voetspore deur te sorg dat verdienstelike jong studente 'n geleentheid kry om hulle drome van 'n beter toekoms deur die hoër onderwys na te jaag. 


1.   Jy is op die oomblik in die Verenigde Koninkryk, waar jy aan jou MBA werk. Wanneer is jy soontoe, en hoe gaan dit met jou studie?

Ja, ek het in September 2018 na Londen verhuis. Met my studie gaan dit besonder goed. Dit was eers nogal vreesaanjaend nadat ek vir so lank nié studeer het nie, maar ek's reeds in my laaste kwartaal en baie tevrede met my ervaring. Die diversiteit van die klas is ongelooflik verrykend, want die meeste van my klasmaats is ook internasionale studente met verskillende agtergronde. 


2.   Waarom 'n MBA?

Ek het 'n paar jaar in die leer- en ontwikkelingsbedryf gewerk en 'n behoefte gehad om my bestuurs- en sakevaardighede te ontwikkel. Veral die onderwystegnologieterrein brei geweldig vinnig uit, en ek wil my met die regte vaardighede toerus om 'n leier in daardie bedryf te wees.

 

3.   Keer jy binnekort terug na Suid-Afrika?

Natuurlik sal ek graag terugtrek Suid-Afrika toe as die geleentheid hom voordoen – ek verlang baie na my ma.

 

4.   Wat is jou drome, planne en hoop vir jou toekoms?

Ek hoop om my loopbaan in die leer- en ontwikkelingsbedryf voort te sit en die toon aan te gee namate ons die gaping tussen onderwystegnologie en toegang tot oplossings begin oorbrug.

My droom op langer termyn is om aan die stuur te staan van 'n organisasie wat die ontwikkeling van kwesbare vroue en dogters wêreldwyd ondersteun.

 

5.   Wie of wat inspireer jou, en waarom?

Ek word geïnspireer deur mense se verhale van veerkragtigheid, onder andere my pa s'n. Ek het onlangs die Russel Botman-huldeblykboek weer 'n keer gelees, en sukkel steeds om te begryp hoe hy soveel in so 'n kort tydjie kon doen, veral as jy sy beskeie grootwordjare in gedagte hou. Ek's verwonderd oor die verhale van mense wat kies om getrou te bly aan waarin hulle glo, en wat elke dag van hulle lewens daaraan wy om 'n nuwe wêreld te help skep, ongeag uitdagings.

 

6.   Vertel ons asseblief meer van die Russel Botman-beursfonds (RBBF).

Die beursfonds is op my pa se 60ste verjaardag gestig – die laaste verjaardag wat hy saam met ons gevier het. Hy het gevra dat mense eerder skenkings aan die fonds maak as om vir hom geskenke te gee. Dis vir my 'n voorreg om in die komitee te dien, en ek sien uit daarna om deel te wees van die fonds se groei. Op 28 Junie 2019 was dit vyf jaar sedert my pa oorlede is, en ons het die geleentheid gebruik om na te dink oor die impak wat hy gedurende sy lewe gehad het. Hy het in transformasie, geregtigheid, hoop en aksie geglo.

Die RBBF het sedert aanvang reeds meer as tien studente met beurse bygestaan. Ons eerste inname het drie studente se studie ondersteun, en vanjaar help ons nege studente.

Ek hoop dat ons die getal RBBF-studente voortdurend kan verhoog, hoewel dít slegs moontlik is met meer skenkings. Ek hoop dat diegene wie se lewens hetsy direk of indirek deur my pa se werk en pogings geraak is gereelde skenkers sal word om sodoende ook vir ánder te help hoop skep deur die onderwys.

 

7.   Jy dien in die RBBF-komitee. Wat behels jou rol?

Ek werk ten nouste saam met my ma, wat as voorsitter van die beursfonds dien, en prof Xolile Simon om besluite oor die beursfonds en -begunstigdes te neem. In die besonder behels my rol om die beursfonds se sosiale media en webtuiste te ontwikkel en te bestuur. Dit is opwindend om van ondersteuners van die Russel Botman-nalatenskap te hoor.

Dit sal my só gelukkig maak as ons volgelinge en ondersteuners almal skenkers word sodat ons die fonds verder kan uitbou, en kan voortgaan om verdienstelike studente aan die Universiteit Stellenbosch met beurse by te staan.

 

8.   Is dit vir jou moeilik om jou MBA-studie saam met jou pligte by die beursfonds te behartig?

Dis nie moeilik óf moeite om iets te doen wat jou soveel bevrediging gee nie. Ek doen graag moeite om my pa se nalatenskap te laat voortleef deur die onderwys van ons toekomstige leiers te ondersteun.

 

9.   Wat is jou boodskap aan jongmense?

Moenie toelaat dat jou omstandighede jou drome inkort nie.

 

10.   En watter boodskap sou jy aan mede-alumni gee?

​Kom ons neem die leiding in hoër onderwys op die vasteland deur die sterkste alumni te word, nie net in ons individuele prestasies nie, maar ook in hoe ons vandag en môre se Universiteit Stellenbosch-studente ondersteun.  

  • Vir meer inligting oor die Russel Botman-beursfonds en om aanlyn te skenk, gaan na www.russelbotman.com.