Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Hoekom ʼn Skool vir Datawetenskap' – Prof Wim de Villiers
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 16/08/2019

“Dit is die taak van universiteite om studente vir ʼn nuwe soort werkplek voor te berei, waar die ontginning van data ʼn integrale deel van omtrent alles is. Die hele wêreld is vinnig aan die verander, en universiteite moet hierby aanpas."

Só skryf Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) en Ondervoorsitter van Universiteite Suid-Afrika, in ʼn meningsartikel wat op 1 Augustus 2019 deur Die Burger (bl. 15) gepubliseer is. Dit was kort ná die bekenstelling van die US se nuwe Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke (klik hier vir webblad). Lees die volledige artikel hieronder (klik hier vir die aanlyn weergawe via Netwerk24, en hier vir die koerantweergawe via PressReader).

Die toekoms is reeds hier

Deur Wim de Villiers*

In ʼn onlangse meningsartikel in Die Burger (23 Julie 2019) voer prof Anton van Niekerk aan universiteite “bestaan nie in lugleegtes of ivoortorings nie – hulle is ál meer verweef met die eise van die alledaagse lewenspraktyk".

Ek stem saam – ook met sy daaropvolgende standpunt dat universiteite al hoe meer aan die voorpunt staan van die kennisekonomie van ons tydvak, en dat die samelewing se verwagtinge van universiteite hoër as ooit is.

Maar ek verskil van hom dat ons aan die “vooraand" van ʼn vierde nywerheidsrevolusie, staan. Ek dink ons is reeds pens en pootjies binne-in dié nuwe tydvak.

ʼn Hoeksteen van dié kennisekonomie is veral “groot data", ʼn term wat verwys na geweldige omvangryke datastelle wat deur ontleders en navorsers hanteer word.

Waar kom al die data vandaan? Vinniger en goedkoper rekenaars en slimfone, wat almal aan die internet verbind is, het die skep van data laat ontplof.

Dit het die insameling, deel en benutting van data in feitlik alle sektore – van finansies tot gesondheid, biowetenskappe tot ingenieurswese en talle ander – skerp laat toeneem.

Voorts raak die werkplek al hoe meer geïntegreerd, met multidissiplinêre spanne wat oplossings vir gemeenskaplike probleme soek. Dit geld veral aktiwiteite wat data en die verwerking daarvan behels – en deesdae is dít omtrent alles, want data word op feitlik alle terreine versamel en ontleed.

Nuwe werkplek

Dit is ons taak as universiteite om ons studente vir hierdie nuwe werkplek voor te berei, waar die ontginning van data 'n integrale deel is van omtrent alles.

Die hele wêreld is vinnig aan die verander, en universiteite moet hierby aanpas.

Universiteite worstel almal met die uitdagings wat nuwe tegnologie inhou. Die liggaam wat ons land se 26 openbare universiteite verteenwoordig, Universiteite Suid-Afrika, het ʼn taakgroep gestig wat fokus op die nuwe wêreld van werk.

By talle universiteite – insluitend die Universiteit Stellenbosch (US) – het nuwe kursusse ontstaan en is nuwe graadprogramme ingestel om aan die behoeftes van die bedryf en sakewêreld te voldoen, en om studente toe te rus om te gedy in ʼn onsekere toekoms waar hulle waarskynlik self moet werk skep in beroepe wat tans nog nie eens bestaan nie.

Die vraag is egter of dit goed genoeg is. Moet universiteite self – as instellings – nie meer wesenlik verander nie?

Universiteite word al vir eeue volgens duidelik-onderskeibare dissiplines georganiseer, maar data is oral. Vir universiteite beteken dit die impak van datawetenskap strek verder as die grense van tradisionele akademiese vakgebiede. Daar is aanduidings dat dít 'n omwenteling in huidige akademiese en professionele paradigmas gaan meebring.

​Datawetenskap is 'n interdissiplinêre vakrigting van wetenskaplike metodes, prosesse, algoritmes en stelsels om kennis en insigte uit verskillende vorme van data te onttrek. Datawetenskap gebruik tegnieke en teorieë afkomstig van verskillende vakrigtings, soos wiskunde, statistiek, inligtingwetenskap en rekenaarwetenskap. Dit lewer belangrike rugsteun aan die vierde nywerheidsrevolusie deur tegnologieë te versmelt en die grense tussen die fisieke, digitale en biologiese sfere te vervaag.

ʼn Vakrigting wat datawetenskap aanvul, is rekenaardenke. Dít is 'n stel metodes wat die uitdrukking van probleme en hul oplossings behels op maniere wat rekenaarprogramme kan uitvoer. Rekenaardenke is nie net op vakgebiede in die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (oftewel “STEM") van toepassing nie, maar ook op die sosiale en geesteswetenskappe.

Universiteite diep geraak

Datawetenskap en rekenaardenke is van groot belang vir die universiteit, want groot data raak nie net die werkplek in die algemeen nie, maar ook die universiteit as die plek waar kenniswerkers by uitstek doenig is. Mens kan dus verwag dat universiteite gaan verander, maar dít is nie aldag ʼn eenvoudige proses nie.

Daar is al gesê dit is makliker om die verloop van die geskiedenis te verander as wat dit is om 'n geskiedeniskursus te verander.

Die universiteitskenner Jeffrey Buller het egter al in 2015 uitgewys dat “hoër onderwys se keuse vandag nie is óf ons moet verander nie, maar eerder hoe … verandering is reeds hier. Die kwessie is wat ons daaromtrent gaan doen."

Aan die US het ons verlede jaar op hierdie uitdaging gereageer met die aanvaarding van nuwe “reëls vir akademiese entiteite binne en langs departemente en fakulteite". Dit het die weg gebaan vir die vestiging van ons nuwe Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, wat op 29 Julie 2019 by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) bekendgestel is.

Interdissiplinêre baanbreker

Ons meen hierdie verwikkeling is ʼn baanbreker in die hoër onderwys in Suid-Afrika. Die rede is die interdissiplinêre aard van die nuwe struktuur. Dit sal oor al tien van die US se fakulteite heen werksaam wees, en sal die hele akademiese projek dek – van voor- en nagraadse opleiding tot navorsing en spesialiskonsultasiewerk. Dit sal ook die private en openbare sektore ondersteun as 'n betroubare en gewaardeerde vennoot in en vir Afrika deur nie net vir voltydse studente voorsiening te maak nie, maar ook deur aanlyn modules aan te bied vir beroepslui wat op soek is na nuwe metodes en beste praktyke vir gebruik in die werkplek.

Hoewel hierdie interdissiplinêre benadering nog nie universeel is nie, word dit reeds by ʼn aantal toonaangewende universiteite internasionaal bespeur. Die Universiteit van Kalifornië, Berkley – wat meer graduandi aan Silicon Valley lewer as enige ander hoëronderwysinstelling – bied byvoorbeeld datawetenskap as keusevak in talle studierigtings.

Wat opvallend is, is dat tot die helfte van hul eerstejaars nou datawetenskap as hoofvak neem, in ongewone kombinasie met ʼn wye verskeidenheid ander vakke.

Met vertroue vorentoe

Moet almal dan nou rekenaarwetenskap studeer ten koste van ander studierigtings? Glad nie. Eerstens is datawetenskap nié rekenaarwetenskap nie, maar ʼn interdissiplinêre vakrigting.

En tweedens duik data toenemend in allerlei rigtings op, en daarom maak dit sin vir studente om hulle met die nodige vaardighede om data te hanteer toe te rus.

Boonop is datahanteringsvaardighede nie beperk tot wiskunde of rekenaarprogrammering nie. Daar is byvoorbeeld belangrike etiese vraagstukke betrokke by data-ontginning – soos die reg op privaatheid en die inbraak wat tegnologie daarop kan maak.

Die Wêreld Ekonomiese Forum en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling het ʼn lys noodsaaklike vaardighede vir die werkplek van die 21ste eeu opgestel. Dít sluit nie net digitale geletterdheid, probleemoplossing en entrepreneurskap in nie, maar ook kreatiwiteit en kritiese denke, empatie en etiese redenering, asook samewerking en verhoudingsbou.

Studente in al tien van die US se fakulteite word reeds hiermee toegerus, maar nou bied ons nuwe Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke ʼn enkele platform waar alles byeenkom sodat ons met vertroue saam vorentoe kan gaan – die toekoms in, wat reeds aangebreek het.

* Prof Wim de Villiers is die rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch en die ondervoorsitter van Universiteite Suid-Afrika.