Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-biblioteek stel SUNScholarData bekend
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 15/08/2019

Die Universiteit Stellenbosch se Biblioteek- en Inligtingsdiens het nog 'n mylpaal as Suid-Afrika se leier op die gebied van oop toegang tot kennis bereik met die bekendstelling van sy SUNScholarData-bewaringstelsel.

In die afgelope dekade het die bestuur van navorsingsinligting 'n al hoe belangriker rol by hoëronderwysinstellings regoor die wêreld begin speel. Dit kan veral toegeskryf word daaraan dat akademiese navorsing al hoe meer datasentries van aard geword het.

As een van die voorste navorsingsinstellings, help die Universiteit Stellenbosch (US) om hierdie kwessie aan te spreek deur die nodige stappe te doen om doelmatige databestuurpraktyke te aanvaar. Een só 'n stap is die ontwikkeling en vestiging van 'n institusionele databewaringstelsel by die Universiteit wat as SUNScholarData bekend staan.

Die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens het dit Maandag, 12 Augustus 2019 amptelik by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) bekendgestel. 

Die Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens by die US, me Ellen Tise, was opgewonde om haar vreugde oor die uiteindelike bekendstelling van SUNScholarData met almal teenwoordig te deel. Volgens Tise het dit meer as sewe jaar geneem om SUNScholarData te vestig en bekend te stel. Dit is die langste projek wat die biblioteek die afgelope paar jaar onderneem het.  

IMG_8790.jpg

“Ons het 'n lang pad gestap. Die dag het uiteindelik vir die Universiteit Stellenbosch aangebreek om sy naam by die groeiende lys instellings regoor die wêreld te voeg wat navorsingsdatabewaringstelsels gevestig het. Ek is ongelooflik opgewonde en baie bly dat ons sover gekom het," het Tise gesê.

Die inwerkingstelling van SUNScholarData is deel van die Biblioteek- en Inligtingsdiens se rol rakende navorsingsdataondersteuning wat as 'n strategiese doelwit vir die diens gestel is om navorsing te ondersteun deur diverse, innoverende en kliëntgesentreerde dienste van wêreldgehalte te lewer.

Van die dienste wat SUNScholarData as institusionele navorsingsdatabewaringstelsel sal lewer, is om die Universiteit se navorsingsdata in digitale formate vas te lê, te stoor, te indekseer, te bewaar en te herversprei. Steun op 'n instelling se navorsingsdatabewaringstelsel het 'n tweeledige doel. Eerstens sal dit 'n platform skep om die US se navorsingsinligting maklik vindbaar en toeganglik te maak. Tweedens sal dit die inter-operering en herbruikbaarheid van die Universiteit se navorsingsdata fasiliteer.

Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, het in sy verwelkoming by die geleentheid gesê die bekendstelling van SUNScholarData is 'n direkte uitvloeisel van die Berlynse Verklaring oor Oop Toegang tot Inligting ten opsigte van die Natuur- en Geesteswetenskappe wat die US in 2010 onderteken het.

IMG_8793.jpg

“Die Biblioteek- en Inligtingsdiens het waarlik die voortou in Suid-Afrika geneem ten opsigte van oop toegang en dit het al so lank terug as 2010 begin toe ons die eerste universiteit geword het om die Berlynse Verklaring oor Oop Toegang tot Inligting ten opsigte van die Natuur- en Geesteswetenskappe te onderteken. Sedertdien het die biblioteek van krag tot krag gegaan met sy eie inisiatiewe soos SUNScholar, 'n oop institusionele bewaringstelsel wat in 2008 gevestig is, SUNJournals, 'n oop vaktydskrifplatform wat in 2011 gevestig is, en toe die SUNDigital Collections, 'n digitale erfenisbewaringstelsel wat in 2013 gevestig is. Nou sit ons ons oop wetenskap-reis voort met die bekendstelling van SUNScholarData," het Cloete gesê.

Die belangrikste funksionaliteite van SUNScholarData sal help met navorsingsinligtingbestuur, die ontleding van navorsingsinligting, administratiewe werkvloeibestuur, impak en gebruikersverslaggewing.

IMG_8798.jpg

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, glo SUNScholarData gaan een van die voorste digitale argiewe vir die bewaring en bevordering van die navorsingsuitsette van die Universiteit Stellenbosch wees.

“Ons Visie 2040 is om 'Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder' – en SUNScholarData gaan ons help om daar te kom," het De Villiers by die bekendstelling opgemerk.

Vir meer inligting oor SUNScholarData en die ander bewaringsplatforms van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens, kliek hier


Fotos deur Hennie Rudman.