Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee Globale Gesondheid-navorsers op M&G se '200 jong Suid-Afrikaners'-lys
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 07/08/2019

Twee FGGW navorsers – albei verbonde aan die Fakulteit se Departement Globale Gesondheid – het die departement trots gemaak toe hulle onlangs gemeld is onder die Mail & Guardian se “200 Jong Suid-Afrikaners".

Hulle is dr Xanthe Hunt (27), 'n navorser by die Instituut vir Lewensgang Gesondheidsnavorsing en dr Lieketseng Ned (30), 'n dosent by die Sentrum vir Rehabilitasiestudies.

Hunt, wat ook geaffilieer is aan die Universiteit van Kalifornië en wat studeer aan die Universiteit van Harvard, doen navorsing op twee gebiede: sy fokus op die verbetering van moeder- en kindergesondheid, veral onder jong kinders wat deur MIV geaffekteer word, asook hulle versorgers in Kenia, Mosambiek, Malawi, Zambië en Tanzanië. Sy is in die besonder geïnteresseerd in wat openbare gesondheidsprogramme vir moeders en kinders laat werk – en hoe hulle meer effektief kan funksioneer. Sy doen ook navorsing oor seksuele en reproduktiewe gesondheid onder mense met gestremdhede, en oor hoe die hoofstroom-gesondheidsdienste meer toeganklik gemaak kan word vir mense met gestremdhede.

Sy werk tans aan 'n boek oor gestremde persone se ondervindings wanneer hulle gebruik maak van seksuele en reproduktiewe gesondheidsdienste.

Ned kom van die Oos-Kaap en is in beheer van die nagraadse diploma in die Sentrum vir Rehabilitasie studies. Haar navorsing is daarop gemik om "by te dra tot die ontwikkeling van 'n geplaasde gestremdheids- en rehabilitasie-beurs wat spesifiek fokus op die Afrika-ondervinding. “Meer spesifiek is ek passievol oor die volgende nis-areas: kritiese gestremdheid- en rehabilitasiestudies, gemeenskapsontwikkeling in die praktyk, inheemse kennis en metodologieë, transformasie in hoër opleiding en dekolonialisme," het sy gesê. Haar werk word in verskeie geakkrediteerde joernale en boeke gepubliseer.

Hunt, wat afkomstig is uit KZN en reeds meer as 30 akademiese artikels gepubliseer het, is beskryf as "'n akademiese fenomeen", en was die ontvanger van verlede jaar se hoog aangeskrewe Kanseliersmedalje by die Universiteit Stellenbosch. Sy is ook die eerste student uit die Sielkunde Departement wie se meestersgraad na 'n PhD opgegradeer is, en deurgegaan het sonder dat enige veranderinge nodig was.

Tog, in 'n onderhoud oor haar prestasie, het Hunt gesê dat sy "baie gevlei" gevoel het. "As mens hierdie benoeming ontvang, dink ek mens begin voel dat mens harder moet werk om die plek te verdien."

Toe sy gevra is wat haar voortdryf in haar werk, het Hunt die volgende te sê gehad: “Komende van 'n bevoorregte middelklas agtergrond in KZN, het ek begin om vrywillige werk in die openbare gesondheidstelsel te doen die oomblik toe ek op universiteit gekom het. Dit het aan my bevestig dat dit 'n blote toevalligheid was dat ek in my lewe toegang tot goeie dienste gehad het, terwyl soveel ander dit nie gehad het nie. Daardie toeval is die resultaat van ongelykhede met historiese wortels. Ek dink gesondheidsdienste en -stelsels kan 'n baie groot verskil maak aan die gehalte van iemand se lewe. Ek wil graag uitwerk hoe daardie dienste op 'n meer gelyke vlak beskikbaar gemaak kan word, want dit is onregverdig dat dit nie so is nie."

Ned, wat 'n raadslid is van die Suid-Afrikaanse Christelike Leierskapsvereniging en die Wes-Kaapse Rehabilitasiesentrum, het gesê dat haar doktoraat, met die titel 'Herkonneksie met inheemse kennis in opvoeding: 'n ondersoek na gesondheid en welsyn in Xhora, Suid-Afrika' haar regtig gehelp het om 'n baie meer deurgrondige begrip te verkry oor gestremdheid- en rehabilitasiestudies. Sy is nou daarop ingestel om fondse te bekom om haar betrokkenheid by AmaBomvane voort te sit vir die verdere disseminasie van hierdie navorsing deur die gebruik van deelnemende visuele metodologieë. Sy is ook betrokke by 'n navorsingsmedewerking met die Universiteit van Helsinki om te fokus op gestremdheidsnavorsing in die Globale Suide (lande in Asië, Afrika, Suid-Amerika en die Karibiese streke met 'n lae- tot middel-inkomste).

Ned sê sy voel "dankbaar en nederig" om in die Mail & Guardian se lys ingesluit te wees. “Dit is 'n erkenning van werk wat dikwels op die kantlyn geskied. Die mees belangrike is dat ek vervul is met vreugde en dankbaarheid teenoor AmaBomvane in die Oos-Kaap, aangesien dit as gevolg van hulle verskeidenheid van kennis is dat ek vandag hierdie erkende geleerde is." Sy het ook dank uitgespreek aan vriende, kollegas en aan die beoordelaars.

“Die erkenning is 'n tipe van bevestiging vir 'n opkomende navorser en 'n toekomstige leier. Dit is 'n groot voorreg om onder die top denkers en beïnvloeders gereken te word. Ek hoop dat ander hierdeur besef dat dit moontlik is om die huidige te rekonstrueer en om 'n beter toekoms te herskep," het Ned gesê.

Waarnemende Hoof van die Departement van Globale Gesondheid, professor Taryn Young het die volgende te sê gehad: “Ons is trots op dokters Hunt en Ned dat hulle onder die Mail & Guardian se '200 Jong Suid-Afrikaners' is. Ons eer hulle toewyding en passie vir hulle werk, en heg baie waarde aan die bydraes wat hulle tot ons gemeenskap maak."

 

Onderskrif: Drs Lieketseng Ned en Xanthe Hunt.

Foto-erkenning: Wilma Stassen​