Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie Gemeenskapsdiens bou doelgerigte vennootskappe
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 26/07/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Matie Gemeenskapsdiens – wat in die Afdeling vir Sosiale Impak gesetel is – het vanjaar baie goeie vordering gemaak om doelgerigte vennootskappe te bou as deel van sy aktiwiteite vir Mandelaweek 2019.

Lede van die gemeenskap en ander belanghebbers het hande gevat met US-personeel en -studente om te help om die nypende uitdagings van voedselsekerheid in die gemeenskap aan te spreek.

Op Dinsdag, 23 Julie, het vrywilligers sowat 50 000 kospakkies gepak wat onder niewinsgewende organisasies in die Stellenbosse gemeenskap versprei is. Dit was 'n samewerkende poging tussen die US se Afdeling vir Sosiale Impak, die internasionale organisasie Rise Against Hunger en die Suid-Afrikaanse Brouerye, wat die geleentheid geborg het.

Rise Against Hunger is 'n internasionale noodlenigingsorganisasie wat voedsel en lewensnoodsaaklike hulp aan die wêreld se kwesbaarste mense verskaf deur die nodige hulpmiddele te mobiliseer met die doel om honger teen 2030 uit te roei.

Op Woensdag, 24 Julie het lede van die Volkskerk Stellenbosch, Safe House Stellenbosch en die rampbestuureenheid van die Stellenbosse munisipaliteit gehelp om 400 liter smaaklike groentesop te kook. Die sop is in gemeenskappe wat deur die onlangse swaar reën nadelig geraak is, uitgedeel.

“Hierdie Mandelaweek-aktiwiteite was 'n praktiese demonstrasie van een van die Universiteit se kern strategiese temas, om doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke te bou, terwyl ons ook bewustheid oor die kritieke voedseltekort in die omliggende gemeenskap geskep het," het Renee Hector-Kannemeyer, adjunkdirekteur: Sosiale Impak, gesê.