Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groentetuin bied 'groen terapie' vir Tygerbergkampus
Outeur: Sibongumenzi Mtshali
Gepubliseer: 17/07/2019

Sibongumenzi Mtshali is n vierdejaar mediese student by die FGGW en is die studente-koördineerder van die Dekaan se Advieskomitee vir Omgewingsvolhoubaarheid.

In 'n uiters kompeterende akademiese omgewing, waar lang ure in die klasse deurgebring word met die kursusmateriaal, en dan ook in die hospitaal waar die teoretiese kennis wat oor die jare opgedoen is, toegepas word, is dit nie enigsins verbasend dat geneeskunde- en gesondheidswetenskappestudente mettertyd minder bewus raak van die dinge wat rondom hulle gebeur nie.

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het die Groentetuinklub tot stand gebring, wat aan student bietjie "groen" tyd in die son bied, asook terapie deur middel van tuinmaak.

Die Groentetuinklub is gestig in 2018 deur die Dekaan se Advieskomitee vir Omgewingsvolhoubaarheid in 'n poging om selfs meer groen areas te bewerkstellig by die universiteit se Tygerbergkampus, waar die FGGW gebaseer is. Gedurende die afgelope jaar het die Groentetuinklub ontwikkel tot iets meer as bloot 'n groen spasie op kampus. Dit is 'n spasie wat studente kan gebruik om hulle te help om stres te hanteer, om verhoudings te vorm en te versterk, en dit kan ook 'n rol speel in die vervulling van studente se basiese behoeftes, alles terwyl hulle omring is deur 'n natuurlike omgewing.

Om aan 'n universiteit te studeer is 'n baie stresvolle tyd in mens se lewe, want daar is so baie struikelblokke om te oorkom, en dit raak selfs nog moeiliker wanneer mens nie beskik oor gepaste streshanteringsmeganismes nie.

Dit is veral belangrik aangesien die statistieke daarop dui dat geestesgesondheidsprobleme skokkend hoog is onder universiteitstudente: volgens die statistieke van die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG), word 1 uit elke 4 universiteitstudente met depressie gediagnoseer, en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in 2017 berig dat selfdood die tweede hoogste oorsaak van sterftes is onder universiteitstudente.

Die Groentetuinklub bied 'n uitlaatklep vir stres. Die deurbring van tyd in die tuin – of mens nou jou stukkie van die groentetuin beplant of natlei, is 'n uitstekende manier om te onstpan aan die einde van 'n moeilike dag, of om die week op 'n positiewe noot te begin. Dit is in ooreenstemming met die huidige manier van dink oor die skep van spasies wat geestesgesondheid bevorder deur middel van 'groen terapie', en tuinmaak is deel hiervan.

Dit is ook 'n spasie waar mense kan 'netwerk' en dit beteken nie net een meer bekende gesig om op kampus te groet nie, maar dat mens ook met mense kan skakel buite die tuin en goeie werks- en sosiale verhoudings kan skep. Ek het byvoorbeeld verlede jaar aangesluit by die Groentetuinklub saam met een van my beste vriende, en dit het ons vriendskapsverhouding baie versterk. Dit help ook baie om iemand te erken wat jy in die tuin ontmoet het wanneer mens jou in die somtyds intimiderende gange van die hospitaal bevind.

Die heel belangrikste aspek van die Groentetuinklub is ons vennootskap met die Tygerberg Spens-projek om voedselsekuriteit vir die studente op kampus te verseker. Vir my maak dit min sin om ons lewens daaraan te wy om pasiënte te red as ons nie 'n verskil kan maak aan die lewe vir ons kollegas op kampus nie. En om hierdie rede maak die bogenoemde vennootskap my die mees opgewonde.

'n Gedeelte van die groente wat ons oes sal aan die Tygerberg Spens-projek geskenk word en vandaar af sal dit na die spense van die verskeie koshuise versprei word sodat studente wat in kosnood verkeer, toegang sal hê tot die groente in hulle eie koshuise.

Watookal nie geskenk word aan ander studente nie, word gehou deur die Groentetuinklub en die lede sal dit aanwend volgens oordeel. Dit is ook behulpsaam, aangesien daardie lede wat in nood mag verkeer ook direkte toegang tot die produkte het, of as hulle weet van iemand wat dit benodig, kan hulle dit met daardie persoon deel.

Die Groentetuinklub lê my baie na aan die hart, omdat dit presies die soort inisiatief is wat ons op kampus nodig het. Dit spreek 'n reeks kwessies aan waarmee studente soms sukkel, en dit help ook om vaardighede aan te leer wat ons in die toekoms in die werksplek sal benodig.

Die Tygerbergkampus se groentetuin is geleë aan die agterkant van die sportvelde aan die kant van die Tygerberg-hospitaal. Die Groentetuinklub is ook 'n virtuele groep met 'n Whatsapp-groep waar inligting gedeel word. Tye vir bymekaarkoms om sekere take te verrig, soos die voorbereiding van beddings en aanplanting word op die groep bespreek na gelang van wanneer dit nodig sou wees. 

Tans is alle beskikbare plekke gevul. Mense wat belangstel daarin om by die groep aan te sluit vir die volgende aanplantingseisoen in September, kan Christine Groenewald kontak by clgroenewald@sun.ac.za.

Bronne:

http://www.sadag.org/index.php?option=com_content&view=article&id=2991:world-mental-health-day-sa-youth-in-crisis-10-october-2018&catid=149&Itemid=226

http://www.sadag.org/index.php?option=com_content&view=article&id=744:are-more-suicide-in-universities-to-be-expected-this-year&catid=92&Itemid=154

https://www.who.int/mediacentre/infographic/mental-health/en/

https://www.who.int/news-room/commentaries/detail/800-000-people-kill-themselves-every-year.-what-can-we-do

https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/suicide

 

Onderskrif: Sibongumenzi Mtshali in die groentetuin op die Tygerberg-kampus.

Foto-erkenning: Wilma Stassen