Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Byprodukte van sitrus en druiwe help dalk om voedsel te bewaar
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 03/07/2019

Groot hoeveelhede byprodukte van sitrus en druiwe wat gewoonlik as afval beskou word en meestal op stortingsterreine beland, het dalk die potensiaal om in die produksie van natuurlike voedselpreserveermiddels gebruik te word.

Dit is een van die vernaamste bevindinge van 'n interdissiplinêre navorsingstudie wat by die Universiteit Stellenbosch (US) onderneem is.

“Ons navorsing toon dat die gebruik van bioaktiewe-ryk byprodukte van sitrus en wyn 'n doeltreffende, goedkoop, maklik beskikbare en omgewingsvriendelike platform vir die produksie van natuurlike en volhoubare voedselpreserveermiddels kan bied," sê dr Cletos Mapiye van die US se Departement Veekundige Wetenskappe. Hy het die navorsing saam met kollegas van die Departement Voedselwetenskappe en die Departement Hortologie se Na-oes Tegnologie Navorsingslaboratorium by die US onderneem. Die studie het onlangs in die oop-toegang vaktydskrif, Sustainability, verskyn.

Mapiye sê dit is belangrik om die fitochemiese (biologies-aktiewe verbindings) samestelling, antioksidante en antimikrobiese doelmatigheid, veiligheid en stabiliteit van hierdie byprodukte gedurende die voedselverwerkingsproses te verstaan vir die suksesvolle aanvaarding van natuurlike preserveermiddels wat gegrond is op byprodukte van vrugte.

“Bioaktiewe fitochemikalieë speel 'n belangrike rol in die preservering van voedsel deur die geur, kleur, tekstuur en voedingstowwe te behou, terwyl dit terselfdertyd die moontlikheid om 'n siekte deur middel van voedsel op te doen, verminder. Dit kan potensieel ook bydra tot die voorkoming van kroniese siektes danksy die antioksidant-eienskappe."

Mapiye en sy medenavorsers het die fitochemiese samestelling sowel as die antioksidant- en antimikrobiese eienskappe van druiwe-afval, druiwepitte en clementine-mandaryn-lemoenskil en -pulp wat in Suid-Afrika verbou is, ontleed. Nadat hulle monsters van die vrugtebyprodukte versamel het, het hulle dit gewas, in die oond drooggemaak en toe tot fyn poeier gemaal voordat hulle die fitochemikalieë vir ontleding onttrek het.

Die navorsers het bevind dat druiwe-ekstrak die grootste hoeveelhede saamgeperste tannine bevat, terwyl mandarynskilekstrakte die grootste inhoud van askorbiensuur (vitamien C) gehad het.

“Oor die algemeen het druifpitekstrakte die meeste antioksidantiese aktiwiteite van al die ekstrakte wat getoets is, getoon. Antimikrobiese aktiwiteite het die meeste in ekstrakte van mandarynlemoenskil en -pulp voorgekom, gevolg deur die ekstrakte van druiwepitte en druiwepulp.

“Ekstrakte verkry uit druiwepitte en mandarynlemoenskil en -pulp kan individueel of gekombineerd as uitstekende antioksidante en antimikrobiese bronne vir die moontlike aanwending in voedsel oorweeg word."

Mapiye sê druiwe-afval, druiwepitte en clementine-mandarynlemoenskil en -pulp kan 'n lewensvatbare alternatief bied vir sintetiese preserveermiddels wat algemeen gebruik word om die prosesse wat voedselbederwing veroorsaak, te vertraag en die gehalte, veiligheid en rakleeftyd van voedsel te verbeter.

“Danksy hul antimikrobiese eienskappe kan clementine-mandarynlemoenskil en -pulp 'n geskikte alternatief vir sulfate bied en sodoende die allergierisiko's wat die gebruik van sintetiese preserveermiddels inhou, verminder."

Mapiye voeg ook by dat verbruikers se kommer oor gesondheid daartoe gelei het dat mense bang is vir voedsel wat sintetiese preserveermiddels bevat en dit eerder vermy.

Hy sê die valorisasie van vrugtebyprodukte as natuurlike preserveermiddels vir voedsel het die potensiaal om nuwe waardekettings vir die vrugteproduksiebedryf te ontsluit en 'n groot bydrae tot volhoubare voedselstelsels te maak as 'n mens kyk na die groot hoeveelheid voedsel wat elke jaar vermors word.

“Voedselbederwing lewer 'n groot bydrae tot die verlies of vermorsing van sowat 1,6 miljard ton voedsel per jaar. In Suid-Afrika beloop na-oes voedselverliese en vermorsing tot 10 miljoen ton per jaar, met 95% van die verliese wat in die waardeketting voordat die voedsel die verbruiker bereik, voorkom."

Mapiye wys daarop dat ten minste 40% van die 1 miljoen ton mandarynlemoene wat jaarliks in die land verbou word, vir die produksie van lemoensap gebruik word. Dit beteken dat tussen 50% en 70% van die vars gewig, bestaande uit skille, pulp en pitte, verlore gaan.

“Daarby word 1,5 miljoen ton druiwe vir die maak van wyn geproduseer, met druiwe-afval wat 20% tot 25% van die gepersde druiwe op 'n droë-inhoudgrondslag uitmaak. Druiwe-afval bestaan uit steeltjies, pitte, vel en pulp."

Mapiye sê gegewe die gebrek aan sistematiese navorsing oor die preserveringsvermoë van ekstrakte uit plaaslike druiwe- en sitrusbyprodukte in Suid-Afrika, is dit belangrik om die bio-aktiwiteit en ware voordele van hierdie ekstrakte vir funksionele toepassing op voedsel vas te stel.

“Verdere navorsing om die veiligheid en doeltreffendheid van sulke produkte in voedsel geldig te verklaar, is nodig," voeg hy by.  

  • ​BRON: Pfukwa, TM et al 2019. Food Preservative Capabilities of Grape (Vitis vinifera) and Clementine Mandarin (Citrus reticulata) By-products Extracts in South Africa. Sustainability Vol 11 (6).

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Cletos Mapiye

Departement Veekundige Wetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 2640

E-pos: cmapiye@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za