Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vennootskappe en aktiewe deelname sal help om VODs te realiseer
Outeur: Corporate Communication - Sonika Lamprecht
Gepubliseer: 20/06/2019

​Samewerkende en wedersyds voordelige vennootskappe tussen die publiek en die private sektor, akademiese instellings en die burgerlike samelewing is die enigste manier om oplossings te vind vir die uitdagings wat Afrika in die gesig staar.

Dit was die sleutelboodskap van beide prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universitet Stellenbosch, en me Nardos Bekele-Thomas, inwonende verteenwoordiger van die Verenigde Nasies (VN) se Ontwikkelingsprogram in Suid-Afrika, by die opening van 32ste jaarlikse vergadering van die Akademiese Raad oor die Verenigde Nasies-stelsel, of te wel ACUNS.

 ACUNS is 'n wêreldwye vereniging van instellings en individue wat aktief by die werk en bestudering van multilaterale verhoudinge, internasionale organisasies en wêreldwye samewerking betrokke is. Die individue en institusionele lede sluit vakkundiges, internasionale en plaaslike regeringsamptenare, verteenwoordigers uit die burgerlike samelewing en ander belangstellende individue en belanghebbers in. ​

Prof De Villiers het die groep van 175 afgevaardigdes uit 60 lande by ACUNS se jaarvergagdering – die eerste van sy soort om in Afrika gehou te word – verwelkom. Die vergadering, wat deur die US aangebied word, duur van 19 tot 21 Junie en die tema is The United Nations and Africa: Progress towards Achieving the Sustainable Development Goals (SDGs).

Prof De Villiers het by die opening gesê dat hoewel Afrika tot dusver in hierdie millennium bemoedigende ekonomiese groei getoon het, bly dit 'n aansienlike uitdaging om hierdie groei in breëvlak menslike ontwikkeling te omskep. “Die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD's) van die VN is daarop gemik om die meeste van hierdie uitdagings, indien nie almal nie, aan te spreek deur spesifieke teikens te stel."

En hoër onderrig speel 'n sleutelrol in die nastrewing van die VOD's deur tot die samelewing by te dra deur navorsing wat ontwikkelingsbehoeftes aanspreek. “Die Universiteit Stellenbosch streef daarna om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder.

“Ons Visie 2040 – wat verlede jaar aanvaar is – is ontwikkel met nie net Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan in gedagte nie, maar ook die Afrika-unie se Agenda 2063 en die Verenigde Nasies se VOD's," het prof De Villiers bygevoeg.

In aansluiting by die VOD doelwit 17, wat die belangrikheid van sterk wêreldwye vennootskappe en samewerking beklemtoon, het De Villiers die US se verbintenis daartoe om 'n genetwerkde universiteit te wees, bevestig. “Die Universiteit Stellenbosch het reeds 120 samewerkende vennootskappe in 30 lande in Afrika gesluit en het ook spesifieke bilaterale ooreenkomste met 26 mede-hoëronderwysinstellings in Afrika. Dit is deel van ons goedgevestigde, verreikende, veellaag netwerk van internasionale vennote."

Bekele-Thomas het in haar toespraak gesê die VOD17 se sterk fokus op vennootskappe is nie maar net nog 'n item op 'n lys nie, maar dit “is die hart van die skepping van transformatiewe verandering en die realisering van die toekoms wat ons wil hê". Sy het voorts gesê vennootskappe met universiteite is belangrik om sodoende vakkundiges van Afrika by die denkrigting te betrek sodat hulle die voortou kan neem in denke oor die meervoudigheid van menslike ontwikkeling.

Die voorsitter van ACUNS, prof Roger Goate, het dieselfde siening gehuldig en het sy dankbaarheid teenoor die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting (NNS) uitgespreek vir 'n skenking wat die US se Sekerheidsinstituut vir Staatsbestuur en Leierskap in Afrika (SIGLA) in staat gestel het om 40 afgevaardigdes van regoor Afrika na die vergadering te bring, om sodoende te verseker dat die sienings van Afrika se vakkundiges en praktisyns gehoor word.

Bekele-Thomas het voorts die belangrikheid uitgelig van vennootskappe met gemeenskappe deur 'n mensgesentreerde benadering te volg, deur mense toegang tot gehalte-dienste te bied en deur burgers wat verantwoordelikheid vir hul eie ontwikkeling neem. “Om die VOD's te bereik is nie net die regering se plig nie, dit is almal se plig. Iedereen moet eienaarskap daarvoor aanvaar."

Die vergadering duur vandag (20 Junie 2019) voort met die hoofrede wat deur prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid aan die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, gelewer sal word.   

  • Kry die volledige program hier.
Foto: Anton Jordaan