Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-personeel en -studente dra snaakse sokkies om te wys hulle gee om
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 18/06/2019

​Meer as 2000 personeellede en studente van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het helder, snaakse en nie-bypassende sokkies aangetrek op #CrazySocks4Docs-dag (Vrydag 7 Junie 2019) om bewustheid aan te wakker en morele ondersteuning te bied aan mediese- en gesondheidsberoepslui wat sukkel met geestesgesondheidskwessies.

Die veldtog, wat na Suid-Afrika gebring is deur die Ithemba-stigting, 'n plaaslike nie-winsgewende organisasie, het gesondheidsberoepslui en -studente wat opleiding ontvang gehelp om saam 'n groot stap te neem om die stigma wat kleef aan geestessiektes te verminder. Die #CrazySocks4Docs-veldtog, wat die verspreiding van meer as 12000 paar helderkleurige en byderwetse sokkies aan mediese- en gesondheidswetenskappe studente dwarsoor Suid-Afrika behels het, is baie goed ontvang en ondersteun deur beide die FGGW personeel en studente.

Die FGGW, wat bestaan uit verskillende voorgraadse programme in geneeskunde, dieetkunde, fisioterapie, spraak-, taal- en gehoorterapie, arbeidsterapie en verpleegkunde, het heelhuids die inisiatief ondersteun wat gemik is daarop om bewustheid van geestesgesondheids-probleme onder gesondheidswerkers te verhoog. Honderde studente in mediese oorpakke is gesien met hulle snaakse sokkies op die toegewese dag, en personeellede van die Fakulteit het meer as R5000 aan die Ithemba-stigting geskenk. Die Stigting verhoog bewustheid van depressie as 'n biologiese siekte en verskaf befondsing vir navorsing oor depressie.

Professor Lizette Rabe, stigter van die Ithemba-Stigting het die volgende te sê gehad: “Wat 'n wonderlike geleentheid om letterlik te ervaar hoe ons almal die eerste tree geneem het om te wys ons gee om … deur te beweeg van die 'ek' na die 'ons'." Rabe het die aandag gevestig op statistieke, wat toon dat gesondheidsberoepslui die hoogste voorkoms van depressie en selfdood ter wêreld ervaar. “Die Ithemba-stigting wou gehad dat #CrazySocks4Docs-dag regtig 'n prettige veldtog moes wees wat die aandag sou vestig op die ernstige kwessie van die versorging van ons versorgers. Deur ons prettige sokkies aan te trek, verbreek ons die stilte wat dikwels gehandhaaf word in verband met geestesgesondheid, ook, en veral ook, in die mediese veld," het Rabe gesê.

Professor Jimmy Volmink, die FGGW-dekaan het gesê dat die fakulteit se doel met die veldtog was om gesondheid te bevorder, siekte te behandel, en lyding te verlig in Suid-Afrika en elders. “Ons kan dit slegs op 'n suksesvolle manier doen as ons erken dat medici en gesondheidspersoneel ook net mense is, en dikwels geweldige stres ervaar in die uitvoer van hulle pligte. Ons kan help deur gesprekke te voer met kollegas in ons onderskeie velde oor uitdagings wat verband hou met geestesgesondheid."

The #CrazySocks4Docs-veldtog is gestig deur die Australiese kardioloog dr Geoff Toogood in 2017, en is gebring na die gesondheidswetenskappe-fakulteite by Suid-Afrikaanse universiteite dwarsoor die land deur die Ithemba-stigting, die farmaseutiese groep, Cipla, en die sokkievervaardiger, Falke.

As jy, of enigiemand wat jy ken, ly aan 'n geestessiekte van enige aard, of as jy selfdoodgedagtes koester en hulp benodig, kan jy die CIPLA 24-uur hulplyn vir geestesgesondheidsprobleme skakel by 0800 456 789, of jy kan 'n WhatsApp-boodskap stuur aan 076 882 2775 vir gratis bystand deur 'n berader by SADAG.