Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bied eerste streekseminaar oor Verlengde Graadprogram (VGP) aan
Outeur: Claudia Swart-Jansen van Vuuren
Gepubliseer: 10/06/2019

Die eerste in 'n reeks van vier VGP-streekseminare wat op die vier universiteite in die Wes-Kaap afgestem is, het op 30 Mei by die Universiteit Stellenbosch (US) plaasgevind. Die doel van die seminare is om kollegas wat by die onderskeie instellings met VGP's gemoeid is byeen te bring om gedagtes en beste praktyk op hierdie gebied uit te ruil.

Vir die eerste seminaar het sowat 40 deelnemers van die US, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) en die Universiteit van Kaapstad (UK) oor die rol van mentors en mentees in VGP's beraadslaag. 

Shona Lombard, VGP-dosent in die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, het die gesprek aangevoor met haar aanbieding oor die portuurmentorskapsprogram vir VGP-eerstejaars in Lettere en Sosiale Wetenskappe. Lombard het uitgewei oor hoe die Fakulteit se portuurmentorskapsprogram die afgelope paar jaar ontwikkel het, sowel as oor lesse wat gedurende dié tyd geleer is. Daarna het een van die Fakulteit se VGP-studente, Austin Pepar, die gehoor sy inspirerende verhaal vertel. Dít is gevolg deur vrae en bespreking op grond van Lombard se aanbieding.

​Volgende op die program was Ilze Gelderblom, koördineerder van studentesake in die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW), wat lig gewerp het op hoe haar fakulteit se mentorskapsprogram alle eerstejaarstudente ondersteun. Dr Sharon Malan, EBW se VGP-programleier, het 'n oorsig gebied van VGP-studente se terugvoer oor die program. Sy het ook gesels oor hoe die Fakulteit se “waardebelaaide" program VGP-studente bystaan. 

Nóg 'n US-verteenwoordiger, Magriet de Villiers, akademiese ontwikkelingskoördineerder in die Fakulteit Teologie, het Teologie se konteks verduidelik deur die Fakulteit se historiese agtergrond en “reis tot hier" uiteen te sit. Die student Jaylee Gertse het daarna by die gesprek aangesluit en verduidelik watter rol die Teologiese Studentekomitee vervul om VGP-studente te ondersteun. De Villiers het ook vir kommentaar en voorstelle gevra wat Teologie in die ontwikkeling van sy mentorprogram kan gebruik. 

'n Verdere drie streekseminare word vir die jaar beplan, een by elk van die ander Wes-Kaapse instellings.

 

Kontakpersoon: Claudia Swart (claudias2@sun.ac.za)