Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Humboldt Navorsingstoekenning aan prof Guy Midgley, globale veranderingswetenskaplike
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 10/06/2019

Prof Guy Midgley, 'n toonaangewende kenner op die gebied van biodiversiteit en globale veranderingswetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, het die prestigeryke Humboldt Navorsingstoekenning van die Alexander von Humboldt Stigting in Duitsland ontvang.

Die toekenning gee erkenning aan 'n navorser vir sy/haar algehele prestasie tot op hede; en aan akademici wie se fundamentele ontdekkings, nuwe teorieë , of insigte 'n merkwaardige impak op hul eie vakdissipline gehad het, en wat na verwagting in die toekoms steeds uitnemend sal presteer.  

Die toekenning ter waarde van €60 000 ondersteun 'n verblyf van tot een jaar in Duitsland ten einde die navorser in staat te stel  om deel te neem aan 'n langtermyn navorsingsprojek met ekspert kollegas. Prof Steven Higgins, 'n ekoloog aan die Universiteit van Bayreuth, sal as prof Midgley se hoofgasheer optree. Hy sal egter ook met kundiges van die Universiteit van Frankfurt en van die  Senckenberg Sentrum vir Biodiversiteit en Klimaatsnavorsing (SBiK-F) in Frankfurt saamwerk.

Prof Midgley sê dit is 'n ongelooflike geleentheid om tyd te kan spandeer aan gefokusde navorsing by verskeie vooraanstaande instellings in Europa: “Ek sal primêr fokus op ongewone spesies en ekosisteemmodelleringsmetodes saam  met prof Higgins, met wie ek al 'n langtermyn samewerkingsverhouding het. Oor die afgelope vier jaar was ons betrokke by 'n gesamentlike poging tussen Duitsland en Suid-Afrika om 'n netwerk van terreine in Suid-Afrika te bou en uit te brei waar beide die ekosisteem as geheel, sowel as sy individuele komponentspesies, gemoniteer word ten opsigte van produktiwiteit, koolstofopname en waterverlies.

“Die data wat so verkry word, sal ons in staat stel om teorieë oor skakels tussen biodiversiteit en ekosisteemfunksionering te toets, sowel as die toekomstige veerkragtigheid van hierdie ekosisteme onder druk van klimaatsverandering te voorspel. Dit sal die eerste keer wees wat hierdie metodologie op so 'n wyse gebruik sal word," verduidelik hy.

Tot dusver is die werk gefinansier deur die SPACES-program van die Federale Ministerie van Onderwys en Navorsing (BMBF) in Duitsland, en die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting se program vir globale veranderingsuitdagings. SPACES is die akroniem vir “Science Partnerships for the Assessment of Complex Earth System Processes" en behels ook noue samewerking met die Suid-Afrikaanse Omgewingsobservasienetwerk (SAEON).

Hy sê die navorsingstoekenning skep ook nuwe geleenthede vir toekomstige nagraadse studente om hierby, en by verwante navorsingsprogramme betrokke te raak, om met internasionale kollegas te kan netwerk en baat te vind by 'n breër spektrum van kundigheid. 

Prof Midgley is verbonde aan die Departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch - http://www.sun.ac.za/afrikaans/faculty/science/botany-zoology/Pages/default.aspx

Foto: Stefan Els