Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Piketberger volg in Ouboet se voetspore as Maties se beste Hortologie-student
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 10/06/2019

Piketberger Herbst van der Merwe is vanjaar se ontvanger van die Hortgro Science/Daan Strydom-toekenning vir die beste finalejaarstudent in Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die aankondiging daarvan is gemaak by die HORTGRO Science tegniese simposium, wat aan die begin van Junie in Somerset-Wes gehou is.

Hy het verlede jaar sy BSc Agric-graad in Plant- en Grondwetenskappe cum laude behaal. Sy hoofvakke was Grondkunde en Hortologie.

Van der Merwe volg in die voetspore van sy broer, CP, wat in 2016 ook die toekenning as beste hortologiestudent ontvang het.

Volgens dr Lynn Hoffman, voorsitter van die Departement Hortologie, is Van der Merwe 'n besonderse student wat met passie en 'n oog vir detail sy studies aanpak. 

Van der Merwe het vanjaar begin met sy MSc-studies in Grondkunde, onder leiding van dr Eduard Hoffman van die US Departement Grondkunde in die Fakulteit AgriWetenskappe. Hy sal die invloed van deurlopende lae vloei drupbesproeiing op sitrusbome van nader bekyk. Meer spesifiek sal hy bestudeer hoe waterverspreiding in die grond lyk nadat 'n boord vir agt tot twaalf ure per dag  lae vloei drupbesproeiing geniet. Hy sal ook die effek daarvan bekyk op hoe sitrusbome se wortels groei en ondergronds versprei.

“Die meeste studies in hierdie verband is slegs op agronomiese eenjarige gewasse soos tamaties en koring gedoen," vertel hy.

Benewens sy akademiese belangstellings is Van der Merwe ook 'n kranige middelafstandatleet. Hy was in sy voorgraadse jare 'n inwoner van Huis Marais. Hy het in 2014 aan Hoërskool Piketberg as hoofseun en Dux-leerder gematrikuleer en is 'n oudleerder van Laerskool Eendekuil in die Swartland.

  • Foto: Herbst van der Merwe (regs) het die HORTGRO Science/Daan Strydom Prys vir die beste student in hortologie aan die Universiteit Stellenbosch ontvang. Dis aan hom oorhandig deur Stephen Rabe, voorsitter van HORTGRO Science Adviesraad. Foto: Carme Naude/HORTGRO Science