Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alumni ingesluit in Wynmakersgilde se Protégé-program
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 06/06/2019

Vier alumni van die Departement Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch is vanjaar deel van die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program. Hulle is aspirant-wynmakers Victoria Davis van die Paarl, Michael Topkin van Simonstad en Kelsey Shungking van Parklands in Kaapstad, asook wingerdboukundige Lucretia Adams van Delft.

Die protégé-program is in 2007 bekend gestel. Dit bied aan aspirant-wynmakers die geleentheid om sy aan sy saam met kenners te werk gedurende 'n driejaar-internskapsprogram.

Die program word befonds deur die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde Ontwikkelingstrust. Volgens 'n persverklaring deur die Gilde het die program ten doel om 'n volgende generasie van bekroonde wynmakers te kweek, om studente te bemagtig en om transformasie binne die bedryf te bevorder.

Gedurende hul internskapsperiode sal elke protégé een jaar lank by 'n ander lid van die Gilde werksaam wees. Sodoende sal hulle meer oor die wetenskap en kuns van wynmaak leer en eerstehandse ondervinding opdoen oor hoe 'n kelder bedryf word. Hulle sal weldra die kans kry om hul kennis toe te pas deur hul eie wyne te maak. Die protégés sal in hierdie tydperk ook na Frankryk reis om meer oor wynmaak daar te leer.

Victoria sal aanvanklik haar tyd spandeer by De Morgenzon as protégé van Carl van der Merwe. Michael sal saam met Beyers Truter by Beyerskloof werk, Kelsey saam met Louis Strydom by Stellenzicht, en Lucretia by De Grendel saam met Charles Hopkins.

Onderskrif:

Onder diegene wat ingesluit is in die 2019 groep van die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program is Universiteit Stellenbosch alumni Victoria Davis (bo links), Michael Topkin (bo regs), Kelsey Shungking (links onder) en Lucretia Africa (onder regs). Hier is hulle saam met Candice Barnes en Roger Cloete. Foto: Verskaf