Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Senaat aanvaar mosie oor die transformasie van navorsing en wetenskap aan die US
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 03/06/2019

​Die Senaat van die Universiteit Stellenbosch (US) het sy steun toegesê aan 'n “toegespitste en daadwerklike langtermyn- institusionele reaksie" op die kwessies wat die onlangse omstrede vaktydskrifartikel oor ras en kognisie deur vyf US-akademici na vore gebring het.

“Ons glo die Universiteit behoort 'n kernterrein te word vir die ontwikkeling van kritiek op ras in die wetenskap en navorsing, en vir die vestiging van verbandhoudende institusionele praktyke en prosesse," lui 'n mosie wat die Senaat op Vrydag 31 Mei 2019 by sy tweede geskeduleerde vergadering vir die jaar aanvaar het. (Klik hier vir die volledige teks.)

Die mosie is ingedien deur drie Senaatslede wat ook in die US Raad dien, tesame met tien van hulle Senaatskollegas. Ná deurtastende bespreking is dit eenparig aanvaar, op die voorwaarde dat die volgende vier konkrete voorstelle in die mosie na die aangeduide amp/entiteit verwys is vir verdere oorweging en hantering:

  1. Dat “oorweging geskenk word aan die instelling van 'n toegewyde kampuswye meganisme vir die transformasie van navorsing en wetenskap" – voorstel verwys na die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie (VR:NINS).

  2. Dat “oorweging geskenk word aan die aanbieding van 'n module oor teenrassisme, demokrasie en kritiese burgerskap vir alle eerstejaarstudente" – voorstel verwys na die Senaat se Akademiese Beplanningskomitee (ABK).

  3. Dat “die Navorsingskantoor 'n stel kortkursusse vir alle personeellede aanbied" oor onderwerpe soos “die gebruik van menslike kategorieë in navorsing en wetenskap" – voorstel verwys na die VR:NINS.

  4. Dat departemente soos Gender en Kritiese Rasstudie by die US se institusionele struktuur ingesluit word – voorstel verwys na die ABK.

By dieselfde Senaatsvergadering het prof Jimmy Volmink, Dekaan: Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, verwys na die “skok en beroering" wat personeellede en studente in die Departement Sportwetenskap weens die artikel beleef het. (Dié departement het aan die begin van die jaar na sy Fakulteit oorgeskuif.)

“Wat in hierdie departement gebeur het, kon in enige ander departement by hierdie Universiteit, maar ook by ander universiteite in Suid-Afrika gebeur het. So, ek glo nie enige van ons kan op die morele hoë grond aanspraak maak nie," het hy gesê.

“Ek wil dit duidelik stel aan ons kollegas dat ons elke lid van hierdie departement omarm en ook ons verantwoordelikheid aanvaar om met hulle saam te werk om die kwessies te probeer hanteer en te bepaal hoe dit in die toekoms vermy kan word."