Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-span onder finaliste in internasionale ekonometrie-kompetisie
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 24/05/2019

​ˈn Span studente van die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs aan die 2019 Ekonometrie-spele deelgeneem wat deur die Universiteit van Amsterdam aangebied is. Die Maties het 20 opponente geklop, insluitend die Universiteite van Harvard, Cambridge en Oxford, vir ˈn posisie onder die top tien en het na die finale rondte deurgedring.

Dertig universiteite neem jaarliks aan hierdie ekonometriekompetisie by die Universiteit van Amsterdam deel. Dit het so gewild geword dat mense soms daarna verwys as die Wêreldbeker in Ekonometrie. Deelnemende universiteite stuur elk 'n afvaardiging van vier studente wat 'n tegnies uitdagende gevallestudie in 'n beperkte tyd moet oplos.

Vanjaar het Martin Mwale, Petro van Eck, Roan Minnie en Willem Wilken (van links na regs op die foto hierbo) die Universiteit Stellenbosch verteenwoordig, wat die enigste Afrika-universiteit by die kompetisie was. Hulle is bygestaan deur ekonomie-dosent mnr Gideon du Rand.

Ná twee dae was die US-span onder die top tien wat deurgedring het tot die finale rondte op dag drie. Die finaliste moes 'n tweede gevallestudie oplos, waarna die wenner aangewys is.

Hoewel die spanne hulself vooraf intensief voorberei, is die gevallestudie wat hulle moet oplos, altyd 'n verrassing. Hulle word met veeleisende tegniese probleme en streng spertye gekonfronteer voordat hulle hul resultate in 'n skriftelike verslag moet voorlê.

Die tema van die 2019-spele was klimaat-ekonometrie. In die eerste rondte moes spanne die koolstofbegroting wêreldwyd, asook data afkomstig van die Wêreldwye Koolstofprojek, gebruik om die toename in die globale koolstofkonsentrasie in die atmosfeer tot die jaar 2100 te voorspel.

In die finale rondte is die eerste gevallestudie uitgebrei en moes 10 spanne aan die oplossing werk, 'n omvatttende verslag opstel en later op dieselfde dag 'n aanbieding daaroor maak.

Die wenners van die 2019 Ekonometrie-spele was die Universiteit van Melbourne (in die eerste plek), Maastricht Universiteit (tweede) en Aarhus Universiteit (derde).