Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie Matia verower 2de plek in nasionale FameLab-kompetisie
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 10/05/2019

Matia Mukama, 'n doktorale student in Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), het tweede geëindig in die 2019 Suid-Afrikaanse FameLab wetenskapkommunikasie- en redenaarskompetisie wat onlangs in Durban gehou is. Mukama het die US as die wenner van die US-uitdunronde by die nasionale eindronde verteenwoordig, waar hy teen 14 ander finaliste van navorsingsentrums en universiteite van regoor die land meegeding het.

Die wenner van die kompetisie was Keneilwe Moropa van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en die Tshwane Universiteit van Tegnologie, met Charmaine Tshangana van Unisa se Nanategnologie en Navorsingseenheid vir Watervolhoubaarheid wat derde geëindig het.

Finaliste moes by die nasionale eindronde hul navorsing met die gehoor deel en hulle is op inhoud, duidelikheid en charisma beoordeel.  

Mukama, wat nuwe kartonne ontwerp om die rakleeftyd van granate te verleng en terselfdertyd ook uitvoere te verhoog en arbeidskoste te verminder, het in reaksie op sy tweede plek gesê hy is baie bly oor hierdie prestasie, maar veral oor die wetenskapkommunikasievaardighede wat hy bekom het.

Hy het ook beklemtoon hoe belangrik dit is dat navorsers hul werk met die publiek deel.

“Dit is nou die tyd vir wetenskaplikes om tyd buite hul laboratoriums te spandeer en om mondelings en visueel ons sleutelmetodes en bevindinge met ander te deel. Daar rus 'n verpligting op wetenskaplikes om hul navorsing en bevindinge aan die algemene publiek oor te dra. As wetenskaplikes genereer ons 'n aansienlike klomp kennis en innovasies wat die publiek nodig het om hul lewens te verbeter."

Mukama het sy medenavorsers uitgedaag om hul wetenskaplike bevindinge te kommunikeer, en gesê innovasies en uitvindings bereik soms nie die gewenste doelwitte nie omdat dit agter jargon in wetenskaplike vaktydskrifte waarvoor subskripsie nodig is, asook op ander kommunikasieplatforms wat ontoeganklik is vir die publiek, weggesteek word.

Hy het bygevoeg dat politici die meeste van die tyd wetenskap wat goed verduidelik en maklik verstaanbaar is, nodig het om bewys-gebaseerde beleidsrigtings te kan beïnvloed.

Die internasionale ronde van die FameLab-kompetisie word in Junie in Cheltenham in die Verenigde Koninkryk gehou. Suid-Afrika is een van 30 lande wat aan FameLab deelneem.

  • ​Foto: Matia Mukama (links) saam met een van die beoordelaars prof Nceba Gqaleni by die FameLab-kompetisie. Krediet: Jive Media Africa​