Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Huistaks voorgestel om SA rykes te tap
Outeur: Francois Williams, Die Burger
Gepubliseer: 02/05/2019

Die volgende artikel deur Francois Williams is op 2 Mei 2019 in Die Burger (bl.13) gepubliseer:


'n Nasionale eiendomsbelasting as 'n vorm van belasting op rykes word voorgestel in 'n nuwe akademiese artikel wat die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing uitgegee het.

Prof Ingrid Woolard, hoof van die paneel wat nuwe kwytskeldings van belasting op toegevoegde waarde (BTW) ondersoek het, regter Dennis Davis, wat aan die hoof van die Davis-belastingkomitee was, en Samson Mbewe, 'n ekonomiese navorser van die Universiteit van Kaapstad, is die skrywers van die artikel. Woolard is dekaan van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe.

Munisipale waardasies

Woolard meen munisipale waardasies kan 'n goeie vertrekpunt vir 'n nasionale eiendomsbelasting wees.

Dit kom egter te midde van skerp kritiek teen die jongste munisipale waardasies wat Kaapstad en Johannesburg onlangs bekend gemaak het.

Hulle gee toe dat die munisipale waardasies van wisselende gehalte is en 'n nasionale eiendomsbelasting sal 'n omvattende poging verg om die gehalte van waardasierolle in alle munisipliteite en distriksrade te verbeter.

Wanbalans weens apartheid

Die skrywers meen 'n welvaartbelasting is nodig weens Suid-Afrika se ongelyke inkomsteverspreiding.

Die ongelyke verspreiding van rykdom skep 'n wanbalans in politieke mag, wat die rykes onbillik beïnvloed.

Die konsentrasie van welvaart in die hande van 'n klein groepie verminder volgens hulle die mobiliteit van welvaart en beperk die produktiewe gebruik daarvan in die samelewing.

Volgens die skrywers is die uiterste vlakke van welvaart-ongelykheid in Suid-Afrika die gevolg van die strukturele ongelykhede wat deur apartheid geskep is.

Dié ongelykhede word van geslag tot geslag oorgedra. Hulle meen die staat moet dus ingryp.

Deursigtigheid

Hulle wil hê die regering moet 'n welvaartbelasting skep wat betroubare data oor die welvaart van alle inwoners kan insamel.

Dit sal die integriteit van die inkomstebelastingstelsel verbeter, want die Suid-Afrikaanse Inkomstediens kan dan mense se inkomste en welvaart vergelyk.

Hulle gee wel toe dat ervaring in die buiteland wys dat die staatsinkomste uit 'n welvaartbelasting in die algemeen min is.

Hulle wil alle inwoners verplig om hul welvaart bekend te maak. “Dit sal 'n omgewing van deursigtigheid skep en sal mettertyd 'n baie duideliker beeld gee van die netto welvaartbelastingbasis in Suid-Afrika."

Dit sal verdere ontleding moontlik maak om vas te stel wat 'n doeltreffende koers vir die welvaartbelasting moet wees wat nie tot kapitaalvlug en belastingmigrasie lei nie, sê die skrywers.

Kritiek

Die sterkste kritiek wat gewoonlik teen enige welvaartbelasting aangevoer word, is juis dat dit die mense vervreem en verjaag wat deur hul entrepreneurskap en sakevernuf tot werkskepping en ekonomiese groei in die land bydra.

Ontleders voer aan die onlangse verhogings van die marginale belastingkoers tot 45% en ander belastings, soos boedel- en kapitaalwinsbelasting, is reeds vorme van welvaartbelasting in Suid-Afrika.

Woolard-hulle gee toe die waardasie van bates is van die grootste probleem met die skep van 'n doeltreffende welvaartbelasting. Dit is weens swak of te ingewikkelde waardasiemetodes of bloot die hoë administrasiekoste.

Daarom meen hulle eiendom, kontant en sekere finansiële bates is 'n maklike teiken. Hulle meen aftreefondse behoort uitgesluit te word omdat dit druk sal  plaas op spaarkoerse, en baie Suid-Afrikaners spaar reeds te min vir aftrede.

Hulle meen luuukse voertuie, kunswerke en juweliersware behoort uitgelsuit te word weens die probleme met waardasies.

G'n kitsoplossing

Woolard-hulle gee toe so 'n belasting is dalk nie die kitsoplossing om genoeg inkomste te genereer om die begrotingstekort uit te wis nie. Maar dit sal aansienlike geloofwaardigheid aan die oorhoofse belastingstelsel gee.

Hulle meen dit moet ook 'n inkomste-neutrale skuif toelaat van belasting op indiensneming (persoonlike inkomstebelating) na belasting op kapitaal en beleggingsinkomste.

 

Ongelykheid

  • In 2015 het die rykste 10% in Suid-Afrika meer as 90% van die land se totale welvaart besit, terwyl 80% van die land se mense byna niks besit het nie.
  • Die gemiddelde swart huishouding besit minder as 4% van die welvaart van 'n gemiddelde wit huishouding.