Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Topstudente in Rekenaarwetenskap vereer
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 29/04/2019

Die afdeling: Rekenaarwetenskap se toekenningsgeleentheid met prysgeld van R75 000, het vanjaar saamgeval met die tienjaarherdenking van die Andries van der Walt-medalje wat jaarliks aan die beste derdejaarstudent in Rekenaarwetenskap toegeken word.

Industrievennote, onder wie baie alumni van die afdeling: Rekenaarwetenskap in die Departement Wiskundige Wetenskappe, se borgskappe maak dit jaarliks moontlik om die topstudente in Rekenaarwetenskap te vereer vir hul prestasies, harde werk en toegewydheid. Prof Bernd Fischer, hoof van die afdeling, sê die toekenningsgeleentheid is een van die hoogtepunte van die jaar en hy het die industrieverteenwoordigers bedank vir hul volgehoue steun aan die afdeling en sy studente.

Me Andria Lubbe, VP programmatuurontwikkelaar van ACI en borg van die prys vir die beste tweedejaarstudent, sê US graduandi is internasionaal gesog, terwyl Wouter du Preez, hoofbedryfsbeampte van Epi-Use Labs en borg van die prys vir die beste honneursprojek in Rekenaarwetenskap, sê Suid-Afriks het 'n klomp talent in hierdie vakgebied.

Die topstudente in Rekenaarwetenskap vir 2018 is:

  • Beste eerstejaarstudent: Caleb Zeeman (prys geborg deur Techairos)
  • Beste tweedejaarstudent: Conrad Strydom (prys geborg deur ACI)
  • Beste derdejaarstudent en ontvanger van die Andries van der Walt-medalje: Johannes Coetzee (prys geborg deur Praelexis)
  • Beste honneurstudent in Rekenaarwetenskap: prys word gedeel deur Steyn van Litsenborgh en Lisa van Staden (prys geborg deur Cortex Logic, Entersekt en Impact Radius)
  • Beste honneursstudent in Datawetenskap: Lood van Niekerk (prys geborg deur Alphawave)
  • Beste honneurs BSc-projek: prys word gedeel deur Steyn van Litsenbourgh en Matthew Venter (prys geborg deur Cortex Logic en Epi-Use Labs)
  • Beste student in Masjienleer: prys word gedeel deur Carel Burger en Zhunaid Mohamed (prys geborg deur 4CGroup)

Ter viering van die tienjaarherdenking van die Andries van der Walt-medalje het die afdeling: Rekenaarwetenskap 'n kopie van die Fakulteit Natuurwetenskappe se eeufeesboek, 'n Besonderse denkwyse, aan me. Nettie van der Walt, weduwee van Prof Andries van der Walt oorhandig. Prof van der Walt was in die vroeë 2000s hoof van Rekenaarwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Onder sy leierskap is die afdeling tot een van die beste navorsingsomgewings in teoretiese rekenaarwetenskap in die land gevestig.