Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee US-navorsers ontvang FLAIR-beurse
Outeur: Rozanne Engel and Engela Duvenage
Gepubliseer: 25/04/2019

Dr Margreth Tadie, 'n dosent in die Departement Prosesingenieurswese, en dr Debra Rossouw, 'n biotegnoloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Wynbiotegnologie, is twee van 30 navorsers in Afrika wat gekies is om Future Leaders – African Independent Research (FLAIR)-postdoktorale navorsingsbeurse te ontvang. Hulle is uit sowat 700 aansoeke van regoor Afrika gekies.

FLAIR is 'n twee-jaar program van die Afrika Akademie vir Wetenskappe (AAW) en die Koninklike Genootskap (Royal Society) en word ondersteun deur die Verenigde Koninkryk se 'Global Challenges' Navorsingsfonds (GCRF) ondersteun. Die program gee impetus aan die loopbane van talentvolle jonger wetenskaplikes wat oplossings soek vir probleme wat belangrik is binne die konteks van Afrika, wat onafhanklike loopbane by instellings in Afrika en ook uiteindelik hul eie navorsingsgroepe wil vestig. Elke navorser ontvang £300,000 (R5 472 003) oor die loop van die twee jaar van die genootskap om hulle met hul onafhanklike navorsing te help. 

Dr Margreth Tadie

Dr Tadie is baie opgewonde oor die beurs wat haar lewe en beroep as navorser ten goede gaan beinvloed.

“Dit is 'n baie groot eer om hierdie beurs van hulle te ontvang. Hul doelwit is om navorsing in Afrika te ondersteun en om uitnemende navorsers in Afrika te help om leiers in hul vakgebiede te word. Ek is passievol oor die minerale hulpbronne in Afrika en wat hulle vir die vasteland kan beteken. Daar is so 'n ongelooflike rykdom in Afrika, maar as jy na die vasteland kyk, sien jy dat ons een van die armste vastelande in die wêreld is en ek is glad nie gelukkig daaroor nie. My hart lê regtig daarin om vas te stel hoe ons ons hulpbronne beter vir ons vasteland en ons mense kan aanwend."

Tadie sê sy besef dat die hierdie beurs 'n geweldige invloed op haar onderrig aan die US sal hê en sy hoop dat dit ook ander jong ingenieurs in Afrika sal aanspoor.

“Ek is baie bewus daarvan dat ek as vrou in die minderheid in die mynbou is, maar ek is so oop vir daardie uitdaging omdat ons meer rolmodelle nodig het. Terwyl ander vroue reeds baanbrekers was in ander bedrywe, is ek baie bewus van die feit dat ek die geleentheid om dieselfde te doen vir diegene wat ná my sal volg. Ons het meer vroue nodig wat dapper genoeg is om in te gaan en wat dapper genoeg is om baanbrekersnavorsing te doen, wat dapper genoeg is om op die myne te wees en goeie werk te doen. Ek hoop ook om ander deelagtig te maak aan my liefde vir verantwoordelike mynbou en ingenieurswese." 

Tadie se navorsingsprojek gaan spesifiek fokus op die afval wat deur goudmyne in Suid-Afrika agtergelaat is en sy wil 'n raamwerkstrategie ontwikkel wat volhoubare maniere om minerale te onttrek ondersoek, sodat minder afval in die proses gevorm word. Sy hoop dat hierdie raamwerkstrategie ook by ander myne aangewend sal word en dat dit uiteindelik beleidsverandering in mynbou teweeg sal bring.

In 2017 het Statistieke Suid-Afrika bevind dat die mynbedryf stadig besig is om op 'n jaarlikse grondslag af te neem. Die groot hoeveelheid mynafval wat agtergelaat word, het egter steeds 'n reuse-invloed op die omgewing in myngemeenskappe in Suid-Afrika en ook in die res van Afrika.

“Daar is tonne mynafval wat 'n nalatenskap van suksesvolle goudontginning is, maar daardie afvalshope neem spasie op en veroorsaak besoedeling. Dit het 'n groot uitwerking op die omgewing en hierdie projek is daarop gemik om maniere te vind en om 'n proses te ontwikkel om van hierdie afval ontslae te raak." 

 

Tadie se navorsing oor mynafval is nie net deur haar akademiese aspirasies aangespoor nie, maar haar diep persoonlike ervarings uit haar kinderjare op die stowwerige myne in haar geboorteland, Zimbabwe, het dit ook verder aangevuur.

“Op baie maniere is mynbou wie ek is. Ek het in 'n myngemeenskap grootgeword en vir die mense wat in hierdie gemeenskappe woon, is die myn hul lewensaar. Jou pa werk by die myn, jy werk by die myn, jou kinders werk by die myn en ongeag wat jou posisie is – of jy nou die laags- of hoogsbetaalde is, word die myn deel van jou. Hoewel ek nou in die akademie is en nie meer fisiek op die myn is nie, identifiseer ek steeds met die myn en ek hoop dat my navorsing sal help om mynbeleide in Afrika te verander."

Tadie se pa werk al vir meer as veertig jaar by die myn en sy sê die feit dat sy haar hele lewe lank al aan 'n mynbou-omgewing blootgestel is, het 'n reuse-invloed op haar besluit gehad om die negatiewe nagevolge van die bedryf te help verander.

“Ek het reg langs groot mynhope grootgeword en al daardie stof wat deur die fyn mynafval gevorm word en om in 'n omgewing te bly waar die plantegroei deur mynbedrywighede verniel is, het my by gebly. Sommige van die belangrikste negatiewe uitwerkings van mynbou kan voorkom word omdat baie van beleid en tegniese strategie afhang."

Dr Debra Rossouw

 Vir dr Rossouw beteken die FLAIR-navorsingsbeurs  dat haar navorsing oor die volgende twee jaar finansieel met 300 000 Britse pond ondersteun word. Sy sal ook daardeur waardevolle kontakte kan opbou, en inskakel by inisiatiewe rondom mentorskap en vaardigheidsontwikkeling wat die AAS aanbied.

Dr Rossouw doen navorsing as lid van die Instituut wat die enigste instituut van sy soort in Afrika is. Lede van hierdie multidissiplinêre instituut ondersoek enigiets van plante (soos wingerd, tabak en Arabidopsis) tot giste, bakterieë en mikro-alge.

Sy bestudeer die interaksie tussen verskillende soorte giste, en hul wisselwerking met spesifieke bakterieë en alge wat in industriële prosesse gebruik sou kon word. Sulke mikro-organismes is tipies tussen 1 en 6 duisendstes van 'n millimeter (of 1–6 mikrometer) in deursnee.

Dr Rossouw se navorsing gebeur alles op 'n mikroskaal, want sy bekyk een uiters fyn maar belangrike aspek van hierdie mikroörganismes – hul selwande. Sy bestudeer die gene en proteïene wat hierdie strukture beheer en beïnvloed. As deel van haar dagtaak gebruik sy 'n verskeidenheid tegnieke – van tradisionele molekulêre biologie metodes en mikroskopie tot rekenaarsimulasies en die heel nuutste tegnologie wat genetiese werk moontlik maak.

Dr Rossouw was die eerste wetenskaplike wat die beginsels agter 'n onderwerp genaamd ko-aggregasie of ko-flokkulering fyn uitgewerk het. Dit vind plaas wanneer die selwande van verskillende giste aan mekaar kleef of “gom". Dit gebeur volgens spesifieke patrone, afhangende van die spesie gis wat betrokke is. Sy het agtergekom dat hierdie wisselwerking in sommige gevalle die betrokke spesies help oorleef, en ander kere beslis weer nie.

“Mens kan hierdie interaksies gebruik vir bioherstel of om 'ekosisteme' op te bou. Mens sou dit kon gebruik om beter fermentasiemetodes te ontwikkel, of ander maniere te vind om afvalwater biologies eerder as chemies skoon te maak," verduidelik sy die waarde van haar werk.

Dr Rossouw hoop dat haar bevindinge eendag gebruik sal kan word om beter kommersiële fermentasiemetodes te ontwikkel en om die wynbedryf se groen voetspoor te vergroot. 

"My navorsing gaan oor meer as net praktiese toepassings. Dit help ons verstaan hoe die fisiese wisselwerking tussen verskillende spesies moontlik gelei het tot die evolusie van natuurlike ekosisteme waarin 'n klomp verskillende soorte mikroörganismes voorkom," voeg sy by.

Dr Rossouw het al verskeie navorsingstoekennings vir haar werk oor die afgelope dekade ontvang. Sy het in 2009 'n PhD in Wynbiotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Beginnende met 'n BSc in Biotegnologie in 2003, het sy al haar grade tot op MSc-vlak cum laude ontvang.

Dr Rossouw het in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal grootgeword en in 2000 aan Hoërskool Carter gematrikuleer. Sy woon buite die Paarl en is 'n geesdriftige bergfietsryer en veldloopatleet.

Die belangrikheid van programme soos FLAIR

FLAIR is een van ses postdoktorale programme wat deur die Afrika die Afrika Akademie vir Wetenskappe (AAW) en die Koninklike Genootskap (Royal Society) geïmplementeer word.

“Ons besef dat goedbeplande posdoktorale programme krities is vir die bevordering van uitnemendheid in wetenskap, navorsing en leierskap in Afrika," sê prof Felix Dapare Dakora, President van die AAW. “Ons wil die katalisator wees wat instellings in Afrika aanspoor om krities oor die rol en definisie van postdoktorale programme wat by hul behoeftes en doelwitte pas, te dink. Dit kan sosio-ekonomiese ontwikkeling in Afrika bevorder.

“Die wetenskaplikes wat as FLAIR-beurshouers gekies word, verteenwoordig die volgende generasie leidende wetenskaplikes in Afrika en ons is baie trots daarop om deel te wees van 'n program wat op so 'n deurslaggewende tydstip in hul loopbane in hulle belê," sê prof Richard Catlow, Buitelandse Sekretaris van die Koninklike Genootskap. “Die bevordering van die wetenskap en innovasie vir maatskaplike voordeel en vooruitgang speel 'n sleutelrol in die welstand van enige samelewing. Om in Afrika se wetenskaplike talent te belê, hou die grootste potensiaal in om wêreldwye uitdagings aan te spreek en om mense se lewensgehalte te verbeter."

  • Die volgende rondte FLAIR-aansoeke sluit Woensdag, 15 Mei 2019. 

Hooffoto: 

Dr Debra Rossouw staan in haar laboratorium, terwyl dr Margreth Tadie by die Ingenieurswese-gebou staan.