Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verwelkom Pierre de Vos as deel van Vryheidsdagpaneel
Outeur: Charl Linde
Gepubliseer: 25/04/2019
​Ter viering van Vryheidsdag later die week het die Universiteit Stellenbosch (US) se Transformasiekantoor onlangs 'n paneelbespreking oor “Vryheid van Uitdrukking in Suid-Afrika" by die US Museum aangebied, met prof Pierre de Vos, dieClaude Leon-stigting by die Universiteit van Kaapstad se voorsitter van Grondwetlike Regering; medeprofessor Nuraan Davids van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde; en twee studenteleiers, Carli van Wyk en Fanele Ndebele.

Vryheid van uitdrukking is vasgelê in die Suid-Afrikaanse Grondwet en is 'n onderwerp van groot belang in die openbare domein. Dink maar aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se onlangse bevindinge wat verband hou met uitsprake van die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) Julius Malema en die Steve Hofmeyr-kontroversie oor die Afrikaans is Groot-fees en die Ghoema-musiektoekennings. Binne die akademie is die reg op vryheid van uitdrukking nie net 'n saak van belang nie, maar word dit heilig gehou, met akademiese vryheid wat een van die hoekstene van die akademiese projek geag word. Onlangse debatte binne universiteite het egter hierdie 'vryheid' gekompliseer. By die Universiteit Stellenbosch was daar byvoorbeeld die besluit laas jaar deur Israeliese akademici om hulle aan die RRR Konferensie te onttrek nadat daar luid protes teen hul deelname aangeteken is; asook die veroordeling van die deelname van David Bullard aan 'n studentegeleentheid. Hierdie voorbeelde lei tot vrae oor die rol en verantwoordelikheid van universiteite wat betref vryheid van uitdrukking, en spesifiek akademiese vryheid. Moet universiteite eties en moreel standpunt inneem, of is dit 'n onderdrukking van intellektuele outonomie? Is daar perke aan die reg op vryheid van uitdrukking in 'n grondwetlike demokrasie, en indien wel, hoe vind akademiese instellings hul weg in dié verband?

As gas het professor Pierre de Vos die debat geopen deur 'n holruggeryde frase aan te haal wat mens dikwels hoor wanneer vryheid van uitdrukking ter sprake kom: “Al stem ek nie saam met wat jy sê nie, sal ek jou reg om dit te sê tot die dood toe verdedig." Nie so nie, het De Vos in sy repliek aangevoer en gevra of die deursneemens aan 'n universiteit soos Maties byvoorbeeld sou sterf vir die reg van 'n pedofilie verdediger om tydens 'n gradeplegtigheid te praat. Medeprofessor Nuraan Davids was volgende aan die woord en het aangevoer dat die deur nie teen andersdenkende of gevaarlike stemme gesluit behoort te word nie, aangesien daardie stemme betrek en uitgedaag moet word; anders sou hulle bloot weggelaat word. Davids het die voorbeeld genoem van studente wat nie so lank gelede nie Nazi-plakkate by die Universiteit Stellenbosch-kampus opgeplak het. Hoekom het hulle dit gedoen? Het hulle iets geleer uit wat gebeur het, of was hulle bloot aan die ontvangskant van veroordeling?

Wat doen mens egter as iemand gevaarlike en haatlike dinge sê eenvoudig omdat hulle dit kan doen, en vryheid van uitdrukking bloot as 'n vyeblaar aanwend? De Vos glo dat die veronderstelling dat almal intellektueel betrokke wil wees, vals is – wanneer mense haatlike dinge in 'n eggokamer van eendersdenkendes sê, wil hulle werklik uitgedaag word? Sê nou maar iemand is queerfobies of rassisties en wil eenvoudig rassistiese of queer-fobiese dinge sê? Verdien hierdie persoon om gehoor te word? Moet dit van swart of queer individue afhang om sulke individue op te voed en in te lig? Nee, want selfbehoud is van kritiese belang, het LLB-student Fanele Ndebele aangevoer, en verduidelik dat jy nie jou eie geestesgesondheid in gevaar moet stel om by sulke gevalle betrokke te raak nie. 'n Lid van die gehoor het sy hand opgesteek en gesê toe hy op skool was, is “blackface" bloot as “kostuumdrag" beskou, maar toe hy ouer word en universiteit toe is, het hy die implikasies van hierdie handeling en wat dit verteenwoordig, besef. Dit is volgens Ndebele 'n sleutelkwessie: dat mens jouself moet opvoed en dat jy graag wil leer. In haar reaksie het die Voorsitter van die SR, Carli van Wyk, die onderwerp tot haar daaglikse ervaring as 'n studente-leier aan 'n hoëronderwysinstansie in Suid-Afrika herlei. Sy glo dat universiteite platforms vir verskillende stemme moet wees, maar wonder wanneer universiteite moet intree en wanneer hulle moet swyg, en stem saam dat dit 'n grys area is. Dit maak nie saak watter optrede 'n universiteit uiteindelik in situasies neem waar vryheid van uitdrukking gedebatteer word nie, sê Van Wyk, dit moet bydra tot die skep van 'n beter en regverdige samelewing, soos die gees van die Grondwet dit bedoel.

Vir diegene wat nie by die geleentheid kon wees nie, is daar 'n samestelling van die inleidings deur elk van die paneellede, asook 'n fotoalbum van die geleentheid op die Facebook-bladsy van die Universiteit Stellenbosch se Transformasiekantoor (@sutransform).​