Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Departement Bos- en Houtkunde lewer rekordgetal PhD’s
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 25/04/2019

Van die inheemse Suid-Kaapse woude tot in Tanzanië, van die Miombo-gebied in Zambië tot in Noord-Ethiopië en Wes-Afrika - dit is waar die navorsing van die ses nuwe PhD-graduandi van Departement Bos en Houtkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) hulle geneem het. Dis 'n nuwe rekord vir die Departement. Die nuutgegradueerdes is dr Philip Crafford en dr GP Scheepers van Suid-Afrika, dr Francis Munalula van Zambië, dr Amani Jackson van Tanzanië, dr Haile Wale van Ethiopië, en dr Abiodun Alawode van Nigerië.

Die ses het suksesvol hul individuele drome nagestreef om 'n doktorsgraad gedurende die 2018 akademiese jaar agter hul naam te kan skryf. Saam simboliseer hulle die strewe van die Departement om navorsers en bestuurders in die bos- en houtsektor in Afrika se kennis uit te brei en te versterk.

"Die US Departement Bos- en Houtkunde is oor die afgelope dekade daartoe verbind om beide sy onderrig- en navorsingsuitsette te verbeter. Dit is dus baie bevredigend om studente te sien gegradueer, en dan veral ook in sulke rekordgetalle," sê dr Brand Wessels, voorsitter van die US Departement Bos- en Houtkunde.

Die Universiteit Stellenbosch is die enigste universiteit in Suid-Afrika wat 'n omvattende vierjaar BSc-graadprogram in beide Boskunde en Houtprodukkunde aanbied. Dit dek die hele bosbouwaardeketting. Dit is ook die enigste tersiêre instelling in Suid-Afrika wat 'n opvoedkundige aanbod op BSc, MSc en PhD vlakke bied in beide Bos- en Natuurlike Hulpbronne en Houtprodukkunde.

Daar is tans 135 voorgraadse studente en 35 nagraadse studente in die Departement Bos- en Houtkunde, waarvan 12 besig is om hul PhD's te voltooi.

"Ons klem val op die opleiding van veelsydige bestuurders en navorsers wat hul plekke kan volstaan in die houtverwerkings- en bosboubedrywe en die vaardighede het om tegnologie-oordrag sinvol te kan aanpak," sê dr Wessels. "Dit bied mededingende loopbaangeleenthede aan ons gegradueerdes, en stel hulle in staat om ook in verwante bedrywe werksaam te wees."

Studies oor klimaatsverandering

"Ons dien 'n sektor wat van kritieke belang is vir een van die grootste uitdagings van ons tyd - klimaatsverandering," reken dr Wessels. "As 'n Departement wil ons toenemend meer navorsing doen oor die gevolge daarvan, asook dit wat gedoen kan word om die impak daarvan op die bosboubedryf te kan verminder. Ons wil genoeg kundiges in hierdie verband oplei."

Daarom is die PhD in Houtprodukkunde wat deur dr Francis Munalula voltooi is, van belang. Hy het vasgestel of veranderende klimaatstoestande en uiterste weerstoestande, soos droogtes, 'n invloed het op drie hardehoutboomsoorte wat algemeen in die Zambiese Miombo-woudgebied groei.

Hy het die Msasa- of sebrahoutboom (Brachystegia spiciformis), die wilde syringa (Burkea Africana) en die Mupopa- of Mutoboboom (Isoberlinia angolensis) bestudeer.

Dr Munalula het bevind dat al drie boomsoorte hardnekkig genoeg is om die gevolge van laer reënval en stygende temperatuur te weerstaan. Hy het egter beduidende verskille gevind in die fisiese eienskappe van hout wat uit droër gebiede kom, of wat gegroei het tydens droogtetye.

"Dit sal 'n merkbare invloed hê op die gehalte van hout," verduidelik dr Munalula.

Hy het 'n model ontwikkel om te kan voorspel hoe die fisiese eienskappe van die drie bestudeerde boomspesies sal verander, gegewe die veranderinge in die klimaat wat oor die volgende vyftig jaar verwag kan word.

REDD+ was die agtergrond van dr Amani Jackson se doktorsgraad in Boswetenskap. Dit verwys na “Reducing Emissions from Deforestation and forest degradation, plus the sustainable management of forests and the conservation and enhancement of forest carbon stocks (REDD+), 'n inisiatief deur die Verenigde Nasies ondersteun. Dis 'n belangrike onderdeel van wêreldwye pogings om die impak van klimaatsverandering te versag.

Dr Jackson het meer uitgevind oor die houding van lede van die Kilosa-gemeenskap in Tanzanië teenoor REDD+. Hy het veral ondersoek ingestel na die wyse waarop deelnemende grondgebruiksplanne in die gebied die sinvolle bestuur en bewaring van plaaslike woudreservate in die dorpsgebied ondersteun.

Sy studie beklemtoon weer eens hoe belangrik deelnemende gemeenskapsverwante prosesse is wanneer bewustheid geskep word rondom grootskaalse planne soos REDD+, en wanneer dit by die implimentering daarvan kom.

"Dit sal uiteindelik bosbestuur en bewaring verbeter," glo hy. "Die samewerking van gemeenskappe in inisiatiewe soos REDD+ sal ook verbeter as daar benewens koolstoffinansiering ook ander voordele kan wees."

Studie van woude

Dr GP Scheepers het die faktore wat 'n invloed het op die wyse waarop semi-volwasse dennebome in die Tsitsikamma-streek van die Suid-Kaap, kunsmis opneem. Hy het sy studies in Boswetenskap voltooi deur agt eksperimentele erwe van Pinus elliottii en Pinus elliotii x caribaea te bestudeer. Hy het ag geslaan op die invloed van klimaatsomstandighede, die eienskappe van die grond en die beskikbaarheid van water, stikstof en fosfor daarin.

Hy het onder meer bevind grond met 'n te hoë / te lae pH-vlak sy natuurlike vermoë verloor om stikstof te mineraliseer. Hierdie aspek is belangrik omdat dit plante help om kunsmis optimaal op te neem. Die volume water in die grond het nie die groei van bome beperk nie.

Dr Scheepers sê dat aanwysers soos die vlakke van grondstikstof, anaerobies geïnkubeerde stikstof en aërobiese geïnkubeerde fosfor moet word wanneer bosbouaktiwiteite beplan word.

"Ek hoop hierdie bevindings help bosbestuurders in die Tsitsikamma-streek om die doeltreffendheid van hul kunsmisregimes aansienlik te verbeter," sê hy.

Vir sy PhD het dr. Haile Wale drie Afromontane-woude in die noordweste van Ethiopië in meer detail bestudeer. Die woude is Alem Saga, Gelawudiwos en Tara Gedam.

Hy het plantspesies op 150 plekke in die woude ingesamel, en deeglik kennis geneem van die grondtoestande, die hoogte en helling van elkeen van die terreine wat ondersoek is. Hy het inligting versamel oor plantspesies wat saam groei, asook oor hoe spesifieke omgewingsfaktore, soos die beskikbaarheid van lig en blaarmassa plante se groei beïnvloed.

"Die studie verskaf basiese ekologiese inligting oor die spesies wat in hierdie woude groei en kan help dat die gebiede meer volhoubaar bestuur en bewaar word," meen dr Wale.

Hout en gom

Dr Philip Crafford van die Departement Bos- en Houtkunde het sy PhD in Houtprodukkunde ontvang. Hy het die omgewingsvolhoubaarheid van sekere boupraktyke in Suid-Afrika vergelyk. Hy het vasgestel dat die gebruik van hout en houtverwante produkte in konstruksie 'n heelwat kleiner omgewingsimpak het as geboue wat met byvoorbeeld sement, baksteen en staal opgerig word.

"Die graderingsproses waarvolgens ons geboue 'n sogenaamde “groen" status verkry gee ongelukkig nog nie genoegsaam erkenning aan die omgewingsvriendelike voordele van hout nie," voeg hy by.

Hy hoop dat Suid-Afrikaanse huiseienaars toenemend hout as boumateriaal sal oorweeg, omdat dit 'n hernubare bron is. Hy reken dis 'n manier waarop huishoudings hul omgewingsvoedspoor kan verklein, en in die proses hul impak op aardverwarming kan verminder.

Formaldehiedgebaseerde kleefmiddels gemaak van nie-hernubare petrochemiese bronne word wyd gebruik om saamgestelde houtprodukte te vervaardig. Omdat dit egter 'n wye reeks gesondheidsgevare inhou, soek die bedryf na alternatiewe maniere waarop houtkleefmiddels vervaardig kan word.

Met hierdie doel in gedagte het dr Abiodun Alawode die moontlike gebruik van die saadpitte van twee spesies Afrika-of wilde mango, Irvingia gabonensis en Irvingia wombolu ondersoek.

"Die bevindinge wys dat Irvingia-gebaseerde houtkleefmidddels net so goed werk soos formaldehiedgebaseerde kleefmiddels. Dit is dus 'n ekovriendelike basis waaruit houtgom gemaak kan word," verduidelik dr Alawode, wat 'n PhD in Houtprodukkunde behaal het.

Vir verdere inligting oor die Departement Bos- en Houtkunde, besoek http://www.sun.ac.za/english/faculty/agri/forestry of kontak dr Brand Wessels by cbw@sun.ac.za

 
Hooffoto-onderskryf: By die April 2019-gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch het dr. Philip Crafford, dr. Abiodun Alawode, dr Francis Munalula en dr. Haile Wale doktorsgrade ontvang.

 DrJackson.jpg

Dr Amani Jackson

 DrGPScheepers.jpg

Prof Danie Brink, dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, het dr GP Scheepers gelukgewens.

__________________________________________________________________________________