Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fin besoek die US se Afdeling vir Navorsingsontwikkeling
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 10/04/2019

Die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Navorsingsontwikkeling het onlangs gasheer gespeel vir 'n kollega wat aan die ander kant van die aardbol by die Universiteit van Turku in Finland werk. Lauri Keskinen se besoek van tien dae is moontlik gemaak deur 'n uitruilprogram tussen navorsingsbestuurders en -administrateurs by universiteite in Suider-Afrika en die Europese Unie (EU).

Dit vloei voort uit the Strengthening of Collaboration, Leadership and Professionalisation in Research Management in SADC and EU projek (onder deelnemers bekend as die StoRM projek). 'n Konsortium van tien universiteite in Suider-Afrika en die EU neem hieraan deel, en die Universiteit Stellenbosch neem die leiding daarin. Storm word befonds deur die EU Erasmus + -program. In breë ondersteun dit die professionele ontwikkeling van personeellede wat betrokke is by die bestuur en administrasie van navorsingsverwante aktiwiteite in Suider-Afrika en die EU.

Dit is in 2017 van stapel gestuur. Sedertdien het dit twee soorte uitruilprogramme vir personeel moontlik gemaak. Een is tussen die tien vennote wat formeel by die internasionale StoRM-konsortium betrokke is, terwyl die ander deur die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Navorsings- en Innovasiebestuur (SARIMA) geadministreer word. Laasgenoemde bied geleenthede aan personeellede van instansies wat nie formeel deel van die internasionale konsortium is nie.

Keskinen is een van nege mense wat baat gevind het by die SARIMA-uitruilprogram. By die Universiteit van Turku werk hy as spesialis-navorsingsfondswerwer. Hy help sosiale wetenskaplikes en navorsers wat in die veld van die geesteswetenskappe werk om aansoek te doen vir toepaslike befondsing wat hul werk kan ondersteun. Keskinen het 'n doktorsgraad gedoen oor die kulturele geskiedenis van sport in Finland. Hy vertel dat sy ervaring as 'n eertydse koerantjoernalis hom dikwels goed te pas kom wanneer hy raad aan navorsers moet gee oor hoe om 'n spesifieke navorsingsvoorstel te skryf.

Hy is waarskynlik die eerste besoeker van die Universiteit van Turku aan Stellenbosch. Turku het sewe fakulteite en ongeveer 25 000 studente. Keskinen sê hy het die Universiteit Stellenbosch gekies om te besoek omdat die instelling omtrent die dieselfde grootte en struktuur as Turku het. Tydens sy besoek het hy ook kollegas by die Universiteit van Kaapstad (UK) en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) besoek. Hy het aanbiedings gedoen oor Turku en die universiteit se navorsingsadministrasiestrukture. Hy het ook deelgeneem aan 'n seminaar oor EU-befondsing saam met kollegas van die US, UK en UWK.

"Een van my hooftake is om navorsers voortdurend te motiveer om positief te bly oor die skryf van navorsingsvoorstelle, want net omtrent een uit elke 10 aansoeke is ooit suksesvol," verduidelik hy die realiteit wat navorsers in sy land ook in die gesig staar.

Hy sê die uitruilprogram het hom die geleentheid gebied om sy vlerke te versprei, en om homself op 'n professionele vlak te meet. Hy het waardevolle insigte verkry oor die funksionering van ander navorsingskantore.

So het hy dit byvoorbeeld as vanselfsprekend geneem dat alle universiteite 'n sentrale databasis soos wat die Universiteit van Turku gebruik om befondsingsaansoeke te prosesseer en te stoor. Hy sê so 'n sisteem vergemaklik algemene projekbestuur en die interne goedkeuring van aansoeke. Kollegas met wie hy tydens sy verblyf in Suid-Afrika in kontak was, was baie geïnteresseerd in dié stelsel, en hy kon hulle met raad bedien.

Hy hoop dat verdere samewerking sal voortspruit uit sy besoek aan die Wes-Kaap. "Mens kan soveel meer wen as verloor deur saam te werk en netwerke te bou," glo hy.

Vir meer inligting oor die Storm-projek, besoek Facebook-blad RMA Professionals of die projek se webblad.