Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Herbst wys aanhouer wen
Outeur: Corporate Communications/Sandra Mulder
Gepubliseer: 05/04/2019

​Die blinde Suid-Afrikaanse Paralimpiese swemmer en houer van verskeie wêreldmedaljes, Hendri Herbst, ontvang Vrydag, 5 April sy LLM (meestersgraad in die regte) by die sesde April-gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US).

Hendri, wat oorspronklik van Letsitele naby Tzaneen in Limpopo, kom en nou op Stellenbosch woon, het daarin geslaag om sy meestersgraad te voltooi ten spyte van verskeie uitdagings soos swemoefensessies, navorsing vir sy meestersgraad en visuele gestremdheid.

Hy sê die jaar 2018 was vir hom moeiliker as die vorige jaar. Hy het gesukkel om 'n balans tussen sy studies en swemoefensessies te vind, maar danksy sy deursettingsvermoë het hy die pyp gerook.

“Ek het dit reggekry om by die werkslading aan te pas en het eintlik die jaar geniet. Ek moet sê, die akademiese werk het 'n bietjie van my tyd geniet as swem," sê Hendri, wat dit glad nie eens oorweeg om 'n ruskans te neem voordat hy met sy doktorale studies begin nie.

“Ek gaan dadelik met my doktorale studies begin. Ek moet aanhou terwyl ek nou aan die gang is," sê hy soos 'n ware kampioen wat nie wil spoed verloor in 'n swembad nie.

Die Internasionale kantoor van die US het Herbst ook die geleentheid gebied om aansoek te doen vir 'n gesamentlike PhD-graad tussen Stellenbosch en die Hasselt-universiteit in België. Sodra die befondsing hiervoor gefinaliseer is, spring hy aan die werk met sy studies. Danksy die ooreenkoms sal hy drie maande per jaar by Hasselt deurbring.

Hendri Herbst (3) - Copy.jpg

Herbst het ook verlede jaar die nuus gehaal toe hy 'n saak van diskriminasie gewen het teen 'n restaurant wat sy vorige gidshond, Stand, toegang tot die restaurant geweier het. Hierdie voorval het plaasgevind toe Hendri en sy familie die restaurant in Desember 2014 besoek het. Stan is in Desember 2017 dood aan kanker.

Die gelykheidshof se bevel was 'n skikking tussen Hendri en die restaurant. Laasgenoemde moes R50 000 se skadevergoeding aan Herbst betaal en moes ook 'n skenking van R50 000 aan die Suid-Afrikaasne Gidshondvereniging maak. 

“Ek is tevrede met die uitslag van die hofsaak. Ek hoor sommige restaurante het sedertdien hul naamborde verander om 'n nuwe kennisweging in te sluit wat lui: 'Geen diere nie, behalwe gidshonde'."

Sy nuwe hond, Julian, raak al hoe meer geheg aan Hendri en hulle word oral saamgesien. Julian sal selfs saam met Hendri die podium bestyg wanneer hy Vrydag sy graad in ontvangs neem.

“Dit gaan goed met hierdie jong hond. Ek bederf hom bietjie; hy slaap selfs in my kamer op my bed."

Hendri oefen tans vir die IPC- wêreldkampioenskapbyeenkoms wat in Augustus vanjaar plaasvind. Hy sal aan die 50 m- en 100 m-vryslagnommers deelneem.

  • Hendri het 'n bronsmedalje by die 2012 Paralimpiese Spele in Londen verower, asook goud en silwer by die 2016 Europese kampioenskappe.
  • Hy is gedeeltelik blind gebore weens glasagtige hiperplasie en sekondêre gloukoom. Met die verloop van tyd het hy die res van sy sig ook verloor.
  • Hendri was net ses weke oud toe sy ouers hom vir 'n teenverdrinkingsklas ingeskryf het as 'n voorsorgmaatreël weens sy slegte sig. Dit is waar sy liefde vir swem begin het.

    Hooffoto: Hendri Herbst op die verhoog tydens die gradeplegtigheid op 5 April 2019. Fotograaf: Stefan Els ​
    Foto : Hendri Herbst sit saam met sy gidshond Julian.